Markus 14:1-26

Markus 14:1-26 ABA

Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het skelm planne probeer maak om Jesus te vang en dood te maak. Hulle het gesê: “Ons moet dit nie doen wanneer die mense Paasfees vier nie, want dan sal hulle kwaad word en almal sal skree en raas.” Jesus het in Betanië in die huis van Simon die melaatse man geëet. Daar kom toe 'n vrou en sy het 'n mooi klip-kruikie gehad. In die kruikie was daar baie duur lekkerruik-olie. Sy het die kruikie oopgebreek en sy het die olie op Jesus se kop uitgegooi. Party van die mense het kwaad geword daaroor en hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom mors sy die olie? Sy kon dit verkoop het en meer as 300 silwer geldstukke gekry het. Dan kon sy die geld vir die arm mense gegee het.” Hulle het met haar geraas. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Los haar. Hoekom pla julle haar? Sy het vir My iets gedoen wat goed is. Die arm mense is altyd by julle en wanneer julle vir hulle goed wil doen, dan kan julle dit doen. Maar Ek sal nie altyd by julle wees nie. Hierdie vrou het gedoen wat sy kon doen. Sy het die lekkerruik-olie oor My gegooi sodat my liggaam gereed kan wees vir my begrafnis. Ek sê vir julle, en dit is seker: Oral in die wêreld waar die mense die goeie boodskap bring, sal hulle ook praat oor hierdie vrou en wat sy gedoen het. Die mense sal haar onthou.” Judas Iskariot was een van die twaalf dissipels. Hy het na die priesterleiers toe gegaan om Jesus te verraai. Toe die priesterleiers dit hoor, was hulle bly en hulle het belowe om vir Judas geld te gee. Judas het 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, toe die mense die paaslam moes slag, het Jesus se dissipels vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons gaan gereedmaak sodat U die Paas-ete kan eet?” Jesus het twee van sy dissipels gestuur en vir hulle gesê: “Gaan in Jerusalem in. 'n Man wat water in 'n kruik dra, sal na julle toe kom. Gaan saam met hom. Hy sal in 'n huis ingaan, en julle moet vir die eienaar van daardie huis sê: ‘Ons Meneer vra waar is die kamer waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.’ Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat nodig is vir die ete, is daar. Julle moet alles gereedmaak vir die Paas-ete sodat ons daar kan eet.” Die dissipels het gegaan en hulle het in Jerusalem gekom. Hulle het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit aand geword het, het Jesus en die ander dissipels daar aangekom. Hulle het by die tafel gesit en hulle was besig om te eet. Toe het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai. Hy eet nou saam met My.” Die dissipels het baie hartseer geword. Elke dissipel het vir Jesus gevra: “Is dit ek?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit is een van julle twaalf dissipels, die een wat sy brood saam met My in die sous druk. Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos die profete oor My geskryf het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” Terwyl hulle geëet het, het Jesus brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood, dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels, en hulle het almal daarvan gedrink. Jesus sê toe vir hulle: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir baie mense sal vloei, is die bloed van die verbond. Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek sal nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek nuwe wyn sal drink by God wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid