MATTEUS 25:1-46

MATTEUS 25:1-46 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer tien meisies hulle lampe neem en uitgaan om die bruidegom te ontmoet. Vyf van die meisies was dwaas, en vyf was verstandig. Die vyf dwase meisies het hulle lampe geneem, maar hulle het nie olyf-olie saamgeneem nie. Die verstandige meisies het hulle lampe geneem en hulle het ook olyf-olie in kruike saamgeneem. Die bruidegom het laat gekom, en die meisies het almal vaak geword en hulle het aan die slaap geraak. In die middel van die nag het die mense geskree: ‘Hier kom die bruidegom! Julle moet uitgaan om hom te gaan ontmoet.’ Toe staan al daardie meisies op en hulle maak hulle lampe gereed. Die dwase meisies sê toe vir die verstandige meisies: ‘Gee vir ons van julle olyf-olie, want ons lampe gaan dood.’ Die verstandige meisies het vir die dwase meisies gesê: ‘As ons vir julle van ons olyf-olie gee, dan sal daar nie genoeg olyf-olie wees vir ons en ook vir julle nie. Julle moet winkel toe gaan en julle moet julle eie olyf-olie gaan koop.’ “Terwyl die dwase meisies olyf-olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Die vyf verstandige meisies wat gereed was, het saam met hom ingegaan in die huis waar die fees-ete was, en mense het die deur toegesluit. Later het die ander meisies gekom en gesê: ‘Meneer, Meneer, maak die deur oop vir ons.’ Maar die bruidegom het gesê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek ken julle nie.’ ” Jesus het toe gesê: “Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie op watter dag en hoe laat in die dag die Seun van die mens sal kom nie.” Jesus het ook gesê: “Wanneer God Koning is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n tyd lank weggegaan het van sy huis. Hy het sy slawe geroep en gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het vir die een slaaf vyf talente gegee, vir 'n ander slaaf het hy twee talente gegee, en vir die derde slaaf een talent. Hy het besluit met hoeveel geld elke slaaf kon werk. Toe het hy weggegaan. Die slaaf wat vyf talente gekry het, het dadelik gegaan en hy het daarmee baie dinge gaan koop en verkoop en hy het nog vyf ander talente bygekry. Die slaaf wat twee talente gekry het, het dieselfde gedoen en hy het nog twee talente bygekry. Maar die slaaf wat een talent gekry het, het 'n gat in die grond gegrawe en hy het sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Ná 'n lang tyd het die eienaar van die slawe teruggekom en gevra wat hulle met die geld gedoen het. Die slaaf wat vyf talente gekry het, bring toe nog vyf talente en hy sê: ‘Meneer, jy het vir my vyf talente gegee, en hier is nou nog vyf talente wat ek bygekry het.’ Sy eienaar sê toe: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf, jy het gedoen wat ek wou hê. Jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het, ek sal nou vir jou baie meer geld gee sodat jy daarmee kan werk. Kom in, jy moet bly wees saam met my, jou eienaar.’ Die slaaf wat twee talente gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, jy het vir my twee talente gegee. Hier is nou nog twee talente wat ek bygekry het.’ Sy eienaar sê toe: ‘Dit is goed. Jy is 'n goeie slaaf, jy het gedoen wat ek wou hê. Jy het goed gewerk met die bietjie geld wat ek vir jou gegee het, ek sal nou vir jou baie meer geld gee sodat jy daarmee kan werk. Kom in, jy moet bly wees saam met my, jou eienaar.’ Die slaaf wat een talent gekry het, kom toe en sê: ‘Meneer, ek weet jy is 'n kwaai man. Jy wil koring afsny wat jy nie gesaai het nie en jy wil koring bymekaarmaak waar jy nie geplant het nie. Ek was bang, daarom het ek jou geld in die grond gaan begrawe en dit weggesteek. Ek gee nou vir jou die een talent terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en lui slaaf. Jy het geweet ek sny koring af wat ek nie gesaai het nie en ek maak bymekaar waar ek nie geplant het nie. Daarom moes jy my geld in die bank gesit het. Dan kon ek my geld en die rente gekry het toe ek teruggekom het.’ Hy sê toe vir sy ander slawe: ‘Vat die geld weg van hom en gee dit vir die slaaf wat die tien talente het. Ek sal vir elkeen wat baie het, nog meer gee. Dan sal hy baie hê. Maar ek sal van elkeen wat nie baie het nie, ook die bietjie wegvat wat hy het. Gooi hierdie slaaf wat niks beteken nie, in die donker plek. Daar sal hy huil en hard op sy tande byt van die pyn.’ ” Jesus het gesê: “Wanneer Ek, die Seun van die mens, die Koning, saam met al my engele kom, dan sal Ek op my troon sit en Koning wees. Dan sal al die volke voor My bymekaarkom, en dan sal Ek die mense van mekaar skei, soos 'n skaapwagter die skape van die bokke skei. En Ek sal die skape regs langs My laat staan en die bokke links langs My. Dan sal Ek, die Seun van die mens, vir die mense regs langs My sê: ‘Kom, my Vader het julle geseën. Hy wil van altyd af Koning wees oor julle, vandat Hy die aarde gemaak het. Julle moet dit nou aanvaar en bly wees daaroor. Want toe Ek honger was, het julle vir My iets gegee om te eet, en toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink. Toe Ek 'n vreemdeling by julle was, het julle gesê Ek is welkom by julle. Ek het nie klere gehad nie, en julle het vir My klere gegee om aan te trek. Ek was siek, en julle het vir My gesorg. Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, sal dan vir My sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger en het ons vir U iets gegee om te eet? Wanneer het ons gesien U is dors en het ons vir U iets gegee om te drink? Wanneer het ons gesien U is 'n vreemdeling en het ons gesê U is welkom by ons? Wanneer het ons gesien U het nie klere nie en het ons vir U klere gegee om aan te trek? Wanneer het ons gesien U is siek of in die tronk, en het ons U besoek?’ Die Koning sal dan vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit gedoen het vir een van my vriende, ook vir die een wat die minste belangrik is, toe het julle dit vir My gedoen.’ Dan sal die Koning vir die mense links langs Hom sê: ‘Gaan weg van My! God het julle vervloek. Julle moet na die vuur gaan wat altyd brand, die vuur wat Hy gereedgemaak het vir die duiwel en sy engele. Want toe Ek honger was, het julle vir My niks gegee om te eet nie, en toe Ek dors was, het julle vir My niks gegee om te drink nie. Toe Ek 'n vreemdeling was, het julle nie gesê Ek is welkom by julle nie, en toe Ek nie klere gehad het nie, het julle nie vir My klere gegee om aan te trek nie. Ek was siek en in die tronk en julle het nie vir My gesorg nie.’ Dan sal ook húlle vir die Koning sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger of dors, of U is 'n vreemdeling of U het nie klere nie, of U is siek of in die tronk? Wanneer het ons U nie gedien nie?’ Dan sal die Koning vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit nie gedoen het vir een van hierdie mense wat die minste belangrik is nie, toe het julle dit ook nie vir My gedoen nie.’ God sal hierdie mense vir altyd straf, maar die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, sal die ewige lewe kry.”

MATTEUS 25:1-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAN sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie. WANT dit is soos 'n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan. En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien. Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek. En ná 'n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u 'n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande. EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

MATTEUS 25:1-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. “In die middel van die nag was daar 'n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’ Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’ “Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit. “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. “Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ “Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ “Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ” “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan. “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

MATTEUS 25:1-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Dan sal die •koninkryk van die hemele wees soos tien jongmeisies wat hulle lampe geneem het om die bruidegom tegemoet te gaan. Vyf van hulle was dwaas en vyf was verstandig. Die dwases het hulle lampe gevat, maar nie olyfolie met hulle saamgeneem nie; die verstandiges het egter, saam met hulle lampe, ook olyfolie in houers geneem. En omdat die bruidegom getalm het, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. In die middel van die nag was daar 'n geroep, ‘Kyk, hier is die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe het al daardie jongmeisies opgestaan en hulle lampe gereedgemaak. Die dwases het vir die verstandiges gesê, ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om dood te gaan.’ Die verstandiges het egter geantwoord, ‘Dalk sal daar nie genoeg wees vir ons én vir julle nie. Gaan eerder na die verkopers en koop julle eie.’ Terwyl hulle die olie gaan koop het, het die bruidegom opgedaag, en dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die •bruilofsfees, en die deur is gesluit. Later kom die ander jongmeisies toe ook daar aan en roep, ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar hy antwoord, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie.’ Wees dan waaksaam, omdat julle die dag en die uur nie ken nie.” “Want dit is net soos 'n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf talent gegee, vir 'n ander een twee, en vir nog 'n ander, een – vir elkeen volgens eie vermoë. Daarop het hy vertrek. Onmiddellik het die man wat die vyf talent ontvang het, daarmee gaan woeker en 'n wins van nog vyf gemaak. Net so het die man met die twee nog twee wins gemaak. Maar die man wat een ontvang het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld weggesteek. Ná 'n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle. Die man wat die vyf talent ontvang het, het gekom en nog vyf gebring. Hy sê toe, ‘Meneer, u het my vyf talent gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog vyf talent gemaak.’ Die eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man met die twee talent het gekom en gesê, ‘Meneer, twee talent het u vir my gegee, en kyk, ek het 'n wins van nog twee talent gemaak.’ Sy eienaar het vir hom gesê, ‘Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!’ Die man wat die een talent ontvang het, het ook gekom en gesê, ‘Meneer, ek ken u – u is 'n hardvogtige man wat maai waar u nie gesaai het nie en wat oes waar u nie saad uitgestrooi het nie. Omdat ek bang was, het ek u talent in die grond gaan wegsteek. Hier is wat aan u behoort.’ Maar sy eienaar antwoord hom, ‘Jou slegte en lui slaaf! Jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie en oes waar ek nie saad uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die bankiers belê het, en met my terugkeer sou ek wat myne is, met rente teruggekry het. Vat dan die talent by hom en gee dit vir die een wat die tien talent het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy het, weggeneem word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die duisternis daarbuite. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ’ ” “Wanneer die •Seun van die Mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit. Al die nasies sal voor Hom byeengebring word, en Hy sal hulle van mekaar skei soos 'n herder die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy aan sy regterhand laat staan en die bokke aan sy linkerhand. Dan sal die Koning vir dié aan sy regterhand sê, ‘Julle, geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk, wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was 'n •vreemdeling, en julle het My as 'n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die •regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as 'n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee? En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’ “Dan sal Hy vir dié aan sy linkerhand sê, ‘Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur, wat gereedgemaak is vir die Duiwel en sy engele. Want Ek was honger, en julle het My nie iets te ete gegee nie, dors, en julle het My nie iets te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie as gas verwelkom nie, nakend, en julle het My nie geklee nie, siek en in die tronk, en julle het My nie besoek nie.’ Dan sal hulle antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien, of dors, of as 'n vreemdeling, of nakend, of siek, of in die tronk, en U nie versorg nie?’ Dan sal Hy hulle antwoord, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle vir een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle ook nie vir My gedoen nie.’ Hierdie mense sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na die ewige lewe.”

MATTEUS 25:1-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dan sal die koninkryk van die hemele vergelyk word met tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was wys en vyf was dwaas. Die wat dwaas was, het hulle lampe geneem en geen olie saamgeneem nie. Maar die wyses het olie in hulle houers saam met hulle lampe geneem. Terwyl die bruidegom vertoef, het hulle almal gesluimer en geslaap. En middernag was daar 'n geroep: Kyk, die bruidegom kom; gaan uit hom tegemoet. Toe het al daardie maagde opgestaan en hulle lampe geknip. Toe sê die dwase vir die wyse: Gee ons van julle olie; want ons lampe is uitgedoof. Maar die wyses antwoord en sê: Nie so nie; dat daar nie genoeg vir ons en vir julle is nie; maar gaan liewer na die wat verkoop, en koop vir julleself. En terwyl hulle gaan koop het, het die bruidegom gekom; en die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Daarna het die ander maagde ook gekom en gesê: Here, Here, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, Ek ken julle nie. Waak dan, want julle weet nie die dag of die uur waarin die Seun van die mens kom nie. Want die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat na 'n ver land reis, wat sy eie dienaars geroep en sy goed aan hulle oorgegee het. En aan die een het hy vyf talente gegee, aan 'n ander twee en aan 'n ander een; aan elkeen volgens sy verskillende vermoëns; en dadelik sy reis geneem. Toe het hy wat die vyf talente ontvang het, gegaan en daarmee handel gedryf en vir hulle vyf ander talente gemaak. En net so het hy wat twee ontvang het, ook ander twee gekry. Maar hy wat een ontvang het, het gegaan en in die grond gegrawe en die geld van sy heer weggesteek. Na 'n lang tyd kom die heer van daardie diensknegte en maak met hulle afreken. En so het hy wat vyf talente ontvang het, gekom en nog vyf talente gebring en gesê: Here, U het vyf talente aan my gegee; kyk, ek het daarby nog vyf talente verdien. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel; gaan in in die vreugde van jou heer. Hy wat twee talente ontvang het, het ook gekom en gesê: Here, twee talente het U aan my gegee; kyk, ek het nog twee talente by hulle gekry. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg! oor min was jy getrou; oor baie sal Ek jou aanstel as heerser; gaan in in die vreugde van jou heer. Toe kom hy wat die een talent ontvang het en sê: Here, ek het U geken dat jy 'n harde man is wat maai waar jy nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar jy nie gestrooi het nie. En ek was bevrees en het gegaan en jou talent in die aarde verberg; kyk, daar het jy wat joune is. Sy heer het geantwoord en vir hom gesê: Jou slegte en trae dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en insamel waar ek nie gestrooi het nie. U moes dus my geld by die wisselaars gesit het, en dan sou ek my geld met woeker ontvang het by my koms. Neem dan die talent van hom af en gee dit aan hom wat tien talente het. Want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook wat hy het, weggeneem word. En werp die nuttelose dienskneg in die buitenste duisternis: daar sal geween wees en gekners van die tande. Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op die troon van sy heerlikheid sit. En voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar skei soos 'n herder sy skape van die bokke skei. En hy moet die skape aan sy regterhand sit, maar die bokke aan die linkerkant. Dan sal die Koning vir hulle aan sy regterhand sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want ek was honger, en julle het vir my vleis gegee; ek was dors, en julle het my te drinke gegee; ek was 'n vreemdeling, en julle het my ingeneem. Naak, en julle het My aangetrek; ek was siek, en julle het My besoek; Ek was in die tronk, en julle het na My toe gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed? of dors en jou laat drink het? Wanneer het ons jou 'n vreemdeling gesien en jou ingeneem? of naak en vir jou geklee? Of wanneer het ons jou siek of in die gevangenis gesien en na jou toe gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broers van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir hulle aan die linkerkant sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want ek was honger, en julle het my geen vleis gegee nie; ek was dors, en julle het my nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie opgeneem nie: naak, en julle het My nie aangetrek nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger of dors of vreemdeling of naak of siek of in die tronk gesien en U nie gedien nie? Dan sal hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie aan een van die geringstes van hierdie gedoen het nie, het julle dit nie aan My gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

MATTEUS 25:1-46 Die Boodskap (DB)

Jesus vertel toe vir hulle nog ’n verhaal oor hoe dit in God se nuwe wêreld gaan wees: “Daar was tien jongmeisies wat ’n troue wou bywoon. Soos die gewoonte is, het hulle hulle lampe gevat en die bruidegom langs die pad gaan inwag. Hy moes sy bruid deur die loop van die aand by haar huis gaan haal. Niemand het egter die presiese tyd geweet wanneer die bruidegom en sy vriende sou kom nie. Hulle was nog by sy huis besig om partytjie te hou. Die helfte van die meisies was slim genoeg om ekstra lampolie saam te vat, ingeval die bruidegom nie gou kom nie. “Dit was toe ook so. Die bruidegom het nie gou gekom nie. Hulle het gewag en gewag. Later het hulle vaak begin word en aan die slaap geraak. In die middel van die nag skree iemand skielik: ‘Word wakker; die bruidegom kom! Gaan verwelkom hom!’ Die jong- meisies vlieg toe vinnig op en begin hulle lampe regkry. Op daardie oomblik het die vyf wat nie ekstra olie saamgebring het nie, hulle fout agtergekom. Hulle lampe het intussen doodgegaan omdat hulle olie op was. So kon hulle nie die bruidegom gaan verwelkom nie. Dit sou ’n belediging vir hom wees. Hulle bedel toe olie by die vyf wat slim genoeg was om ekstra olie saam te bring. Maar die slimmes sê: ‘Ons is vreeslik jammer, maar ons kan nie vir julle van ons olie gee nie. Daar is te min vir ons almal. Gaan koop gou vir julle.’ Die vyf is toe daar weg, maar helaas, die bruidegom was vinniger as hulle. Terwyl hulle weg was, kom hy toe daar aan. Almal wat met hulle lampe gereed gestaan het, het hom vriendelik verwelkom. Die deur is toegemaak en die onthaal het begin. “Later daardie aand kom die ander vyf uiteindelik daar aan. Maar die deur was klaar toe. Hulle het probeer roep: ‘Meneer, Meneer, maak die deur vir ons oop!’ Maar die bruidegom sê vir hulle: ‘Julle kan nie my vriende wees nie. Julle het my dan nie kom verwelkom nie.’ “Julle moet nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. “Wees altyd gereed vir die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is belangrik omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.” “Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg. “Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek. “Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’ Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’ “Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’ Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker. “Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê. Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’ Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle. Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het. Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.” “Wanneer die Seun van God kom, sal almal sien hoe belangrik Hy is. Al sy engele sal saam met Hom kom. Hy sal op die troon gaan sit waar net die belangrikste Een, die Koning self, mag sit. Dan sal al die mense voor Hom bymekaargebring word. Hy sal die mense in twee groepe verdeel, soos ’n skaapwagter bokke en skape van mekaar skei. Hy sal die een groep regs van Hom laat staan en die ander groep aan sy linkerkant. “Die Koning sal dan na die mense regs van Hom draai. ‘Staan nader, want my Vader is baie tevrede met julle. Heel van die begin af het Hy die hemel vir mense soos julle reggemaak. Hy wil hê dat julle dit saam met Hom moet kom geniet. Maar weet julle waarom God so tevrede met julle is? Laat Ek julle vertel. Ek het niks gehad om te eet nie, maar julle het My kos gegee. Toe Ek dors was, was julle daar met ’n glas water. Toe Ek nog vir julle ’n onbekende was, het julle My al in julle huise verwelkom en selfs slaapplek gegee. Julle het vir My klere gegee toe Ek niks gehad het om aan te trek nie. Op my siekbed het julle My geduldig versorg. Toe Ek in die tronk beland het, het julle julle nie vir My geskaam nie, maar vir My kom kuier.’ “Die mense wat reg gelewe het, onderbreek Hom: ‘Here, wag so ’n bietjie. Waarvan praat U? Wanneer het ons U kos gegee toe U honger was of ’n glas water toe U dors was? Ons kan nie onthou dat ons ooit vir U klere of blyplek gegee het nie. Help ons, asseblief, ons verstaan nie mooi nie. Wanneer was U siek of in die tronk en het ons U gehelp?’ “Die Koning op die troon antwoord: ‘Wil julle regtig weet wanneer julle hierdie dinge vir My gedoen het? Luister dan goed: elke glas water of stukkie brood wat julle aan ’n broer van My gegee het, het julle eintlik aan My gegee. Wie my vriende help, al is hulle hoe onbelangrik, help My.’ “Die Koning sal dan na die groep aan sy linkerkant draai. ‘Trap! Weg voor My! God wil niks met julle te doen hê nie! Die hel wag vir julle. God het dit spesiaal reggemaak vir die duiwel en al sy helpers. Wil julle weet waarom? Toe Ek so gesmag het na ’n stukkie brood, wou julle nie eens vir My ’n krummeltjie gee nie. Julle wou My nie ’n druppel water gee toe Ek dors was nie. Julle wou My nie in julle huise ontvang toe Ek vir julle nog vreemd was nie. Klere wou julle nie vir My gee nie, selfs toe Ek nie ’n draad klere gehad het om aan te trek nie. So kan Ek aanhou. Ek was siek en in die tronk, maar julle het niks tyd vir My oorgehad nie.’ “Vinnig vra hulle: ‘Here, ons verstaan nie wat U bedoel nie. Sê vir ons, wanneer het al hierdie dinge gebeur? Gee vir ons een voorbeeld van wanneer U honger of dors of kaal of siek of in die tronk was of waar U vreemd en alleen tussen ons was en ons U nie wou help nie.’ “Hy sê: ‘Luister nou mooi. As julle een van my vriende, al lyk hy vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal, wie my vriende help, help My.’ “Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef.”

MATTEUS 25:1-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“In daardie tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met tien meisies wat met hulle lampe die bruidegom gaan inwag het. Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig. Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie. Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat. Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’ “Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry. Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’ Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’ “Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit. Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’ Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’ “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.” “Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is. Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel. Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel. Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het. Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’ “Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ “Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie. Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’ “Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie? Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’ “Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word. En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’” “Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al sy engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei. Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant. Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereedgemaak het. Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’ “Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink? En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee? En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’ En die Koning sal vir hulle antwoord: ‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’ “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereedgemaak is vir die duiwel en sy bose engele! Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’ “Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’ Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’ “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid