Matteus 27:1-56

Matteus 27:1-56 AFR20

Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan •Pilatus, die prokurator, uitgelewer. Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien. ” Hy het toe die silwerstukke in die •tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. Die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie toelaatbaar om dit in die skatkis te gooi nie, aangesien dit bloedgeld is.” Hulle het toe 'n besluit geneem, en met die geld die grond van die pottebakker aangekoop as 'n begraafplaas vir •vreemdelinge. Daarom word daardie grond tot vandag toe Bloedgrond genoem. Toe is die uitspraak van die profeet Jeremia vervul: “Hulle het die dertig silwerstukke, die prys waarteen Hy deur die kinders van Israel gewaardeer is, geneem en dit vir die grond van die pottebakker gegee, net soos die Here my beveel het.” Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: “Is u die koning van die Jode? ” Jesus sê toe: “U sê dit.” Die hele tyd wat Hy deur die leierpriesters en familiehoofde beskuldig is, het Hy niks geantwoord nie. Daarop sê •Pilatus vir Hom: “Hoor u nie wat hulle alles teen u getuig nie?” Hy het hom egter op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die prokurator uitermate verwonderd was. By elke fees het die prokurator die gebruik gehad om vir die skare een gevangene van hulle eie keuse vry te laat. Hulle het in daardie stadium 'n berugte gevangene aangehou met die naam Jesus Barabbas. Toe die skare byeen was, het •Pilatus vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat, Jesus Barabbas of Jesus wat as Christus bekend staan?” Want hy het geweet dat hulle Hom uit naywer oorgelewer het. Terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou 'n boodskap na hom gestuur: “Jy moet niks te doen hê met daardie •regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie oor hom verduur.” Die leierpriesters en die familiehoofde het die skare egter oorreed dat hulle op Barabbas moes aandring, en dat hulle Jesus moes laat doodmaak. Die prokurator het hulle weer gevra: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle het geroep: “Barabbas!” Pilatus vra hulle toe: “Wat moet ek dan maak met Jesus wat as Christus bekend staan?” Hulle roep toe almal uit: “Laat Hy gekruisig word!” Hy het gevra: “Maar watter kwaad het hy dan gedoen?” Hulle het egter nog harder geskreeu: “Laat Hy gekruisig word!” Toe Pilatus sien dat hy niks bereik nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Julle moet maar self toesien. ” Die hele volk het geantwoord: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” Daarop het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar Jesus het hy laat gesel, en toe oorgelewer om gekruisig te word. Toe het die soldate van die prokurator vir Jesus na die pretorium saamgeneem, en die hele kohort soldate by Hom byeengebring. Hulle het sy klere uitgetrek en 'n helderrooi mantel om Hom gehang. Nadat hulle 'n kroon van doringtakkies gevleg het, het hulle dit op sy kop gesit, en 'n riet in sy regterhand. Hulle het voor Hom gekniel en met Hom die spot gedryf: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die riet geneem, en Hom herhaaldelik op sy kop geslaan. Nadat hulle met Hom gespot het, het hulle die mantel afgehaal, sy boklere vir Hom aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. Op pad na buite het hulle 'n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by 'n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met 'n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Daarna het hulle daar gaan sit en Hom bewaak. Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring, wat gelui het: “Hy is Jesus, die koning van die Jode. ” Toe is twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou – as jy die •Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!” Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners en familiehoofde die spot gedryf en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie. Hy is die koning van Israel, laat hy nou afkom van die kruis, en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat Hy hom nou red as Hy wil. Hy het immers gesê: Ek is die Seun van God. ” Op dieselfde manier het ook die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig. Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van dié wat daar staan, dit hoor, het hulle gesê: “Hy roep na Elia.” Dadelik het een van hulle nader gehardloop, 'n spons geneem, dit in suur wyn geweek, op 'n riet gesit, en vir Hom gegee om te drink. Maar die ander het gesê: “Wag, laat ons sien of Elia hom kom red.” Toe het Jesus weer met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape •heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik •Seun van God.” Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 27:1-56

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid