Matteus 15:32-39

Matteus 15:32-39 AFR20

Daarop het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur nie, anders kan hulle onderweg beswyk.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar kry ons in hierdie verlate plek genoeg brood om so 'n groot skare te voed? ” Jesus sê vir hulle: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe, en 'n paar vissies.” En nadat Hy die skare beveel het om op die grond te gaan sit, het Hy die sewe brode en die visse geneem, gedank, dit gebreek en vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Hulle het almal geëet en versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar vierduisend mans wat geëet het. Nadat Hy die skare weggestuur het, het Hy in die boot geklim en na die gebied van Magadan gegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid