MATTEUS 25:14-29

MATTEUS 25:14-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. “Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ “Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ “Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.

MATTEUS 25:14-29 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het ook gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n tyd lank weggegaan het van sy huis. Hy het sy slawe geroep en gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het vir die een slaaf vyf talente gegee, vir 'n ander slaaf het hy twee talente gegee, en vir die derde slaaf een talent. Hy het besluit met hoeveel geld elke slaaf kon werk. Toe het hy weggegaan. Die slaaf wat vyf talente gekry het, het dadelik gegaan en hy het daarmee baie dinge gaan koop en verkoop en hy het nog vyf ander talente bygekry. Die slaaf wat twee talente gekry het, het dieselfde gedoen en hy het nog twee talente bygekry. Maar die slaaf wat een talent gekry het, het 'n gat in die grond gegrawe en hy het sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Ná 'n lang tyd het die eienaar van die slawe teruggekom en gevra wat hulle met die geld gedoen het. Die slaaf wat vyf talente gekry het, bring toe nog vyf talente en hy sê: ‘Meneer, jy het vir my vyf talente gegee, en hier is nou nog vyf talente wat ek bygekry het.’ Sy eienaar sê toe: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf, jy het gedoen wat ek wou hê. Jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het, ek sal nou vir jou baie meer geld gee sodat jy daarmee kan werk. Kom in, jy moet bly wees saam met my, jou eienaar.’ Die slaaf wat twee talente gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, jy het vir my twee talente gegee. Hier is nou nog twee talente wat ek bygekry het.’ Sy eienaar sê toe: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf, jy het gedoen wat ek wou hê. Jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het, ek sal nou vir jou baie meer geld gee sodat jy daarmee kan werk. Kom in, jy moet bly wees saam met my, jou eienaar.’ Die slaaf wat een talent gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, ek weet jy is 'n kwaai man. Jy wil koring afsny wat jy nie gesaai het nie en jy wil koring bymekaarmaak waar jy nie geplant het nie. Ek was bang, daarom het ek jou geld in die grond gaan begrawe en dit weggesteek. Ek gee nou vir jou die een talent terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en lui slaaf. Jy het geweet ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie en ek maak bymekaar waar ek nie geplant het nie. Daarom moes jy my geld in die bank gesit het. Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’ Hy sê toe vir sy ander slawe: ‘Vat die geld weg van hom en gee dit vir die slaaf wat die tien talente het. Ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee. Dan sal hy baie hê. Maar ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het.

MATTEUS 25:14-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT dit is soos 'n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan. En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien. Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek. En ná 'n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u 'n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.

MATTEUS 25:14-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Want dit is net soos 'n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf talent gegee, vir 'n ander een twee, en vir nog 'n ander, een – vir elkeen volgens eie vermoë. Daarop het hy vertrek. Onmiddellik het die man wat die vyf talent ontvang het, daarmee gaan woeker en 'n wins van nog vyf gemaak. Net so het die man met die twee nog twee wins gemaak. Maar die man wat een ontvang het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld weggesteek. Ná 'n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle. Die man wat die vyf talent ontvang het, het gekom en nog vyf gebring. Hy sê toe, ‘Meneer, u het my vyf talent gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog vyf talent gemaak.’ Die eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man met die twee talent het gekom en gesê, ‘Meneer, twee talent het u vir my gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog twee talent gemaak.’ Sy eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man wat die een talent ontvang het, het ook gekom en gesê, ‘Meneer, ek ken u – u is 'n hardvogtige man wat maai waar u nie gesaai het nie en wat oes waar u nie saad uitgestrooi het nie. Omdat ek bang was, het ek u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is wat aan u behoort.’ Maar sy eienaar antwoord hom, ‘Jou slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie en oes waar ek nie saad uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die bankiers belê het, en met my terugkeer sou ek wat myne is, met rente teruggekry het. Vat dan die talent by hom en gee dit vir die een wat die tien talent het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word.

MATTEUS 25:14-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat na 'n ver land reis, wat sy eie dienaars geroep en sy goed aan hulle oorgegee het. En aan die een het hy vyf talente gegee, aan 'n ander twee en aan 'n ander een; aan elkeen volgens sy verskillende vermoëns; en dadelik sy reis geneem. Toe het hy wat die vyf talente ontvang het, gegaan en daarmee handel gedryf en vir hulle vyf ander talente gemaak. En net so het hy wat twee ontvang het, ook ander twee gekry. Maar hy wat een ontvang het, het gegaan en in die grond gegrawe en die geld van sy heer weggesteek. Na 'n lang tyd kom die heer van daardie diensknegte en maak met hulle afreken. En so het hy wat vyf talente ontvang het, gekom en nog vyf talente gebring en gesê: Here, U het vyf talente aan my gegee; kyk, ek het daarby nog vyf talente verdien. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel; gaan in in die vreugde van jou heer. Hy wat twee talente ontvang het, het ook gekom en gesê: Here, twee talente het U aan my gegee; kyk, ek het nog twee talente by hulle gekry. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg! oor min was jy getrou; oor baie sal Ek jou aanstel as heerser; gaan in in die vreugde van jou heer. Toe kom hy wat die een talent ontvang het en sê: Here, ek het U geken dat jy 'n harde man is wat maai waar jy nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar jy nie gestrooi het nie. En ek was bevrees en het gegaan en jou talent in die aarde verberg; kyk, daar het jy wat joune is. Sy heer het geantwoord en vir hom gesê: Jou slegte en trae dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en insamel waar ek nie gestrooi het nie. U moes dus my geld by die wisselaars gesit het, en dan sou ek my geld met woeker ontvang het by my koms. Neem dan die talent van hom af en gee dit aan hom wat tien talente het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook wat hy het, weggeneem word.

MATTEUS 25:14-29 Die Boodskap (DB)

“Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg. “Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’ Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’ “Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’ Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker. “Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê. Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’ Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle. Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het.

MATTEUS 25:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is. Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel. Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel. Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het. Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’ “Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ “Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie. Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’ “Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie? Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’ “Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid