Matteus 25:1-46

Matteus 25:1-46 AFR20

“Dan sal die •koninkryk van die hemele wees soos tien jongmeisies wat hulle lampe geneem het om die bruidegom tegemoet te gaan. Vyf van hulle was dwaas en vyf was verstandig. Die dwases het hulle lampe gevat, maar nie olyfolie met hulle saamgeneem nie; die verstandiges het egter, saam met hulle lampe, ook olyfolie in houers geneem. En omdat die bruidegom getalm het, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. In die middel van die nag was daar 'n geroep, ‘Kyk, hier is die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe het al daardie jongmeisies opgestaan en hulle lampe gereedgemaak. Die dwases het vir die verstandiges gesê, ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het egter geantwoord, ‘Dalk sal daar nie genoeg wees vir ons én vir julle nie. Gaan eerder na die verkopers en koop julle eie.’ Terwyl hulle die olie gaan koop het, het die bruidegom opgedaag, en dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die •bruilofsfees, en die deur is gesluit. Later kom die ander jongmeisies toe ook daar aan en roep, ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar hy antwoord, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie.’ Wees dan waaksaam, omdat julle die dag en die uur nie ken nie.” “Want dit is net soos 'n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf talent gegee, vir 'n ander een twee, en vir nog 'n ander, een – vir elkeen volgens eie vermoë. Daarop het hy vertrek. Onmiddellik het die man wat die vyf talent ontvang het, daarmee gaan woeker en 'n wins van nog vyf gemaak. Net so het die man met die twee nog twee wins gemaak. Maar die man wat een ontvang het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld weggesteek. Ná 'n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle. Die man wat die vyf talent ontvang het, het gekom en nog vyf gebring. Hy sê toe, ‘Meneer, u het my vyf talent gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog vyf talent gemaak.’ Die eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man met die twee talent het gekom en gesê, ‘Meneer, twee talent het u vir my gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog twee talent gemaak.’ Sy eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man wat die een talent ontvang het, het ook gekom en gesê, ‘Meneer, ek ken u – u is 'n hardvogtige man wat maai waar u nie gesaai het nie en wat oes waar u nie saad uitgestrooi het nie. Omdat ek bang was, het ek u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is wat aan u behoort.’ Maar sy eienaar antwoord hom, ‘Jou slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie en oes waar ek nie saad uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die bankiers belê het, en met my terugkeer sou ek wat myne is, met rente teruggekry het. Vat dan die talent by hom en gee dit vir die een wat die tien talent het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die duisternis daarbuite. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ’ ” “Wanneer die •Seun van die Mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit. Al die nasies sal voor Hom byeengebring word, en Hy sal hulle van mekaar skei soos 'n herder die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy aan sy regterhand laat staan en die bokke aan sy linkerhand. Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê, ‘Julle, geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk, wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was 'n •vreemdeling, en julle het My as 'n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die •regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as 'n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee? En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’ “Dan sal Hy vir dié aan sy linkerhand sê, ‘Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur, wat gereedgemaak is vir die Duiwel en sy engele. Want Ek was honger, en julle het My nie iets te ete gegee nie, dors, en julle het My nie iets te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie as gas verwelkom nie, nakend, en julle het My nie geklee nie, siek en in die tronk, en julle het My nie besoek nie.’ Dan sal hulle antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien, of dors, of as 'n vreemdeling, of nakend, of siek, of in die tronk, en U nie versorg nie?’ Dan sal Hy hulle antwoord, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle vir een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle ook nie vir My gedoen nie.’ Hierdie mense sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 25:1-46