Matteus 15:21-28

Matteus 15:21-28 AFR20

Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees.