MATTEUS 5:21-30

MATTEUS 5:21-30 NLV

“Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord. “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer. “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi. “Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid