MATTEUS 23:23-39

MATTEUS 23:23-39 Bybel vir almal (ABA)

“Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Want julle gee tiendes, ook van kruisement, anys en koljander, maar julle doen nie die belangrikste dinge wat die wette van God vra nie. Die belangrikste dinge is: Julle moet reg doen aan mense, julle moet goed wees vir mense en julle moet doen wat julle belowe het. Hierdie dinge moet julle doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie. Julle is blindes wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle is soos mense wat water deur 'n doek gooi sodat hulle nie 'n klein muggie sal insluk nie, maar hulle sluk 'n kameel in. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg. Fariseër, jy wat blind is, jy moet eers die binnekant van die beker skoonmaak, dan sal die buitekant ook skoon wees. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle is soos grafte wanneer mense dit wit geverf het. Die buitekant lyk mooi, maar binne-in is dit vol bene van dooie mense en ander dinge wat onrein is. Julle is ook so: Wanneer mense na julle kyk, dan lyk julle soos mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, maar in julle harte is julle skynheilig en doen julle nie wat God se wette sê nie. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle bou grafkamers vir die profete en julle maak die monumente mooi vir die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here. “Julle sê: ‘As ons gelewe het in die tyd toe ons voorouers gelewe het, dan sou ons nie vir hulle gehelp het om die profete te vermoor nie.’ So sê julle self dat julle die nageslag is van die mense wat die profete vermoor het. Julle moet klaarmaak wat julle voorouers begin het! Julle is soos slange, soos 'n klomp adders! Wie het vir julle gesê julle kan vlug sodat God julle nie sal straf in die hel nie? Daarom, Ek sal nou profete en wyse mense en skrifgeleerdes na julle toe stuur. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig. Julle sal party van hulle met swepe slaan in julle sinagoges, en julle sal hulle jaag en in elke stad laat swaarkry. Ek stuur hulle sodat God vir julle kan straf omdat julle baie onskuldige mense op die aarde vermoor het. Julle het begin by die onskuldige Abel, julle het hom vermoor en julle het aangehou om onskuldige mense te vermoor totdat julle ook vir Sagaria seun van Berekja vermoor het. Julle het hom vermoor tussen die tempel en die altaar. Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal julle straf oor alles, julle wat nou lewe.” Jesus het ook gesê: “Mense van Jerusalem, julle maak die profete dood, julle gooi die boodskappers wat God na julle toe gestuur het, dood met klippe. Mense van Jerusalem, Ek wou julle baie maal bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie kom nie. Julle moet nou goed luister: Daar sal niemand in Jerusalem oorbly wat lewe nie. Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af nie weer sien nie tot daardie dag wanneer julle sal sê: ‘ Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen.’ ”

MATTEUS 23:23-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het. Maak die maat van julle vaders dan vol! Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!

MATTEUS 23:23-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk die kameel in. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees. “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes, en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’ Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete. Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het! “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.” “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! ”

MATTEUS 23:23-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Blinde leiers! Julle sif die muggie uit, maar sluk die kameel in. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roofsug en onbeheersdheid. Blinde Fariseër! Maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal ook die buitekant skoon wees. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van •onreinheid. So lyk julle inderdaad ook van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol skynheiligheid en wetteloosheid. “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die •regverdiges. En julle sê, ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie.’ Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle •sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg. So sal alle regverdige bloed wat op aarde vergiet is, vir julle toegereken word, van die bloed van Abel, die regverdige, tot by die bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. •Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom.” “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.’ ”

MATTEUS 23:23-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle betaal tiendes van kruisement en anys en komyn, en die swaarste sake van die wet, oordeel, barmhartigheid en geloof het julle nagelaat; dit behoort julle te doen en die ander nie ongedaan te laat nie. Julle blinde leiers, julle wat 'n muggie uitsif en 'n kameel insluk. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is dit vol afpersing en oorvloed. Blinde Fariseër, reinig eers wat binne-in die beker en die skottel is, sodat die buitekant van hulle ook rein kan wees. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle is soos gewitte grafte wat van buite wel mooi lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook uiterlik vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol huigelary en ongeregtigheid. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! omdat julle die grafte van die profete bou en die grafte van die regverdiges versier, En sê: As ons in die dae van ons vaders was, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie. Daarom is julle getuies vir julleself dat julle die kinders is van hulle wat die profete doodgemaak het. Vul dan die maat van julle vaders. Slange, addergeslag, hoe kan julle die verdoemenis van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle; en sommige van hulle sal julle doodmaak en kruisig; en sommige van hulle moet julle in julle sinagoges gésel en hulle van stad tot stad vervolg. Sodat al die regverdige bloed wat op die aarde vergiet is, oor julle kan kom, van die bloed van die regverdige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Barágja, wat julle tussen die tempel en die altaar doodgemaak het. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. O Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, jou huis word vir jou woes gelaat. Want Ek sê vir julle, julle sal My van nou af nie sien nie, totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.

MATTEUS 23:23-39 Die Boodskap (DB)

“Ek waarsku julle, Fariseërs en Joodse teoloë. Julle is pynlik presies oor hoe julle kerk hou en julle werk julle tiendes tot op die laaste sent uit. Maar as dinge gedoen moet word wat regtig vir God saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om vir almal ’n regverdige kans te gee; of dat julle so vir mense omgee dat julle hulle graag wil help; of dat mense weet dat hulle julle kan vertrou. Ek sê nou nie die ander dinge wat julle doen, is noodwendig verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook die dinge doen wat regtig vir God saak maak nie. “Maar nou het julle van die godsdiens iets gemaak wat dit nie is nie. Julle het alles deurmekaargekrap. Wat belangrik is, het julle onbelangrik gemaak, en wat onbelangrik is, het julle belangrik gemaak. Julle is regtig soos mense wat vreeslik oor ’n sent baklei, maar julle nie aan 100 rand steur nie. “Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak, maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk. Hoe hulle egter van binne lyk, pla julle glad nie. Hulle kan selfs maar vol haat en allerhande ander lelike dinge wees, dit maak nie saak nie. Fariseërs, maak tog asseblief julle oë oop! Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is. Dan sal die skottel weer gebruik kan word.” “Julle is regtig op die verkeerde pad. Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras! Grafte laat My aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as ’n mens ’n bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.” “Julle rig groot grafstene op vir julle belangrike mense. Julle bou monumente vir julle helde van ouds en sit gedurig met eerbied blomme daar neer. Hieroor is julle ernstig. Julle beweer dat as julle destyds geleef het, julle nie hierdie manne van God kwaad sou aangedoen of sou doodgemaak het soos die mense destyds gedoen het nie. Maar julle is maar net die kinders van daardie mense wat die manne van God vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie. Julle voorouers het die beker halfpad met die bloed van die manne van God volgemaak. Toe, maak julle nou maar daardie werk vir hulle klaar. Maak die beker vol! “Julle klomp bedrieërs! Dink julle julle sal julle uit die hel kan loslieg? Dink dan maar weer! Daarom stuur Ek aanhoudend manne van God na julle toe. Hulle probeer julle op allerhande maniere op die regte pad help. En wat doen julle met hulle? Hierdie een gryp julle en maak hom dood. Daardie een laat julle aan ’n kruis vasslaan. Ander verneder julle voor almal deur hulle by julle vergaderings uit te skel en selfs te slaan. As hulle probeer wegkom, probeer julle dit ook vir hulle so moeilik moontlik maak. Oral waar hulle gaan, is dit dieselfde storie: belediging en vervolging. Daarvoor sorg julle maar alte goed. “Maar julle skuld hoop op. Glo My, God sal julle aankla vir elke druppel bloed van elke goeie mens wat op die grond geval het. Hy gaan julle by Abel begin aankla. Abel was mos ’n goeie mens, maar hy is doodgemaak. Een vir een sal julle na God se aanklagte moet luister tot by Sagaria, Berekja se seun. Julle het hom mos in die middel van die tempel reg voor God se oë doodgemaak. Ek sê julle, julle is net so skuldig soos julle voorouers. God sal julle nie laat loskom nie. “Ai, wat maak julle, mense van Jerusalem? Julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood. Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek het oor julle gevoel soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het julle rug vir My gedraai. Daarom kan dit nie anders nie. Daar sal niks vir julle oorbly nie. Alles om julle gaan inmekaarstort. Jerusalem gaan ’n spookdorp word. “Wat kan Ek nog sê? Ek het niks meer om vir julle te sê nie. Ons paaie sal nie weer op hierdie manier kruis nie, in elk geval nie voor die dag waarop julle sal erken en sal moet uitroep nie: ‘God is baie goed vir Hom wat op die gesag van die Here kom.’”

MATTEUS 23:23-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie. Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af! “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug. Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid. So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet. “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes. “Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’ Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het. En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol! Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug? Let op, Ek sal vir julle profete en wyses en skrifkenners stuur. Julle sal sommige van hulle vermoor en kruisig en julle sal ander in julle sinagoges met swepe slaan en van die een dorp na die ander vervolg. “So sal julle skuldig word aan die moord op al die vromes, van die regverdige Abel af tot by Sagaria, die seun van Berekja, wat julle by die tempel, tussen die heiligdom en die altaar vermoor het. “Ek verseker julle, al die opgehoopte oordeel sal losbars oor hierdie generasie.” “O Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoeveel maal wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar jy wou My dit nie toelaat nie! “Julle moet besef, julle woning word vir julle verlate agtergelaat. Ek verseker julle, julle sal My van nou af nooit weer sien nie tot op die dag wanneer julle sal sê: ‘Geseënd is die Een wat kom in die Naam van die Here!’”