Matteus 25:14-29

Matteus 25:14-29 ABA

Jesus het ook gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n tyd lank weggegaan het van sy huis. Hy het sy slawe geroep en gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het vir die een slaaf vyf talente gegee, vir 'n ander slaaf het hy twee talente gegee, en vir die derde slaaf een talent. Hy het besluit met hoeveel geld elke slaaf kon werk. Toe het hy weggegaan. Die slaaf wat vyf talente gekry het, het dadelik gegaan en hy het daarmee baie dinge gaan koop en verkoop en hy het nog vyf ander talente bygekry. Die slaaf wat twee talente gekry het, het dieselfde gedoen en hy het nog twee talente bygekry. Maar die slaaf wat een talent gekry het, het 'n gat in die grond gegrawe en hy het sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Ná 'n lang tyd het die eienaar van die slawe teruggekom en gevra wat hulle met die geld gedoen het. Die slaaf wat vyf talente gekry het, bring toe nog vyf talente en hy sê: ‘Meneer, jy het vir my vyf talente gegee, en hier is nou nog vyf talente wat ek bygekry het.’ Sy eienaar sê toe: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf, jy het gedoen wat ek wou hê. Jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het, ek sal nou vir jou baie meer geld gee sodat jy daarmee kan werk. Kom in, jy moet bly wees saam met my, jou eienaar.’ Die slaaf wat twee talente gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, jy het vir my twee talente gegee. Hier is nou nog twee talente wat ek bygekry het.’ Sy eienaar sê toe: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf, jy het gedoen wat ek wou hê. Jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het, ek sal nou vir jou baie meer geld gee sodat jy daarmee kan werk. Kom in, jy moet bly wees saam met my, jou eienaar.’ Die slaaf wat een talent gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, ek weet jy is 'n kwaai man. Jy wil koring afsny wat jy nie gesaai het nie en jy wil koring bymekaarmaak waar jy nie geplant het nie. Ek was bang, daarom het ek jou geld in die grond gaan begrawe en dit weggesteek. Ek gee nou vir jou die een talent terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en lui slaaf. Jy het geweet ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie en ek maak bymekaar waar ek nie geplant het nie. Daarom moes jy my geld in die bank gesit het. Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’ Hy sê toe vir sy ander slawe: ‘Vat die geld weg van hom en gee dit vir die slaaf wat die tien talente het. Ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee. Dan sal hy baie hê. Maar ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het.