MARKUS 14:1-26

MARKUS 14:1-26 Bybel vir almal (ABA)

Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het skelm planne probeer maak om Jesus te vang en dood te maak. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.” Jesus het in Betanië in die huis van Simon die melaatse man geëet. Daar kom toe 'n vrou en sy het 'n mooi klip-kruikie gehad. In die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die kruikie oopgebreek en sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi. Party van die mense het kwaad geword daaroor en hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom mors sy die olie? Sy kon dit verkoop het en meer as 300 silwer geldstukke gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.” Hulle het met haar geraas. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Los haar. Hoekom pla julle haar? Sy het vir My iets gedoen wat goed is. Die arm mense is altyd by julle en wanneer julle vir hulle goed wil doen, dan kan julle dit doen. Maar Ek sal nie altyd by julle wees nie. Hierdie vrou het gedoen wat sy kon doen. Sy het die lekkerruik-olie oor My gegooi sodat my liggaam gereed kan wees vir my begrafnis. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense die goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.” Judas Iskariot was een van die twaalf dissipels. Hy het na die priesterleiers toe gegaan om Jesus te verraai. Toe die priesterleiers dit hoor, was hulle bly en hulle het belowe om vir Judas geld te gee. Judas het 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, toe die mense die paaslam moes slag, het Jesus se dissipels vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in Jerusalem in. 'n Man wat water in 'n kruik dra, sal na julle toe kom. Gaan saam met hom. Hy sal in 'n huis ingaan, en julle moet vir die eienaar van daardie huis sê: ‘Ons Meneer vra waar is die kamer waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.’ Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat nodig is vir die ete, is daar. Julle moet alles gereedmaak vir die Paas-ete sodat ons daar kan eet.” Die dissipels het gegaan en hulle het in Jerusalem gekom. Hulle het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.” Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg.

MARKUS 14:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien 'n oproer onder die volk kom nie. EN toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit. En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind? Want dit kon vir meer as driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar. Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar. EN Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle oor te lewer. En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer. EN op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet? En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom, en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak. En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei. En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet. Toe het hulle begin om bedroef te word en een vir een aan Hom te sê: Is dit miskien Ek? En 'n ander een: Is dit miskien ek? En Hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nooit meer van die vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God. En toe hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

MARKUS 14:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar.” Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na 'n plan gesoek om Hom by 'n geskikte geleentheid te verraai. Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ Hy sal julle dan 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.” Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei. Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?” Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

MARKUS 14:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood sou twee dae later plaasvind. Die leierpriesters en skrifkenners het 'n manier gesoek om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk ontstaan nie.” Terwyl Hy in Betanië in die huis van Simon die Melaatse vir ete aangeleun het, het daar 'n vrou met 'n albasterfles egte, baie duur nardusolie gekom, die albasterfles gebreek en die nardusolie oor sy kop uitgegiet. Sommige het verontwaardig onder mekaar gesê: “Waarom het hierdie verkwisting van die kosbare reukolie plaasgevind? Hierdie olie kon vir meer as driehonderd denarius verkoop word, en dit kon aan die armes gegee word.” En hulle het teen haar uitgevaar. Jesus het egter gesê: “Laat haar begaan! Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle tog altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle hulle help; maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon doen, het sy gedoen. Sy het vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis. •Amen, Ek sê vir julle: Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.” Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer. Hulle was bly toe hulle dit hoor, en het beloof om vir hom geld te gee. Daarop het hy na 'n manier gesoek om Hom op 'n gepaste geleentheid oor te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. •Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die •koninkryk van God sal drink nie.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.

MARKUS 14:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Na twee dae was die fees van die pasga en die fees van die ongesuurde brode; Maar hulle het gesê: Nie op die feesdag nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk sal wees nie. En terwyl hy in Betanië in die huis van Simon die melaatse was, terwyl hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste boks met baie kosbare nardussalf; en sy het die boks gebreek en dit op sy kop uitgegooi. En daar was sommige wat in hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarom is hierdie verkwisting van die salf gemaak? Want dit kon vir meer as driehonderd pennings verkoop gewees het en aan die armes gegee gewees het. En hulle het teen haar gemurmureer. En Jesus sê: Laat haar staan; waarom pla julle haar? sy het 'n goeie werk aan my gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar aan My het julle nie altyd nie. Sy het gedoen wat sy kon: sy het vooraf gekom om my liggaam te salf vir die begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig sal word, sal ook daarvan gespreek word wat sy gedoen het tot 'n gedagtenis van haar. En Judas Iskariot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hom aan hulle te verraai. En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om vir hom geld te gee. En hy het gesoek hoe hy hom gerieflik kon verraai. En op die eerste dag van die ongesuurde brode, toe hulle die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan en berei dat U die pasga kan eet? En Hy het twee van sy dissipels uitgestuur en vir hulle gesê: Gaan na die stad, en daar sal vir julle 'n man ontmoet wat 'n kruik water dra; volg Hom. En waar hy ook al ingaan, sê vir die eienaar van die huis: Die Meester sê: Waar is die gastekamer waar Ek die pasga saam met my dissipels sal eet? En hy sal jou 'n groot bovertrek wys wat toegerus en gereed is; maak daar vir ons gereed. En sy dissipels het uitgegaan en in die stad gekom en gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga berei. En in die aand kom hy met die twaalf. En terwyl hulle sit en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle wat saam met My eet, sal My verraai. En hulle het begin bedroef word en een vir een vir Hom sê: Is dit ek? en 'n ander een sê: Is dit ek? En hy antwoord en sê vir hulle: Dit is een van die twaalf wat saam met my in die skottel doop. Die Seun van die mens gaan wel weg, soos van Hom geskrywe is, maar wee die mens deur wie die Seun van die mens verraai is! goed was dit vir daardie man as hy nooit gebore was nie. En terwyl hulle eet, neem Jesus brood en seën en breek dit en gee aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. En Hy neem die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle; en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed van die nuwe testament, wat vir baie vergiet word. Voorwaar Ek sê vir julle, Ek sal nie meer van die vrug van die wingerdstok drink nie, tot op daardie dag dat Ek dit nuut sal drink in die koninkryk van God. En nadat hulle 'n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

MARKUS 14:1-26 Die Boodskap (DB)

Die groot fees van die Jode, die paasfees, en nog ’n ander fees, naamlik die fees van die ongesuurde brood, was om die draai. Dit was nog maar twee dae voor die feestelikhede met mening sou begin. Die godsdienstige leiers van die Jode in Jerusalem het aan allerhande agterbakse planne gedink om Jesus te vang en te laat doodmaak. “Ons kan dit nie doen terwyl die mense feesvier nie, want dan het ons ’n opstand onder die mense,” het hulle geredeneer. In daardie stadium was Jesus nog in Betanië. Hy het by Simon, wat melaats was, gaan eet. ’n Vrou kom toe die eetkamer in. By haar het sy ’n potjie baie duur parfuum gehad wat van nardus gemaak was. Sy het die potjie oopgemaak en alles op Jesus uitgegooi, veral op sy hare. Van die ander mense aan tafel was baie omgekrap. Hulle het eers so onderlangs gemompel en toe vir die vrou gesê: “Hou op, hoekom mors jy die parfuum so? Ons kon dit maklik gaan verkoop en amper ’n jaar se salaris daarvoor gekry het. Dink net hoeveel arm mense kon ons met daardie geld gehelp het.” Hulle het sommer lelik met haar geraas. Jesus sien toe wat aangaan. “Los haar! Waarom kraak julle haar so af? Wat sy vir My gedoen het, beteken vir My baie. Dit is so ’n mooi gebaar. Onthou een ding: julle kan later die arm mense help, want daar sal altyd van hulle wees. Julle sal meer as genoeg kans kry om dit te doen. Maar Ek gaan nie altyd so by julle wees nie. Sy het hierdie parfuum oor My uitgegooi terwyl sy nog kon. Hierdie liggaam van My gaan binnekort in ’n graf lê. Sy het egter die parfuum betyds oor My uitgegooi terwyl Ek nog hier by julle is. Sowaar, waar mense in die toekoms oor My gaan praat, gaan hulle oor haar ook praat. Dit maak nie saak waar dit is nie, maar hulle sal haar onthou.” Omtrent in daardie tyd het Judas, een van die twaalf getroue volgelinge van Jesus, besluit om teen Hom te draai. Hy is na die Joodse godsdienstige leiers toe om te hoor of hy hulle kon help om Jesus te vang. Die godsdienstige leiers was natuurlik baie bly om dit te hoor. Hulle het vir hom ’n hele klomp geld beloof as hy hulle sou help. Judas het sy kans mooi afgewag om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die fees waarop hulle teruggedink het aan die ongesuurde brood wat Israel in Egipte moes eet, is die lam vir die paasfees ook geslag. Juis toe vra Jesus se volgelinge Hom: “Waar moet ons vir ons die paasete gaan regmaak?” Jesus stuur toe twee van sy volgelinge: “Gaan Jerusalem toe. Daar sal julle ’n man kry wat ’n emmer water dra. Loop agter hom aan tot hy by ’n huis ingaan. Sê dan vir die man aan wie die huis behoort: ‘Jesus, wat die mense so van God vertel, vra waar die kamer is waar Hy en sy volgelinge die paasete kan eet.’ Hy sal julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van die huis vat. Alles sal klaar regstaan. Daar moet julle die kos vir die ete begin voorberei.” Die twee volgelinge is toe daar weg en in Jerusalem het hulle alles net so gekry soos Jesus gesê het. Hulle het toe die kos vir die paasfees begin regmaak. Teen die aand se kant het Jesus met sy ander volgelinge ook daar aangekom. Aan tafel sê Jesus toe vir hulle: “Ek het ’n belangrike ding om vir julle te sê. Een van julle wat nou hier saam met ons sit en eet, gaan My in die rug steek.” Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?” “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy. Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.” Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe.

MARKUS 14:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterhoofde en die skrifkenners was nog op soek na ’n geleentheid om Jesus in die geheim te vang en dood te maak. Want hulle het saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders ontstaan daar oproer onder die volk.” Intussen was Jesus in Betanië by die huis van Simon, die man wat van ’n ernstige velsiekte genees is. Tydens die ete kom daar ’n vrou in met ’n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit. Sommige van dié wat saam aan tafel was, was verontwaardig daaroor. “Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?” het hulle gesê. “Ons kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop het en die geld vir die armes gegee het.” En hulle het haar uitgetrap. Jesus het hulle egter geantwoord: “Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik? Sy het ’n weldaad aan My gedoen. Die armes sal julle altyd by julle hê, en julle kan enige tyd wanneer julle so voel, aan hulle goeddoen. Maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie. Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis. “Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!” Daarop het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan om met hulle reëlings te tref oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer. Toe hulle dit hoor, was hulle verheug en het hulle hom ’n bedrag geld beloof. Hy was toe op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood – die dag waarop hulle die paaslammers geslag het – sê Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U die paasete gaan voorberei?” Hy stuur toe twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan stad toe. Daar sal julle ’n man sien wat ’n kruik water dra. Gaan agter hom aan en waar hy indraai, moet julle vir die huiseienaar sê: ‘Die Leermeester vra: Waar is die gastekamer waar Ek die Paasfees saam met my dissipels kan geniet?’ Dan sal hy vir julle ’n groot bovertrek wys wat klaar gereed staan. Dáár kan julle vir ons die maaltyd voorberei.” Toe het die twee vooruit gegaan stad toe, en hulle het alles presies gekry soos Jesus vir hulle gesê het. En hulle het die paasmaaltyd voorberei. Teen die aand het Jesus toe saam met die twaalf dissipels daar aangekom. Terwyl hulle besig was om te eet, sê Jesus: “Ek sê nou vir julle, een van julle gaan My uitlewer, een van julle wat nou hier saam met My eet.” Geweldig geskok vra hulle toe een vir een vir Hom: “Dit kan tog sekerlik nie ek wees nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Hy is een van julle twaalf, een wat saam met My sy brood in die bak week. Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!” Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid