Matteus 7:15-29

Matteus 7:15-29 AFR20

“Wees op julle hoede vir die vals profete wat in skaapsklere na julle kom, maar in hulle binneste wolwe is wat verskeur. Aan hulle vrugte sal julle hulle uitken. Pluk 'n mens miskien druiwe van doringstruike of vye van dissels? Net so dra elke goeie boom goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Aan hulle vrugte sal julle hulle dus uitken. “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ” “Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos 'n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit nie ineengestort nie, omdat dit stewig op rots gevestig was. Maar elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie uitvoer nie, sal soos 'n onverstandige man wees wat sy huis op sand gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit ineengestort, en die ineenstorting was geweldig.” Toe Jesus sy redevoering voltooi het, was die skare verstom oor sy lering, omdat Hy hulle geleer het soos iemand met gesag en nie soos hulle skrifkenners nie.