MATTEUS 27:1-56

MATTEUS 27:1-56 Die Boodskap (DB)

Met sonsopkoms het die Joodse leiers hulle besluit beklink: Jesus moes doodgemaak word. Daarom het hulle Hom geboei en na Pilatus, die goewerneur, gestuur. Judas, wat Hom verraai het, het alles mooi dopgehou. Toe hy agterkom wat die Joodse leiers oor Jesus besluit het, het hy vreeslik sleg gevoel. Sy gewete het hom begin pla. Hy het die omkoopgeld gevat en dit vir die Joodse leiers gaan teruggee. “Dè, vat! Ek het ’n groot fout gemaak. Ek het ’n onskuldige man in die moeilikheid laat beland.” “Dit is jou saak. Dit pla ons nie,” sê die Jode. Judas gooi toe die geld net daar in die tempel neer en hardloop weg. Later het hulle hom gekry waar hy homself opgehang het. Die priesters het die geld gevat en gesê: “Dit is jammer, maar ons kan nie hierdie geld as kollekte vir die tempel vat nie. Dit is mos geld wat vir iemand se lewe betaal is.” Hulle het besluit om die geld te gebruik om ’n begraafplaas aan te skaf vir vreemde mense wat nie familie in Jerusalem gehad het om hulle te begrawe nie. Hulle het ’n stuk grond by ’n pottebakker gekoop. Daarom is daardie begraafplaas tot vandag toe nog bekend as “Bloedgrond”. Dit was net soos die profeet Jeremia lank terug gesê het: “En hulle het die 30 stukke silwer gevat, die prys wat die Israeliete op sy kop gesit het, en dit vir die grond van die pottebakker betaal. Dit is die Here se instruksies aan my.” Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur. “Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus. Hy het egter niks gesê op die aanklagte van die Joodse leiers nie. Pilatus gaan toe voort: “Luister net wat hierdie mense alles oor jou sê. Wil jy nie jouself verdedig nie?” Tot die goewerneur se verbasing wou Jesus nie ’n woord sê nie. Die goewerneur het gewoonlik met die fees ’n gevangene vir die mense losgelaat. Hulle kon self kies wie. Daar was toe juis ’n sekere Jesus Barabbas in die tronk. Hy was ’n baie berugte terroris. Pilatus sê vir die mense: “Ek gee julle die keuse. Wie wil julle hê moet ek loslaat, Jesus Barabbas of Jesus, die een wat Christus genoem word?” Pilatus het diep in homself geweet dat die Joodse leiers net jaloers was op Jesus. Om hierdie gevoel van hom te versterk het iets anders ook nog gebeur. Terwyl die hofsaak aan die gang was, het Pilatus se vrou hom laat weet: “Ek het vannag die verskriklikste nagmerrie oor daardie man gehad. Hy is onskuldig. Los hom!” Die Joodse leiers het intussen die mense omgepraat om te vra dat Barabbas losgelaat en Jesus doodgemaak moes word. Pilatus vra hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” skreeu hulle. “Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?” “Kruis toe met hom!” skreeu hulle soos een man. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?” Hulle het hulle nie aan sy vraag gesteur nie, maar net harder geskreeu: “Kruis toe met hom!” Pilatus het agtergekom dat hy dit nie gaan regkry om Jesus los te laat nie. Die mense het net al hoe rumoeriger geword. Hy het besef dat dit ’n oproer kon veroorsaak. Hy kry toe ’n bak water en was sy hande daar voor almal. “Ek wil niks meer met die saak te doen hê nie. Wat verder gebeur, is nie my skuld nie. Gaan doen julle nou wat julle wil.” Die hele volk roep daarop: “Moenie bekommerd wees nie. Ons sal die verantwoordelikheid dra, ons en ons kinders!” Pilatus het Barabbas losgelaat en Jesus laat gesel. Daarna het hy gesê dat hulle Jesus maar kon kry om Hom te kruisig. Die goewerneur se soldate het Jesus in Pilatus se paleis ingevat en ’n klomp ander soldate geroep. Hulle pluk toe sy klere van Hom af en trek vir Hom pers klere aan. Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan. Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het. Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Jesus toe daar gekruisig. Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel. Skielik word alles oor daardie hele gebied donker. Tussen twaalfuur en drie-uur was dit donker. Teen drie-uur skreeu Jesus hard: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Hom gehoor en gesê: “Hy roep Elia!” Een van hulle gaan haal ’n spons met suur wyn en gee dit vir Hom op ’n stok. “Wag so ’n bietjie,” sê ’n ander, “laat ons kyk of Elia hom nie dalk sal kom afhaal nie.” Al wat egter gebeur het, was dat Jesus hard geskreeu het en toe dood is. Net toe het die gordyn wat die vertrekke in die tempel verdeel het, middeldeur geskeur van bo na onder. Die aarde het gebewe en rotse het verkrummel. Grafte het oopgegaan en baie gelowige mense wat reeds begrawe was, het uit die grafte gekom. Hulle is Jerusalem in. Daar het baie mense hulle gesien. Die offisier en die ander soldate wat daar by die kruis diens gedoen het, het hierdie aardbewing en al die ander dinge wat gebeur het, staan en bekyk. Dit het hulle baie bang gemaak. “Hy was sowaar die Seun van God,” het hulle gestamel. Heelwat vroue het op ’n afstand gestaan en kyk. Hulle het Hom van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, asook die ma van die Sebedeus-broers.

MATTEUS 27:1-56 Bybel vir almal (ABA)

Vroeg die volgende oggend het al die priesterleiers en die familieleiers van die volk planne gemaak teen Jesus om Hom dood te maak. Hulle het Jesus met boeie vasgemaak en Hom weggevat en hulle het Hom vir die goewerneur Pilatus gegee om Hom te straf. Judas wat vir Jesus verraai het, het gehoor dat die Joodse Raad besluit het dat Jesus skuldig is en dat Hy moet sterf. Judas was toe jammer en hy het die 30 silwer geldstukke teruggegee vir die priesterleiers en die familieleiers. Hy het gesê: “Ek het sonde gedoen, want ek het 'n onskuldige man verraai, en nou moet Hy sterf.” Maar die priesterleiers en die familieleiers het vir hom gesê: “Dit is nie ons probleem nie! Dit is jou probleem!” Judas het toe die geld in die tempel gegooi en hy het weggegaan en homself opgehang. Die priesterleiers het die geld geneem en gesê: “Ons kan dit nie by die tempel se geld sit nie, want dit is bloedgeld.” Hulle het saam planne gemaak, en toe het hulle die geld geneem en hulle het die grond van die pottebakker gekoop sodat hulle vreemdelinge daar kon begrawe. Daarom noem die mense daardie stuk grond vandag nog “Bloedgrond.” So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het: “ Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem, dit is hoeveel die Israeliete besluit het ek moet kry. En hulle het dit betaal vir die grond van die pottebakker, want dit was wat die Here vir my gesê het.” Jesus het voor die goewerneur Pilatus gestaan. Die goewerneur het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus het vir hom gesê: “Jy sê self Ek is.” Die priesterleiers en die familieleiers het vir Jesus beskuldig, maar Hy het niks geantwoord nie. Pilatus vra toe weer vir Jesus: “Hoor jy al hierdie dinge wat hulle teen jou sê?” Maar Jesus het nie een van die goewerneur se vrae geantwoord nie. En die goewerneur was baie verbaas. Elke jaar wanneer die Jode Paasfees vier, het die goewerneur een gevangene uit die tronk laat uitkom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees. In daardie tyd was daar 'n baie slegte gevangene in die tronk. Sy naam was Jesus Barabbas. Daar was 'n groot klomp mense daar bymekaar. Pilatus het vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom: Jesus Barabbas of Jesus vir wie die mense Christus noem?” Die goewerneur het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was. Die goewerneur het op die regterstoel gaan sit. Toe het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur en gesê: “Jy moet niks aan daardie onskuldige man doen nie, want ek het in die nag baie swaar gekry, ek het van hom gedroom.” Die priesterleiers en die familieleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat uitkom, en vir Jesus moet laat doodmaak. Die goewerneur vra toe weer vir die mense: “Wie van die twee mense wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom?” En hulle het geantwoord: “Barabbas!” Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met Jesus vir wie julle Christus noem?” Die mense het almal gesê: “ Kruisig hom!” Pilatus het gevra: “Wat het hy verkeerd gedoen?” Maar die mense het aangehou om baie hard te skree: “Kruisig hom!” Pilatus sien toe dat alles wat hy doen, niks help nie. Die mense het nog meer kwaad geword en hulle het geskree en geraas. Pilatus neem toe water en hy was sy hande sodat al die mense dit kan sien, en hy sê: “Ek is onskuldig as hierdie man moet sterf. Dit is júlle wat besluit hy moet sterf.” En al die mense het gesê: “Ja, dit is ons en ons nageslag wat skuldig sal wees as hy sterf.” Toe het Pilatus vir Barabbas uit die tronk laat kom, hy het gedoen wat die mense gevra het. Hy het vir Jesus met 'n sweep laat slaan en hy het Hom vir die soldate gegee sodat hulle Hom kon kruisig. Die soldate het Jesus na die goewerneur se huis geneem. Hulle het al die ander soldate geroep om saam te gaan. Hulle het Jesus se klere uitgetrek en hulle het 'n pers bo-kleed om Hom gehang. Hulle het 'n kroon van doringtakke gevleg en hulle het dit op sy kop gesit. Hulle het 'n dik riet in sy regter-hand gesit. Die soldate het voor Hom gekniel en Hom gespot en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en hulle het die riet geneem en aangehou om Jesus daarmee op sy kop te slaan. Nadat hulle Jesus klaar gespot het, het hulle die pers bo-kleed uitgetrek en hulle het Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Die soldate het Jesus weggeneem sodat hulle Hom kon kruisig. Toe hulle uit Jerusalem uitgaan, het hulle 'n man van die stad Sirene gesien. Sy naam was Simon. Die soldate het vir Simon gesê hy moet Jesus se kruis dra. Hulle kom toe by die plek wat die mense Golgota noem. Golgota beteken “Plek van die kopbeen.” Hulle het vir Jesus wyn gegee wat hulle met gal gemeng het, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Die soldate het vir Jesus gekruisig en elke soldaat het van Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. Daarna het hulle gaan sit en hulle het Hom daar opgepas. Hulle het bokant Jesus se kop op 'n plank geskryf hoekom hulle Hom gekruisig het. Hulle het geskryf: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo! Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ” Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het. Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” Dit beteken “ My God, my God, hoekom het U My gelos?” Party van die mense wat daar gestaan het, het dit gehoor en hulle het gesê: “Hierdie man roep vir Elia!” Een van hulle het dadelik gehardloop en 'n spons geneem en hy het dit vol suur wyn gemaak. Hy het dit op 'n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink. Maar die ander mense het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom te red.” Jesus het weer hard geskree en Hy het gesterf. Die gordyn in die tempel het van bo tot onder geskeur. Dit was toe twee stukke. God het die aarde laat bewe en Hy het die rotse laat oopskeur. God het ook die grafte laat oopgaan en Hy het baie gelowiges wat gesterf het, weer laat lewe, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Nadat Jesus weer begin lewe het, het hulle in Jerusalem, die gewyde stad, ingegaan, en baie mense het hulle gesien. Die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus opgepas het, het die aardbewing gesien en alles wat gebeur het. Hulle was toe baie bang en hulle het gesê: “Hierdie man was regtig die Seun van God!” Daar was baie vroue wat 'n bietjie verder gestaan en kyk het. Hulle het van Galilea saam met Jesus gekom om vir Hom te sorg. Maria Magdalena en Maria ma van Jakobus en Josef was daar, en ook die vrou van Sebedeus.

MATTEUS 27:1-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe dit dag geword het, het al die owerpriesters en die ouderlinge van die volk saam raad gehou teen Jesus om Hom dood te maak. En hulle het Hom geboei en weggelei en Hom oorgelewer aan Pontius Pilatus, die goewerneur. Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang. En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe. Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het. EN Jesus het voor die goewerneur gestaan, en die goewerneur het Hom die vraag gestel en gesê: Is U die Koning van die Jode? En Jesus antwoord hom: U sê dit. En terwyl Hy deur die owerpriesters en die ouderlinge beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie? En Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die goewerneur hom baie verwonder het. En op die fees was die goewerneur gewoond om een gevangene, die een wat hulle wou hê, vir die skare los te laat. En in daardie tyd het hulle 'n berugte gevangene gehad met die naam van Barábbas. Nadat hulle dan byeengekom het, sê Pilatus vir hulle: Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Barábbas, of Jesus wat genoem word Christus? Want hy het geweet dat hulle Hom uit nydigheid oorgelewer het. En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in 'n droom baie gely om sy ontwil. Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle Barábbas moes begeer en Jesus ombring. Toe antwoord die goewerneur en sê vir hulle: Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat? En hulle antwoord: Barábbas! Pilatus sê vir hulle: Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus? Hulle sê almal vir hom: Laat Hom gekruisig word! En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word! En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien! En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom! Toe laat hy vir hulle Barábbas los, maar Jesus het hy laat gésel en oorgelewer om gekruisig te word. Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar. Toe trek hulle sy klere uit en werp 'n rooi mantel om Hom; en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof. En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word. EN toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra. En hulle het gekom op 'n plek wat Gólgota genoem word — dit beteken: Plek van die Hoofskedel — en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie. En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp. En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak. En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE. Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant. En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God. En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig. En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Hy roep Elía. Toe hardloop daar dadelik een van hulle en neem 'n spons en maak dit vol asyn, en sit dit op 'n riet en laat Hom drink. Maar die ander sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos. Daarop het Jesus weer met 'n groot stem geroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn. En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God. En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs.

MATTEUS 27:1-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer. Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het 'n onskuldige man verraai.” Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!” Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang. Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.” Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.” Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.” Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?” Maar Jesus het hom op geen enkele woord 'n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was. Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. In daardie tyd was daar 'n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het. Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom 'n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag 'n vreeslike droom oor hom gehad.” Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood. Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” antwoord hulle. Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” “Kruisig hom!” skreeu hulle almal. Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!” Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.” Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!” Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word. Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom 'n pers mantel om. Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig. Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou. Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!” Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!” Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig. Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.” Een van hulle hardloop toe gou, vat 'n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op 'n stok vir Hom om te drink. Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.” Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

MATTEUS 27:1-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Teen dagbreek het al die leierpriesters en die familiehoofde van die volk teen Jesus 'n besluit geneem om Hom dood te maak. Hulle het Hom toe geboei, weggelei en aan •Pilatus, die prokurator, uitgelewer. Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Hulle het egter gesê: “Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien. ” Hy het toe die silwerstukke in die •tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. Die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie toelaatbaar om dit in die skatkis te gooi nie, aangesien dit bloedgeld is.” Hulle het toe 'n besluit geneem, en met die geld die grond van die pottebakker aangekoop as 'n begraafplaas vir •vreemdelinge. Daarom word daardie grond tot vandag toe Bloedgrond genoem. Toe is die uitspraak van die profeet Jeremia vervul: “Hulle het die dertig silwerstukke, die prys waarteen Hy deur die kinders van Israel gewaardeer is, geneem en dit vir die grond van die pottebakker gegee, net soos die Here my beveel het.” Jesus het voor die prokurator verskyn, en die prokurator het Hom ondervra: “Is u die koning van die Jode? ” Jesus sê toe: “U sê dit.” Die hele tyd wat Hy deur die leierpriesters en familiehoofde beskuldig is, het Hy niks geantwoord nie. Daarop sê •Pilatus vir Hom: “Hoor u nie wat hulle alles teen u getuig nie?” Hy het hom egter op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die prokurator uitermate verwonderd was. By elke fees het die prokurator die gebruik gehad om vir die skare een gevangene van hulle eie keuse vry te laat. Hulle het in daardie stadium 'n berugte gevangene aangehou met die naam Jesus Barabbas. Toe die skare byeen was, het •Pilatus vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat, Jesus Barabbas of Jesus wat as Christus bekend staan?” Want hy het geweet dat hulle Hom uit naywer oorgelewer het. Terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou 'n boodskap na hom gestuur: “Jy moet niks te doen hê met daardie •regverdige man nie, want ek het vannag in 'n droom baie oor hom verduur.” Die leierpriesters en die familiehoofde het die skare egter oorreed dat hulle op Barabbas moes aandring, en dat hulle Jesus moes laat doodmaak. Die prokurator het hulle weer gevra: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle het geroep: “Barabbas!” Pilatus vra hulle toe: “Wat moet ek dan maak met Jesus wat as Christus bekend staan?” Hulle roep toe almal uit: “Laat Hy gekruisig word!” Hy het gevra: “Maar watter kwaad het hy dan gedoen?” Hulle het egter nog harder geskreeu: “Laat Hy gekruisig word!” Toe Pilatus sien dat hy niks bereik nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Julle moet maar self toesien. ” Die hele volk het geantwoord: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” Daarop het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar Jesus het hy laat gesel, en toe oorgelewer om gekruisig te word. Toe het die soldate van die prokurator vir Jesus na die pretorium saamgeneem, en die hele kohort soldate by Hom byeengebring. Hulle het sy klere uitgetrek en 'n helderrooi mantel om Hom gehang. Nadat hulle 'n kroon van doringtakkies gevleg het, het hulle dit op sy kop gesit, en 'n riet in sy regterhand. Hulle het voor Hom gekniel en met Hom die spot gedryf: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die riet geneem, en Hom herhaaldelik op sy kop geslaan. Nadat hulle met Hom gespot het, het hulle die mantel afgehaal, sy boklere vir Hom aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. Op pad na buite het hulle 'n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by 'n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met 'n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Daarna het hulle daar gaan sit en Hom bewaak. Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring, wat gelui het: “Hy is Jesus, die koning van die Jode. ” Toe is twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou – as jy die •Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!” Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners en familiehoofde die spot gedryf en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie. Hy is die koning van Israel, laat hy nou afkom van die kruis, en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat Hy hom nou red as Hy wil. Hy het immers gesê: Ek is die Seun van God. ” Op dieselfde manier het ook die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig. Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van dié wat daar staan, dit hoor, het hulle gesê: “Hy roep na Elia.” Dadelik het een van hulle nader gehardloop, 'n spons geneem, dit in suur wyn geweek, op 'n riet gesit, en vir Hom gegee om te drink. Maar die ander het gesê: “Wag, laat ons sien of Elia hom kom red.” Toe het Jesus weer met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape •heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik •Seun van God.” Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

MATTEUS 27:1-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe dit môre word, het al die owerpriesters en ouderlinge van die volk raad teen Jesus gehou om Hom dood te maak. En toe hulle Hom gebind het, het hulle Hom weggelei en Hom aan Pontius Pilatus, die goewerneur, oorgegee. Toe Judas, wat hom verraai het, sien dat hy veroordeel was, het hy berou gehad en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge. En gesê: Ek het gesondig deurdat ek die onskuldige bloed verraai het. En hulle sê: Wat is dit vir ons? sien jy daarvoor. En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggegaan en gegaan en homself opgehang. En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te gooi nie, want dit is die prys van bloed. En hulle het raad gehou en die grond van die pottebakker saam met hulle gekoop om vreemdelinge in te begrawe. Daarom is daardie veld genoem: Die akker van bloed tot vandag toe. Toe is vervul wat gespreek is deur die profeet Jeremy, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van hom wat gewaardeer is, wat hulle van die kinders van Israel gewaardeer het; En hy het dit vir die pottebakker se stuk grond gegee, soos die Here my aangestel het. En Jesus het voor die goewerneur gestaan, en die goewerneur het hom gevra en gesê: Is U die Koning van die Jode? En Jesus sê vir hom: Jy sê. En toe hy deur die owerpriesters en ouderlinge aangekla is, het hy niks geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Hom: Hoor jy nie hoeveel dinge hulle teen U getuig nie? En hy het hom met geen woord geantwoord nie; in soverre dat die goewerneur hom baie verwonder het. En op daardie fees was die goewerneur gewoond om 'n gevangene vir die volk vry te laat, wie hulle wou. En hulle het toe 'n merkwaardige gevangene gehad met die naam van Barabbas. Daarom, toe hulle bymekaar was, sê Pilatus vir hulle: Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat? Barabbas, of Jesus wat Christus genoem word? Want hy het geweet dat hulle hom uit afguns verlos het. Toe hy op die regterstoel gaan sit het, het sy vrou na hom gestuur om te sê: Het jy niks met daardie regverdige man te doen nie, want ek het vandag baie gely in 'n droom ter wille van hom. Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oortuig dat hulle vir Barabbas moes vra en Jesus moes vernietig. Die goewerneur het geantwoord en vir hulle gesê: Wie van die twee wil julle moet ek vir julle loslaat? Hulle het gesê: Barabbas. Pilatus sê vir hulle: Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word? Hulle sê almal vir Hom: Laat Hom gekruisig word. En die goewerneur sê: Waarom, watter kwaad het hy gedoen? Maar hulle het nog meer uitgeroep en gesê: Laat Hom gekruisig word. Toe Pilatus sien dat hy niks kon oorwin nie, maar dat daar eerder 'n oproer gemaak word, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige; sorg daarvoor. Toe antwoord die hele volk en sê: Sy bloed kom op ons en op ons kinders! Toe het hy Barábbas vir hulle vrygelaat; en nadat hy Jesus gegésel het, het Hy Hom oorgegee om gekruisig te word. Toe het die soldate van die goewerneur Jesus in die gemeenskaplike saal geneem en die hele bende soldate by Hom bymekaargeroep. En hulle het hom uitgetrek en hom 'n bloedrooi kleed aangetrek. En toe hulle 'n doringkroon gevleg het, het hulle dit op sy hoof gesit en 'n riet in sy regterhand; en hulle het die knie voor hom gebuig en met Hom gespot en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het op hom gespoeg en die riet geneem en hom op die kop geslaan. En nadat hulle Hom gespot het, het hulle Hom die kleed uitgetrek en Hom sy eie klere aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. En toe hulle uitkom, kry hulle 'n man van Cirene met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra. En toe hulle by 'n plek kom met die naam van Golgota, dit wil sê, 'n plek van 'n skedel, Hulle het vir hom asyn gegee om te drink, gemeng met gal, en toe hy daarvan geproe het, wou hy nie drink nie. En hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. En hulle het gaan sit en hom daar dopgehou; En hy het sy beskuldiging bo-oor sy hoof geskryf: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE. Toe is daar twee diewe saam met Hom gekruisig, een aan die regterkant en een aan die linkerkant. En die wat verbygegaan het, het hom uitgeskel terwyl hulle hul hoofde swaai, en gesê: Jy wat die tempel afbreek en dit in drie dae bou, red jouself. As U die Seun van God is, kom af van die kruis. Net so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en die ouderlinge met Hom gespot: Hy het ander gered; homself kan hy nie red nie. As hy die Koning van Israel is, laat hom nou van die kruis afkom, en ons sal hom glo. Hy het op God vertrou; laat hy hom nou verlos as hy dit wil hê, want hy het gesê: Ek is die Seun van God. Ook die diewe wat saam met Hom gekruisig is, het dit in sy tande gegooi. En van die sesde uur af was daar duisternis oor die hele land tot die negende uur. En omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtani? dit wil sê: My God, my God, waarom het U my verlaat? Sommige van die wat daar gestaan het, het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie man roep vir Elia. En dadelik het een van hulle gehardloop en 'n spons geneem en dit met asyn gevul en dit op 'n riet gesit en hom laat drink. Die ander het gesê: Laat staan, laat ons kyk of Elía sal kom om hom te red. Toe Jesus weer met 'n groot stem geroep het, het Hy die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder; en die aarde het gebewe, en die rotse het geskeur; En die grafte is oopgemaak; en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan, En ná sy opstanding het hy uit die grafte gekom en in die heilige stad ingegaan en aan baie verskyn. En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom was en Jesus dopgehou het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur het, het hulle baie gevrees en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God. En baie vroue was daar wat ver aanskou het wat Jesus van Galilea gevolg het en Hom bedien het. Onder wie was Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van Sebedeus se kinders.

MATTEUS 27:1-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk. Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig. Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!” Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.” Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op. Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.” Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word. Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is – en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.” Jesus het voor Pilatus, die Romeinse goewerneur, verskyn. Die goewerneur het Hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.” Maar terwyl die priesterhoofde en die familiehoofde beskuldigings teen Hom inbring, het Hy niks geantwoord nie. “Hoor jy dan nie al die ernstige aanklagte teen jou nie?” het Pilatus Hom gevra. Maar tot die goewerneur se uiterste verbasing het Hy Hom op geen enkele punt verweer nie. Dit was gebruiklik dat die goewerneur tydens elke Paasfees een gevangene vir die skare vrylaat. Hulle kon self kies wie dit moes wees. Juis in hierdie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. Terwyl die skare gevaarlik begin saamdrom, vra Pilatus hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: Jesus Barabbas of Jesus, die sogenaamde Messias?” Hy het goed besef dat die Joodse leiers Jesus uit naywer aan hom uitgelewer het. Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: “Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ’n aaklige nagmerrie oor hom gehad.” Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die skare oorreed om te vra dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus die doodstraf kry. Toe die goewerneur dus weer vir hulle vra: “Wie van hierdie twee moet ek vir julle vrylaat?” het hulle geskree: “Barabbas!” “Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,” het Pilatus hulle gevra, “wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?” Hulle roep almal: “Hy moet gekruisig word!” “Hoekom?” vra Pilatus. “Watter misdaad het hy dan begaan?” Maar hulle het al hoe harder begin skree: “Hy moet gekruisig word!” Pilatus het gemerk dat dit hopeloos was, en dat daar ’n oproer aan die kom was. Gevolglik het hy ’n skottel water laat kom en sy hande ten aanskoue van die skare gewas met die woorde: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle rekening.” Die hele volk het teruggeskree: “Ons neem verantwoordelikheid vir sy dood – ons en ons nageslag.” Toe het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar hy het Jesus aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig. Die goewerneur se soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier geneem en die hele regiment teen Hom bymekaargemaak. Hulle stroop Hom toe van sy klere en hang vir Hom ’n pers mantel om. Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!” Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan. Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig. Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra. Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie. Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies. Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak. Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.” Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant. Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!” Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo! Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red! Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’” In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig. Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag. Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia. Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink. Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.” Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars. Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak. Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn. Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!” Baie vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het, het alles op ’n afstand dopgehou. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, en die vrou van Sebedeus, die ma van Jakobus en Johannes.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid