Markus 14:1-26

Markus 14:1-26 AFR20

Die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood sou twee dae later plaasvind. Die leierpriesters en skrifkenners het 'n manier gesoek om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk ontstaan nie.” Terwyl Hy in Betanië in die huis van Simon die Melaatse vir ete aangeleun het, het daar 'n vrou met 'n albasterfles egte, baie duur nardusolie gekom, die albasterfles gebreek en die nardusolie oor sy kop uitgegiet. Sommige het verontwaardig onder mekaar gesê: “Waarom het hierdie verkwisting van die kosbare reukolie plaasgevind? Hierdie olie kon vir meer as driehonderd denarius verkoop word, en dit kon aan die armes gegee word.” En hulle het teen haar uitgevaar. Jesus het egter gesê: “Laat haar begaan! Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle tog altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle hulle help; maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon doen, het sy gedoen. Sy het vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer. Hulle was bly toe hulle dit hoor, en het beloof om vir hom geld te gee. Daarop het hy na 'n manier gesoek om Hom op 'n gepaste geleentheid oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid