Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?” •Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus gesê het: “Voordat 'n haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.
Lees Matteus 26
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Matteus 26:55-75
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's