MATTEUS 16:1-28
MATTEUS 16:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen. Maar Hy antwoord hulle: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’ in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie. 'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.” Hy het hulle daar gelaat en weggegaan. Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.” Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs. Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe? Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”
MATTEUS 16:1-28 Bybel vir almal (ABA)
Fariseërs en Sadduseërs het na Jesus toe gekom om Hom te toets en te kyk wat Hy doen. Daarom het hulle Hom gevra om vir hulle 'n wonderteken te wys wat van God kom. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer die lug rooi is in die aand, dan sê julle dit sal mooiweer wees. Maar wanneer die lug vroeg in die oggend rooi en bewolk is, dan sê julle daar kom 'n storm. Julle kan na die lug kyk en die weer voorspel, maar julle verstaan nie die tekens wat wys wat nou gebeur nie. Die slegte en sondige mense wat nou lewe, wil 'n wonderteken hê en 'n bewys sien. God sal nie 'n wonderteken vir hulle wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, en dit is die teken van Jona.” En Jesus het hulle daar gelos en weggegaan. Die dissipels van Jesus het na die ander kant van die see gegaan en hulle het vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van die Sadduseërs.” Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood saamgeneem het nie. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle so met mekaar oor die brood wat julle nie het nie? Hoekom is julle geloof so min? Verstaan julle nog nie? Onthou julle die vyf brode wat genoeg was vir die 5 000 mense, en hoeveel mandjies vol julle opgetel het? En onthou julle die sewe brode vir die 4 000 mense, en hoeveel groot mandjies vol julle opgetel het? Hoekom verstaan julle nie? Ek het nie oor brood met julle gepraat nie, nee, julle moet oppas vir die suurdeeg van die Sadduseërs en die Fariseërs.” Toe het hulle verstaan dat Jesus nie gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie, maar dat Hy gesê het hulle moet oppas vir die dinge wat die Fariseërs en Sadduseërs vir die mense leer. Jesus het na plekke naby die stad Sesarea-Filippi gegaan. Hy vra toe vir sy dissipels: “Wat sê die mense, wie is Ek, die Seun van die mens?” Die dissipels sê toe: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party sê U is Elia, en party sê U is Jeremia of een van die profete.” Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê julle? Wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die God wat lewe.” Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Simon seun van Jona, God sal jou seën. Dit is nie 'n mens wat vir jou gehelp het om dit te weet nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, die rots, en Ek sal my kerk op hierdie rots bou. Vyande sal my kerk nie oorwin nie, die dood sal dit ook nie doen nie. Ek gee vir jou die sleutels van my huis. Jy sal oopsluit en jy sal toesluit. Jy sal vir mense leer dat God Koning is oor hulle. Almal wat nie by jou die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat Hy na Jerusalem moet gaan en dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom begin raas. Petrus het gesê: “Here, ek bid dat God dit sal keer, dit sal nooit met U gebeur nie!” Jesus het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy wil hê Ek moet verkeerd doen. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan 'n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe? Want Ek, die Seun van die mens, sal gou saam met die engele kom om Koning te wees soos my Vader Koning is. Dan sal Ek elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat Ek, die Seun van die mens, kom om Koning te wees. Hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”
MATTEUS 16:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die Fariseërs en Sadduseërs het nader gekom om Hom te versoek en het Hom gevra om hulle 'n teken uit die hemel te laat sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie? 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan. En toe sy dissipels na die oorkant gegaan het, het hulle vergeet om brode saam te neem. Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brode saamgeneem het nie. Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie? Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyfduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie? Of die sewe brode van die vierduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie? Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs nie? Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie. Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense. TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.
MATTEUS 16:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen. Maar Hy antwoord hulle: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’ in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie. 'n Slegte en afvallige geslag wil 'n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.” Hy het hulle daar gelaat en weggegaan. Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.” Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs. Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe? Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”
MATTEUS 16:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die •Fariseërs en •Sadduseërs het toe nader gekom om Hom te toets, en Hom gevra om vir hulle 'n teken uit die hemel te wys. Daarop het Hy hulle geantwoord: “In die laat namiddag sê julle, ‘Dit sal mooi weer wees, want die hemel is rooi.’ En vroegoggend, ‘Vandag is dit stormweer, want die hemel is rooi en dit raak betrokke.’ Julle weet dus hoe om die voorkoms van die hemel te beoordeel, maar nie die tekens van die tye nie? 'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van Jona. ” En Hy het hulle agtergelaat en weggegaan. Toe die dissipels na die oorkant vaar, het hulle vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: “Pasop, en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs en •Sadduseërs.” Hulle het toe onder mekaar bespiegel en gesê: “Ons het nie brood saamgebring nie.” Jesus het dit agtergekom en gesê: “Kleingelowiges, waarom redekawel julle daaroor dat julle nie brood het nie? Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie die vyf brode vir die vyfduisend en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Of die sewe brode vir die vierduisend, en hoeveel mandjies julle bymekaargemaak het nie? Hoe kan julle dan nie begryp dat Ek nie oor brood met julle gepraat het nie? Nee, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” Toe het hulle ingesien dat Hy nie bedoel het hulle moet vir die suurdeeg van brood op hulle hoede wees nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. Toe Jesus in die gebied van Caesarea-Filippi kom, het Hy sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die •Seun van die Mens?” Hulle het geantwoord: “Sommige sê Johannes die Doper, ander Elia, en ander weer Jeremia, of een van die profete.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die •Christus, die •Seun van die lewende God.” Jesus antwoord hom: “Gelukkig is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou bekend gemaak nie, maar my Vader in die hemele. En Ek sê vir jou, jy is •Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Ek sal vir jou die sleutels van die •koninkryk van die hemele gee, en wat jy ook al op aarde toesluit, sal in die hemele toegesluit wees, en wat jy ook al op aarde vrylaat, sal in die hemele vrygelaat wees. ” Daarop het Hy die dissipels beveel om vir niemand te vertel dat Hy die Christus is nie. Van toe af het Jesus begin om aan sy dissipels duidelik te maak dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners, en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word. •Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit 'n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want die •Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom, beklee met die heerlikheid van sy Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het. •Amen, Ek sê vir julle, sommige van dié wat hier staan, sal die dood beslis nie smaak voordat hulle die Seun van die Mens in sy koningsheerskappy sien kom het nie. ”
MATTEUS 16:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die Fariseërs het ook saam met die Sadduseërs gekom en Hom versoek om aan hulle 'n teken uit die hemel te toon. Hy antwoord en sê vir hulle: As dit aand word, sê julle: Dit sal mooi weer wees, want die lug is rooi. En in die môre sal dit vandag ongure weer wees, want die lug is rooi en donker. O julle geveinsdes, julle kan die aangesig van die hemel onderskei; maar kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie? 'n Slegte en owerspelige geslag soek 'n teken; en daar sal geen teken aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. En hy het hulle verlaat en weggegaan. En toe sy dissipels aan die oorkant kom, het hulle vergeet om brood te neem. Toe sê Jesus vir hulle: Pas op en pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs. En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brood geneem het nie. En toe Jesus dit sien, sê Hy vir hulle: Kleingelowiges, waarom redeneer julle onder mekaar omdat julle geen brood gebring het nie? Verstaan julle nog nie en dink julle nie aan die vyf brode van die vyfduisend en hoeveel mandjies julle opgetel het nie? Ook nie die sewe brode van die vier duisend, en hoeveel mandjies het julle opgetel nie? Hoe is dit dat julle nie verstaan dat Ek dit nie vir julle oor brood gespreek het nie, dat julle moet oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs? Toe het hulle verstaan dat Hy hulle beveel het om nie te waak vir die suurdeeg van brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs. Toe Jesus in die gebied van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense is Ek, die Seun van die mens? En hulle sê: Sommige sê dat jy Johannes die Doper is; en ander, Jeremias, of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. En Jesus antwoord en sê vir hom: Geseënd is jy, Simon Barjona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou, dat jy Petrus is, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy ook al op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees; en wat jy ook al op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Toe het Hy sy dissipels bevel gegee om vir niemand te sê dat Hy Jesus die Christus is nie. Van daardie tyd af het Jesus begin om aan sy dissipels te wys hoe Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom en begin Hom te bestraf en sê: Laat dit ver van U wees, Here, dit sal U nie oorkom nie. Maar hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter my, Satan! Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; en elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en sy eie siel skade ly? of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy siel? Want die Seun van die mens sal kom in die heerlikheid van sy Vader met sy engele; en dan sal hy elkeen beloon volgens sy werke. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige wat hier staan, wat die dood nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.
MATTEUS 16:1-28 Die Boodskap (DB)
’n Groepie Fariseërs en Sadduseërs het op die toneel verskyn om Jesus in die openbaar te probeer verneder. Hulle het Hom voor die mense uitgedaag om ’n wonderwerk te doen. Jesus het egter vir hulle gesê: “Julle weet mos goed om die weer te voorspel. In die aand sê julle: ‘Môre gaan dit mooi weer wees. Kyk net hoe rooi is die lug.’ En wanneer die lug toegetrek is, sê julle: ‘Vandag gaan dit onweer wees.’ As julle so goed is met die weer, hoekom kan julle dan nie die tyd reg lees nie? Kan julle nie sien wie nou by julle is nie? “Julle spul sondaars is op soek na tekens. Julle wil ’n bewys hê dat God deur My werk. Weet julle, dit is net sy vyande wat allerhande tekens wil hê. Die enigste ‘teken’ wat Ek bereid is om vir julle te gee, is dié van Jona wat drie dae lank in die maag van ’n vis was. My lewe sal ook vorentoe soos dié van Jona verloop.” Jesus het toe omgedraai en weggestap. ’n Rukkie later, toe hulle onderweg was na die oorkant van die See van Galilea, het die dissipels agtergekom dat hulle vergeet het om brood te koop. Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet baie versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Die dissipels het saggies vir mekaar gesê dat Hy seker maar verwys na die feit dat hulle vergeet het om brood te koop. Jesus het egter goed geweet wat hulle onder mekaar sê. “Hoekom is julle bekommerd omdat julle vergeet het om brood te koop?” vra Hy. “Julle is regtig kleingelowig. Vergeet julle so gou? Onthou julle dan nie meer hoeveel mandjies oorskietkos julle opgetel het nadat Ek vir 5 000 mense met vyf brode kos gegee het nie? En wat van die ander keer toe Ek vir 4 000 mense met sewe brode kos gegee het? Toe het daar ook ’n hele klomp mandjies vol kos oorgebly. Hoe kan julle dan nog dink dat Ek oor kos gepraat het toe Ek gesê het dat julle moet lig loop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs?” Toe begryp die dissipels dat Jesus nie met hulle gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie. Hulle het besef dat Hy hulle wou waarsku teen die verkeerde leringe van die Fariseërs en die Sadduseërs. Dit is soos suurdeeg wat ’n mens se hele lewe deurmekaarkrap. Toe Jesus op ’n dag naby die stad Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê U is Johannes die Doper wat weer lewendig geword het. Ander sê weer Elia. Nog ander sê U is Jeremia of een van die profete.” Jesus vra hulle toe trompop: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?” Simon Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.” Daarop sê Jesus: “Jy is baie gelukkig, Simon seun van Jona! Want jy het dit nie by ander mense gehoor nie. Nee, my Vader in die hemel het self hierdie groot waarheid aan jou bekendgemaak. “Noudat jy gesê het wie Ek is, gaan Ek ook vir jou sê wie jy regtig is. Jy is Petrus, die rots. Op hierdie rots sal Ek my kerk bou. Hierdie belydenis is so groot dat selfs nie eens die grootste magte van die hel sterk genoeg is om dit stil te maak nie. “Ek gaan ook vir jou die sleutels van God se nuwe wêreld gee. Jy kan nou die pad daarheen vir ander mense oopsluit en toesluit. Jy moet in my Naam vir mense sê hoe om daar te kom. Op hierdie manier sluit jy dan die deur na God se koninkryk vir hulle oop. Wanneer hulle nie na jou wil luister nie, moet jy vir hulle sê dat God se oordeel op hulle rus. So sluit jy dan die deur soontoe vir hulle toe.” Nadat Jesus al hierdie dinge vir die dissipels gesê het, het Hy hulle verbied om vir ander mense te sê dat Hy die Messias, God se Gestuurde, is. Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.” Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.” Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af: Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg? “Ek wil julle ook waarsku: Ek, die Seun van die mens, sal binnekort met my engele terugkeer na die wêreld toe. Al die Goddelike heerlikheid van my Vader sal My op daardie dag omring. Dan gaan Ek elke mens se beloning vir hom uitdeel. Ek gaan kyk hoe almal geleef het en vir elkeen gee wat hy verdien. “Ek het egter goeie nuus vir julle: party van julle wat nou na My luister, sal beslis nie doodgaan voordat julle met julle eie oë gesien het hoe Ek op die toneel verskyn nie. Julle sal sien hoe God se nuwe wêreld aanbreek.”
MATTEUS 16:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n dag kom die Fariseërs en Sadduseërs na Jesus toe om die egtheid van sy aansprake te toets. Hulle vra Hom toe om aan hulle ’n Goddelike wonderteken te gee. Hy antwoord hulle toe: “Julle ken die gesegde: ‘Rooi lug skemeraand beteken mooi weer môre; toegetrekte rooi lug met vroegdag beteken slegte weer deur die dag.’ Julle verstaan die kuns om die weervooruitsig uit die tekens in die lug te lees; hoe kan julle dan nie die duidelike tekens raaksien van die besondere tyd waarin julle julle bevind nie? Dit is net ’n slegte en ontroue geslag mense wat ’n wonderteken wil hê. Die enigste teken wat Ek vir hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona.” Hy het hulle toe net daar gelos en weggegaan. Later, nadat hulle die see oorgesteek het, ontdek die dissipels dat hulle vergeet het om kos saam te neem. Jesus sê toe vir hulle: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood saamgebring het nie.” Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom argumenteer julle onder mekaar, dat julle nie brood het nie? Het julle so min vertroue in My? Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie van die vyf brode vir die 5 000, en hoeveel mandjies vol julle agterna bymekaargemaak het nie? En die sewe brode vir die 4 000, en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? Hoe kan dit ooit in julle gedagtes opkom dat Ek oor gewone kos praat? Daarom sê Ek nou weer vir julle: ‘Oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs!’” Toe het hulle einde ten laaste ingesien dat Hy hulle nie waarsku teen gewone suurdeeg wat vir brood gebruik word nie, maar teen die beskouings van die Fariseërs en die Sadduseërs. Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” “Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.” Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie. Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’” Hy gee toe streng opdrag aan sy dissipels om vir niemand te vertel dat Hy die Messias is nie. Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek. Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!” Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.” Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader beklee wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade. Dít verseker Ek julle, sommige van julle wat hier staan, sal nie sterf voordat julle sal sien hoe Ek, die Seun van die Mens, kom en regeer in my koninkryk nie.”