Markus 3:20-35

Markus 3:20-35 AFR20

Hy het 'n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. •Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde. ” Want hulle het gesê: “Hy het 'n onrein gees.” Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 'n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid