MARKUS 3:20-35

MARKUS 3:20-35 Bybel vir almal (ABA)

Daarna het Jesus huis toe gegaan. Daar het weer so baie mense bymekaargekom dat Hy en sy dissipels nie kon eet nie. Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie. As die mense van 'n land nie met mekaar kan saamwerk nie, dan kan hulle nie aanhou lewe nie. En as die mense van 'n huisgesin nie met mekaar kan saamwerk nie, dan sal daardie huisgesin nie bymekaar bly nie. Wat julle sê, beteken dat die Satan teen homself baklei, en dat hy nie met homself kan saamwerk nie. As dit so is, dan kan hy niks meer doen nie, en dan is dit sy einde. 'n Mens kan nie maklik in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel. Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal mense vergewe wanneer hulle sonde doen en sleg praat van iemand. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie. So iemand sal altyd skuldig wees.” Jesus het dit gesê omdat die mense gesê het: “Hy het 'n onrein gees in hom.” Jesus se ma en sy broers het na Hom toe gekom. Hulle het buite bly staan, en hulle het 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. Baie mense het rondom Jesus gesit. Hulle het vir Hom gesê: “Kyk, jou ma en jou broers en jou susters is daar buite en hulle soek jou.” Jesus het vir hulle gevra: “Wie is my ma en my broers?” Hy kyk toe na die mense wat in 'n kring rondom Hom sit, en Hy sê: “Hierdie mense is my ma en my broers. Elkeen wat doen wat God wil hê, is my broer of my suster of my ma.”

MARKUS 3:20-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN hulle het in 'n huis gegaan, en 'n skare het weer saamgekom, sodat hulle selfs nie brood kon eet nie. Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en vir hulle deur gelykenisse gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie; en as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar hy kom tot 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof as hy nie eers die sterk man boei nie; en dan sal hy sy huis berowe. Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel — omdat hulle gesê het: Hy het 'n onreine gees. SY broers en sy moeder het toe gekom, en terwyl hulle buite staan, stuur hulle na Hom om Hom te roep. En 'n skare het rondom Hom gesit Hulle sê toe vir Hom: U moeder en u broers soek U daarbuite. En Hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers? En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.

MARKUS 3:20-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Jesus huis toe gegaan. 'n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om 'n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.” Jesus het hulle nader geroep en hulle met voorbeelde geantwoord: “Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as 'n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie. As die Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie bly staan nie, maar is dit sy einde. “Bowendien kan niemand in 'n sterk man se huis ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.” Dit het Hy gesê omdat hulle gesê het: “Hy is van 'n onrein gees besete.” Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. 'n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

MARKUS 3:20-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het 'n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. •Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde. ” Want hulle het gesê: “Hy het 'n onrein gees.” Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 'n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

MARKUS 3:20-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die skare het weer bymekaargekom, sodat hulle nie soveel as brood kon eet nie. En toe sy vriende dit hoor, het hulle uitgegaan om hom aan te gryp, want hulle het gesê: Hy is buite homself. En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem afgekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul, en deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit. En Hy het hulle na Hom geroep en in gelykenisse vir hulle gesê: Hoe kan die Satan die Satan uitdryf? En as 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bestaan nie. En as 'n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie. En as die Satan teen homself opstaan en verdeeld is, kan hy nie standhou nie, maar het 'n einde. Niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan en sy besittings buit nie, tensy hy eers die sterk man bind; en dan sal hy sy huis verwoes. Voorwaar Ek sê vir julle, alle sondes sal aan die mensekinders vergewe word, en lastering waarmee hulle ook al laster. Maar hy wat teen die Heilige Gees laster, het nooit vergifnis nie, maar is in gevaar van die ewige verdoemenis. Omdat hulle gesê het: Hy het 'n onrein gees. Daar het toe sy broers en sy moeder gekom en buite gestaan en na hom gestuur en hom geroep. En die skare het rondom hom gaan sit en vir hom gesê: Kyk, jou moeder en jou broers soek jou van buite. En hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers? En hy het rondom gekyk na die wat rondom hom sit, en gesê: Hier is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dit is my broer en my suster en moeder.

MARKUS 3:20-35 Die Boodskap (DB)

Jesus is toe weer huis toe. Die mense het so om Hom saamgedrom dat Hy en sy dissipels nie eens ’n kans gekry het om te eet nie. Jesus het die wonderlikste dinge gedoen wat geen gewone mens kon doen nie. Toe sy familie daarvan hoor, het hulle inderhaas na Jesus toe gekom om Hom te kom haal, want hulle het gesê: “Hy het van sy kop af geraak.” Die kenners van die Joodse wet wat van Jerusalem af gekom het, het weer gesê: “Dit is Beëlsebul, die hoof van die duiwelse geeste, wat in hom bly. Die einste Beëlsebul help hom ook om die duiwelse geeste te verjaag.” Jesus roep hulle toe en verduidelik vir hulle met ’n voorbeeld hoe verkeerd hulle regtig is. “Hoe kan Satan homself uitdryf? ’n Regering waarin groepe gedurig onder mekaar baklei, kan mos nêrens kom nie. ’n Gesin waarin elkeen heeltyd die ander een boikot, sal mos uitmekaarspat. Met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, gaan daar niks van hom oorbly nie. Dan is dit verby met hom. Aan die ander kant kan ’n mens ook nie in ’n sterk man se huis instap en vat wat jy wil hê nie. Jy moet eers sorg dat die sterk man vasgebind is voordat jy sulke dinge kan doen. Sowaar, Ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.” Dit het Jesus gesê omdat daar mense was wat beweer het dat ’n bose gees in Hom werk. Jesus se ma en broers kom toe juis daar aan. Hulle het buite gewag en iemand gevra om Jesus te gaan roep. Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. “Jou ma en broers wag hier buite vir jou,” sê hulle. Jesus sê toe: “Wie is regtig my ma en broers?” Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie. “Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma.”

MARKUS 3:20-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie. Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.” Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie prins van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.” Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra. “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie! En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie! Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom. Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof. “Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.” Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was. Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom. Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters staan buite en vra na U!” Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?” Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers. Elkeen wat aan God gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid