Matteus 16:1-28

Matteus 16:1-28 AFR20

Die •Fariseërs en •Sadduseërs het toe nader gekom om Hom te toets, en Hom gevra om vir hulle 'n teken uit die hemel te wys. Daarop het Hy hulle geantwoord: “In die laat namiddag sê julle, ‘Dit sal mooi weer wees, want die hemel is rooi.’ En vroegoggend, ‘Vandag is dit stormweer, want die hemel is rooi en dit raak betrokke.’ Julle weet dus hoe om die voorkoms van die hemel te beoordeel, maar nie die tekens van die tye nie? 'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona. ” En Hy het hulle agtergelaat en weggegaan. Toe die dissipels na die oorkant vaar, het hulle vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: “Pasop, en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en •Sadduseërs.” Hulle het toe onder mekaar bespiegel en gesê: “Ons het nie brood saamgebring nie.” Jesus het dit agtergekom en gesê: “Kleingelowiges, waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie die vyf brode vir die vyfduisend en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Of die sewe brode vir die vierduisend, en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Hoe kan julle dan nie begryp dat Ek nie oor brood met julle gepraat het nie? Nee, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” Toe het hulle ingesien dat Hy nie bedoel het hulle moet vir die suurdeeg van brood op hulle hoede wees nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die •Seun van die Mens?” Hulle het geantwoord: “Sommige sê Johannes die Doper, ander Elia, en ander weer Jeremia, of een van die profete.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die •Christus, die •Seun van die lewende God.” Jesus antwoord hom: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele. En Ek sê vir jou, jy is •Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Ek sal vir jou die sleutels van die •koninkryk van die hemele gee, en wat jy ook al op aarde toesluit, sal in die hemele toegesluit wees, en wat jy ook al op aarde vrylaat, sal in die hemele vrygelaat wees. ” Daarop het Hy die dissipels beveel om vir niemand te vertel dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus begin om aan sy dissipels duidelik te maak dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners, en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word. •Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit 'n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want die •Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom, beklee met die heerlikheid van sy Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het. •Amen, Ek sê vir julle, sommige van dié wat hier staan, sal die dood beslis nie smaak voordat hulle die Seun van die Mens in sy koningsheerskappy sien kom het nie. ”