Matteus 5:21-30

Matteus 5:21-30 AFR20

“Julle het gehoor dat daar aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’ Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. “En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe. “Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. •Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie. “Julle het gehoor dat daar gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. “As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid