MIGA 5:6-14
MIGA 5:6-14 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete wat nog lewe, sal wees soos dou wat van die Here kom na baie volke toe. Hulle sal wees soos goeie reën wat die gras groen laat word. Die Israeliete wat nog lewe, sal tussen al die volke wees soos leeus wat tussen wilde diere loop, of soos leeus wat tussen 'n klomp skape loop en hulle doodbyt. Niemand kan die diere uit die leeus se bekke ruk nie. Die Israeliete sal hulle vyande almal doodmaak.” Maar die Here sê: “Ek sal daardie dag julle perde doodmaak en julle oorlogkarre verwoes. Ek sal die stede in julle land verwoes, Ek sal hulle sterk mure afbreek. Ek sal die goed waarmee julle toor, uit julle hand ruk. Daar sal nie meer mense by julle wees wat dink hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. Ek sal julle beelde en julle klip-pale verwoes. Julle sal nie meer buig voor afgode wat julle self gemaak het nie. Ek sal julle gewyde pale uitruk en julle stede verwoes. Ek sal die volke swaar straf wat nie geluister het na My nie.”
MIGA 5:6-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die HERE, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen mensekind vertoef nie. En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos 'n leeu onder die diere van die woud, soos 'n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red. Jou hand sal bo jou teëstanders verhewe wees, en al jou vyande sal uitgeroei word. En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig. Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek. Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie. En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie. En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes. En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie.
MIGA 5:6-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees, hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op groen gras wat nie vir 'n mens wag nie, nie na mense kyk nie. Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen die nasies wees, tussen baie volke, hulle sal daar wees soos 'n leeu tussen wild of tussen 'n trop skape: hy verskeur as hy tussen hulle deurstap, hy vang sy prooi, en niemand kan dit uit sy bek ruk nie. Mag jy jou teenstanders oorweldig, Israel, mag al jou vyande uitgeroei word! Daardie dag, sê die Here, sal Ek jou perde uitroei, jou strydwaens vernietig. Ek sal die stede van jou land vernietig, al jou vestingstede afbreek. Ek sal jou toorgoed wegvat uit jou hand, daar sal nie meer waarsêery by jou wees nie. Ek sal jou afgodsbeelde vernietig, jou klippilare by jou afbreek. Jy sal nie meer jou handewerk aanbid nie. Ek sal jou gewyde pale uitruk, jou stede verwoes. In my toorn en gramskap sal Ek die nasies straf wat nie na My luister nie.
MIGA 5:6-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die oorblyfsel van Jakob sal tussen al die nasies wees soos dou wat van die HERE kom, soos sagte reën op gras, wat niks van 'n mens verwag nie, geen hoop op mense vestig nie. Die oorblyfsel van Jakob sal tussen die nasies, te midde van baie volke, soos 'n leeu tussen wilde diere wees, soos 'n jong leeu onder 'n trop kleinvee: As hy verbygaan en vertrap en verskeur, is daar niemand wat red nie. Mag jy die oorhand hê oor jou teenstanders; ja, al jou vyande – laat hulle uitgeroei word!” “Op daardie dag,” is die uitspraak van die HERE, “sal Ek jou perde wat by jou is, uitdelg, en jou strydwaens vernietig. Ek sal ook die stede in jou land uitdelg en al jou versterkte stede afbreek. Ek sal die towery waarmee jy besig is, uitdelg, en jy sal nie meer waarsêers hê nie. Ek sal jou afgodsbeelde en gedenkstene wat in jou midde is, uitdelg, en jy sal nie meer voor jou eie handewerk in aanbidding buig nie. Ek sal jou asjeras wat in jou midde is, uitruk, en jou stede verwoes. Ek sal in toorn en woede wraak neem op die nasies wat nie luister nie.”
MIGA 5:6-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle sal die land Assirië verwoes met die swaard en die land van Nimrod by die ingange daarvan; so sal Hy ons verlos van Assirië as hy in ons land kom en as hy binne ons grondgebied gaan. En die oorblyfsel van Jakob sal tussen baie volke wees soos 'n dou van die HERE, soos reënbuie op die gras, wat nie vertoef vir 'n mens en nie wag op die mensekinders nie. En die oorblyfsel van Jakob sal onder die heidene wees te midde van baie volke soos 'n leeu onder die diere van die bos, soos 'n jong leeu onder die troppe skape; stukke, en niemand kan aflewer nie. U hand sal opgehef word oor u teëstanders, en al u vyande sal uitgeroei word. En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig. En Ek sal die stede van jou land uitroei en al jou vestings afbreek. En Ek sal towerye uit jou hand uitroei; en jy sal geen waarsêers meer hê nie; En Ek sal jou gesnede beelde uitroei en jou standbeelde uit jou midde; en jy mag nie meer die werk van jou hande aanbid nie. En Ek sal jou bosse uit jou midde uitruk, en Ek sal jou stede verwoes.
MIGA 5:6-14 Die Boodskap (DB)
“Nee,” antwoord Miga toe, “die waarheid is net mooi andersom. Die mense van Israel wat die straf van die Here oorleef het, sal vir ander nasies baie beteken. Hulle sal soos dou of reën wees wat die Here verniet gee. Hulle is van die Here afhanklik om te lewe.” “Die mense van Israel wat oorgebly het, sal onder die nasies wees soos ’n leeu onder wilde diere is. Mense sal vir hulle bang wees omdat hulle sterk is. Hulle sal soos ’n leeu wees onder ’n trop skape wat hulle verjaag en verskeur. Niemand sal kom om hulle te help nie. Die mense van Israel sal hulle vyande onverwags aanval en oorwin. Niks sal van hulle oorbly nie,” het die opponente gesê. En Miga antwoord toe: “Die Here sê: ‘Wanneer die tyd kom waarvan Ek praat, sal die volgende gebeur: Ek sal julle wapens en militêre mag heeltemal vernietig. Daar sal ook niks van al julle stede oorbly nie, selfs nie dié met die groot hekke en sterk mure om nie. Ek sal ook ontslae raak van al julle toorkunsies en van julle waarsêers. Verder sal Ek ook al julle afgodsbeelde en die klippilare vernietig wat julle opgesit het om eer aan die gode te bring. Julle sal nooit weer neerbuig voor die goed wat julle met julle hande gemaak het nie. Ek sal die houtpale uitruk wat julle geplant het om die godin van vrugbaarheid te vereer. Ek sal ook julle stede verwoes waar julle hierdie gode aanbid het. Omdat Ek baie kwaad is, sal Ek wraak neem op al die nasies wat aan My ongehoorsaam is.’”
MIGA 5:6-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die mense van Israel wat oorbly, sal tussen die talle volke wees soos dou wat die HERE stuur. Hulle sal wees soos reën wat op die gras val. Geen mens het beheer daaroor nie. Dié van Israel wat oorbly, sal soos ’n sterk leeu tussen die talle volke wees. Die ander volke sal wees soos hulpelose skape, niemand sal hulle kom red nie. Israel sal teen hulle teenstanders in opstand kom, hulle sal al hulle vyande uitroei. Die HERE sê: “In dié tyd sal Ek ook al jou perde en jou strydwaens vernietig. Ek sal jou mure platslaan en al jou vestings afbreek. Ek sal jou heksery stopsit en jou waarsêers uitroei. Ek sal al jou afgode en jou klippilare vernietig. Jy sal nooit weer jou eie handewerk aanbid nie. Jou gewyde pale vir die vrugbaarheidsgodin sal Ek vernietig en jou stede verwoes. Ek sal in woede wraak neem op al die nasies wat weier om My te gehoorsaam.”