Miga 5:6-14

Miga 5:6-14 AFR20

Die oorblyfsel van Jakob sal tussen al die nasies wees soos dou wat van die HERE kom, soos sagte reën op gras, wat niks van 'n mens verwag nie, geen hoop op mense vestig nie. Die oorblyfsel van Jakob sal tussen die nasies, te midde van baie volke, soos 'n leeu tussen wilde diere wees, soos 'n jong leeu onder 'n trop kleinvee: As hy verbygaan en vertrap en verskeur, is daar niemand wat red nie. Mag jy die oorhand hê oor jou teenstanders; ja, al jou vyande – laat hulle uitgeroei word!” “Op daardie dag,” is die uitspraak van die HERE, “sal Ek jou perde wat by jou is, uitdelg, en jou strydwaens vernietig. Ek sal ook die stede in jou land uitdelg en al jou versterkte stede afbreek. Ek sal die towery waarmee jy besig is, uitdelg, en jy sal nie meer waarsêers hê nie. Ek sal jou afgodsbeelde en gedenkstene wat in jou midde is, uitdelg, en jy sal nie meer voor jou eie handewerk in aanbidding buig nie. Ek sal jou asjeras wat in jou midde is, uitruk, en jou stede verwoes. Ek sal in toorn en woede wraak neem op die nasies wat nie luister nie.”