Matteus 25:14-29

Matteus 25:14-29 AFR20

“Want dit is net soos 'n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf talent gegee, vir 'n ander een twee, en vir nog 'n ander, een – vir elkeen volgens eie vermoë. Daarop het hy vertrek. Onmiddellik het die man wat die vyf talent ontvang het, daarmee gaan woeker en 'n wins van nog vyf gemaak. Net so het die man met die twee nog twee wins gemaak. Maar die man wat een ontvang het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld weggesteek. Ná 'n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle. Die man wat die vyf talent ontvang het, het gekom en nog vyf gebring. Hy sê toe, ‘Meneer, u het my vyf talent gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog vyf talent gemaak.’ Die eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man met die twee talent het gekom en gesê, ‘Meneer, twee talent het u vir my gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog twee talent gemaak.’ Sy eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man wat die een talent ontvang het, het ook gekom en gesê, ‘Meneer, ek ken u – u is 'n hardvogtige man wat maai waar u nie gesaai het nie en wat oes waar u nie saad uitgestrooi het nie. Omdat ek bang was, het ek u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is wat aan u behoort.’ Maar sy eienaar antwoord hom, ‘Jou slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie en oes waar ek nie saad uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die bankiers belê het, en met my terugkeer sou ek wat myne is, met rente teruggekry het. Vat dan die talent by hom en gee dit vir die een wat die tien talent het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word.