Markus 3:20-35

Markus 3:20-35 ABA

Daarna het Jesus huis toe gegaan. Daar het weer so baie mense bymekaargekom dat Hy en sy dissipels nie kon eet nie. Toe Jesus se familie dit hoor, het hulle gegaan om Hom daar weg te vat, want party mense het gesê: “Hy is mal!” Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, is in hom. Beëlsebul help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Jesus het die mense geroep om nader te kom en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “Hoe kan die Satan homself uitjaag? Hy kan nie. As die mense van 'n land nie met mekaar kan saamwerk nie, dan kan hulle nie aanhou lewe nie. En as die mense van 'n huisgesin nie met mekaar kan saamwerk nie, dan sal daardie huisgesin nie bymekaar bly nie. Wat julle sê, beteken dat die Satan teen homself baklei, en dat hy nie met homself kan saamwerk nie. As dit so is, dan kan hy niks meer doen nie, en dan is dit sy einde. 'n Mens kan nie maklik in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel. Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal mense vergewe wanneer hulle sonde doen en sleg praat van iemand. Maar as iemand iets sleg sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie. So iemand sal altyd skuldig wees.” Jesus het dit gesê omdat die mense gesê het: “Hy het 'n onrein gees in hom.” Jesus se ma en sy broers het na Hom toe gekom. Hulle het buite bly staan, en hulle het 'n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. Baie mense het rondom Jesus gesit. Hulle het vir Hom gesê: “Kyk, jou ma en jou broers en jou susters is daar buite en hulle soek jou.” Jesus het vir hulle gevra: “Wie is my ma en my broers?” Hy kyk toe na die mense wat in 'n kring rondom Hom sit, en Hy sê: “Hierdie mense is my ma en my broers. Elkeen wat doen wat God wil hê, is my broer of my suster of my ma.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid