Matteus 21:1-22

Matteus 21:1-22 AFR20

Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik 'n vasgemaakte donkie vind met 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op 'n donkie, en op 'n jong donkie, die vul van 'n pakdier. ” Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het. Hulle het die donkie en die vul geneem, boklere op hulle neergesit, en Hy het daarop gaan sit. Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna vir die •Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste!” Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.” Jesus het die tempelterrein binnegegaan en almal wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, uitgejaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi en vir hulle gesê: “Daar staan geskryf, ‘My huis sal 'n huis van gebed genoem word’. Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak!” Blindes en verlamdes het daar op die tempelterrein na Hom gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. Toe die leierpriesters en skrifkenners die wonderbaarlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat op die tempelterrein uitroep, “Hosanna vir die •Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig en het vir Hom gesê: “Hoor jy wat sê hierdie kinders?” Maar Jesus antwoord hulle: “Ja, het julle nog nooit gelees nie, ‘Uit die mond van kleuters en suigelinge het U lof vir U laat opklink’?” Hy het hulle verlaat, uit die stad uit na Betanië gegaan, en daar oornag. Vroegoggend, op pad terug na die stad, het Hy honger geword. Toe Hy 'n enkele vyeboom langs die pad sien, het Hy daarheen geloop, maar niks daaraan gevind nie, net blare. Toe sê Hy vir die vyeboom: “Mag jy tot in ewigheid nooit weer vrug dra nie!” Die vyeboom het onmiddellik verdroog. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en vra: “Hoe het die vyeboom so skielik verdroog?” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê, ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”