MATTEUS 26:55-75
MATTEUS 26:55-75 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?” Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: “Ek ken die man nie!” 'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan jou spraak hoor.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!” En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
MATTEUS 26:55-75 Bybel vir almal (ABA)
Dadelik daarna het Jesus vir die klomp mense gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek het elke dag in die tempel gesit en Ek het daar vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die profete geskryf het.” Daarna het Jesus se dissipels Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap en vir Hom gesê: “Christus, wys vir ons jy is 'n profeet, sê vir ons wie het jou geslaan.” Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het na hom toe gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus van Galilea.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Almal kon dit hoor. Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Ander meisie het vir Petrus gesien en sy het vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Maar Petrus het weer gesê: “Dit is nie waar nie. Ek ken nie die man nie. Die Here is my getuie.” 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, na Petrus toe gekom en vir hom gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want ons kan hoor jy praat soos hulle.” Petrus het gesê: “Ek ken glad nie hierdie man nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” En dadelik, nadat hy dit gesê het, het die haan gekraai. Toe het Petrus onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.” Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.
MATTEUS 26:55-75 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen 'n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. EN die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie. Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou. Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig. Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het? EN Petrus het buitekant gesit in die binneplaas van die paleis, en 'n sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook by Jesus, die Galiléër! Maar hy het dit voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie. En terwyl hy uitgaan na die poort toe, sien 'n ander diensmeisie hom en sê aan die wat daar was: Hierdie een was ook by Jesus, die Nasaréner. En met 'n eed ontken hy dit weer: Ek ken die man nie. Maar 'n bietjie later kom die wat daar staan, en sê vir Petrus: Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend. Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie. En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween.
MATTEUS 26:55-75 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?” •Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus gesê het: “Voordat 'n haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.
MATTEUS 26:55-75 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In daardie selfde uur sê Jesus vir die skare: Het julle uitgetrek soos teen 'n dief met swaarde en stokke om My te gryp? Ek het daagliks by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. En die wat Jesus gegryp het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. Maar Petrus het hom van ver af gevolg tot by die hoëpriester se paleis en ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak; Maar het niemand gevind nie; ja, al het baie valse getuies gekom, maar hulle het niks gevind nie. Op die laaste het twee valse getuies gekom, en gesê: Hierdie man het gesê: Ek is in staat om die tempel van God af te breek en dit in drie dae te bou. Toe staan die hoëpriester op en sê vir hom: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir hom: Ek besweer jou by die lewende God, dat jy vir ons moet sê of U die Christus is, die Seun van God. Jesus sê vir hom: Jy het gesê; nogtans sê Ek vir jou, van nou af sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslastering gespreek; wat het ons verder van getuies nodig? kyk, nou het julle sy godslastering gehoor. Wat dink julle? Hulle antwoord en sê: Hy is skuldig aan die dood. Toe het hulle in sy gesig gespoeg en hom met die vuis geslaan; en ander het hom met hul handpalms geslaan, en sê: Profeteer vir ons, Christus, wie is dit wat U geslaan het? En Petrus het buite in die paleis gesit, en 'n meisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook saam met Jesus, die Galiléa. Maar hy het voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie. En toe hy uitgaan na die voorportaal, sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir die wat daar was: Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret. En hy het weer met 'n eed ontken: Ek ken die man nie. En ná 'n rukkie het die wat daar staan, na Hom gekom en vir Petrus gesê: Waarlik, jy is ook een van hulle; want jou spraak verraai jou. Toe het hy begin vloek en sweer en sê: Ek ken die man nie. En dadelik span die haan. En Petrus het die woord van Jesus onthou wat vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het uitgegaan en bitterlik geween.
MATTEUS 26:55-75 Die Boodskap (DB)
Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!” Terwyl hulle binne so tekere gaan, het Petrus buite in die agterplaas gesit. Een van die werkers kom toe daar na hom toe. Dit was ’n vrou. “Vir jou het ek al gesien. Jy is mos een van die vriende van Jesus, die man uit Galilea.” Petrus skud sy kop heftig voor almal. “Moenie laf wees nie! Ek weet nie eens van wie jy praat nie.” Hy staan op en stap deur se kant toe. Voor hy by die deur uit is, loop hy in ’n ander vrou vas. “Julle is reg! Hierdie man is een van Jesus van Nasaret se vriende.” Weer het Petrus sy kop heftig geskud en gesê: “Ek sweer, ek ken hierdie man van geen kant af nie!” Dit was nie lank nie of ’n groepie mans kom staan daar by Petrus. “Sowaar, jy moet deel wees van daardie groep volgelinge van Jesus. Ons kan dit aan jou aksent hoor. Julle klomp uit Galilea praat mos anders as ons hier in Judea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy was. “Ek sweer, man, ek het hierdie man nog nooit eens ontmoet nie!” Juis toe kon ’n mens die gekraai van die haan in die vroeë oggendure hoor wegsterf. Petrus het ook die haan gehoor. Die woorde van Jesus het hom te binne geskiet: “Voor die haan kraai, sal jy drie maal sê dat jy My nie ken nie.” Hy kon toe nie langer daar bly nie. Buite het die trane oor sy wange gestroom.
MATTEUS 26:55-75 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.” Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur. Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei. En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’” Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” Maar Jesus het bly swyg. Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle: Julle sal My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Hy terugkom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor. Wat is julle bevinding?” “Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.” Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?” Petrus het nog steeds buite in die binnehof gesit. ’n Diensmeisie kom toe nader en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?” Hy het dit egter voor almal ontken. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” het hy verklaar. Later, toe hy op pad was na die uitgang, sien ’n ander diensmeisie hom raak en sê vir die omstanders: “Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret.” Weer het hy dit ontken, hierdie keer met ’n eed: “Ek ken hierdie man glad nie!” Nog ’n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.” Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai. Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: “Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil.