Matteus 6:24-34

Matteus 6:24-34 AFR20

“Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges? “Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die •koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Video vir Matteus 6:24-34