Dadelik daarna het Jesus vir die klomp mense gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek het elke dag in die tempel gesit en Ek het daar vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die profete geskryf het.” Daarna het Jesus se dissipels Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap en vir Hom gesê: “Christus, wys vir ons jy is 'n profeet, sê vir ons wie het jou geslaan.” Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het na hom toe gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus van Galilea.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Almal kon dit hoor. Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Ander meisie het vir Petrus gesien en sy het vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Maar Petrus het weer gesê: “Dit is nie waar nie. Ek ken nie die man nie. Die Here is my getuie.” 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, na Petrus toe gekom en vir hom gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want ons kan hoor jy praat soos hulle.” Petrus het gesê: “Ek ken glad nie hierdie man nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” En dadelik, nadat hy dit gesê het, het die haan gekraai. Toe het Petrus onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.” Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.
Lees Matteus 26
Deel
Vergelyk alle weergawes: Matteus 26:55-75
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's