Matteus 23:23-39

Matteus 23:23-39 AFR20

“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle •sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg. So sal alle regverdige bloed wat op aarde vergiet is, vir julle toegereken word, van die bloed van Abel, die regverdige, tot by die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. •Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom.” “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.’ ”