MATTEUS 15:21-28
MATTEUS 15:21-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees.
MATTEUS 15:21-28 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het weggegaan na plekke naby die stede Tirus en Sidon. 'n Kanaänitiese vrou van daardie stede het gekom en sy het aangehou skree. Sy het gesê: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help! Daar is 'n duiwel in my dogter en dit gaan baie sleg met haar.” Maar Jesus het nie die vrou geantwoord nie. Sy dissipels kom toe na Hom toe en hulle het aangehou om vir Hom te vra: “Sê vir die vrou sy moet weggaan, want sy loop saam met ons en sy hou aan skree.” Toe sê Jesus: “God het My gestuur net na die mense van Israel. Hulle is soos verlore skape.” Maar die vrou het na Jesus toe gekom en sy het voor Hom gekniel en gesê: “Here, help my asseblief!” Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Dit is waar, Here, maar ook die hondjies eet van die krummels wat afval van die tafels van hulle eienaars.” Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jou geloof is groot. Wat jy wil hê, sal gebeur.” En God het die vrou se dogter op daardie oomblik gesond gemaak.
MATTEUS 15:21-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek. En 'n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete. Maar Hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.
MATTEUS 15:21-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.” Maar Hy het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!” Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” “Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond.
MATTEUS 15:21-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Jesus daarvandaan gegaan en na die gebiede van Tirus en Sidon vertrek. En kyk, 'n Kanaänse vrou het uit dieselfde gebied gekom en Hom aangeroep en gesê: Wees my genadig, Here, Seun van Dawid! my dogter is erg gekwel deur 'n duiwel. Maar hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. En sy dissipels het gekom en Hom gesmeek en gesê: Stuur haar weg; want sy roep agter ons aan. Maar hy antwoord en sê: Ek is nie gestuur nie, behalwe na die verlore skape van die huis van Israel. Toe kom sy en aanbid Hom en sê: Here, help my! Maar hy antwoord en sê: Dit is nie reg om die brood van die kinders te neem en dit vir die honde te gooi nie. En sy sê: Waarlik, Here, tog eet die honde van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil. En haar dogter is van daardie selfde uur af gesond geword.
MATTEUS 15:21-28 Die Boodskap (DB)
Hierna het Jesus na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. ’n Vrou wat daar gebly het, maar wat nie ’n Israeliet was nie, het na Hom toe gekom en hardop uitgeroep: “Here, Seun van Dawid, help my tog! My kind is in die mag van ’n bose gees.” Jesus het egter gemaak of Hy haar nie hoor nie. Maar sy het nie moed verloor nie. Sy het agter Hom bly aanloop en om genade gepleit. Die dissipels was later baie omgekrap oor hierdie vrou. Hulle sê toe vir Jesus: “Jaag haar weg. Sy maak ons gek met haar geskreeu.” Jesus sê vir die vrou: “Ek het net een taak. Dit is om die mense in Israel wat ver van God af lewe na Hom toe terug te bring.” Hierdie woorde het haar nog nie afgesit nie. Sy het voor Jesus kom neerval en by Hom gepleit: “Here, help my, asseblief!” Hy sê toe vir haar: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos uit Israel se mond te vat en dit vir onrein mense te gee wat nie deel van sy volk is nie.” “Ag, Here, dit is waar,” het sy geantwoord. “Maar partykeer is onrein mense bereid om die oorskietkos te eet wat op die grond beland. U kan gerus voortgaan met u bediening aan Israel. Laat asseblief tog net ’n stukkie van u genade na my kant toe val!” “Weet jy, jou geloof is baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond.
MATTEUS 15:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die gebied van Tirus en Sidon. ’n Nie-Joodse vrou uit daardie omgewing het na Hom toe gekom en aanhou smeek: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my! My dogter is in die mag van ’n bose gees en hy teister haar verskriklik.” Maar Hy het Hom heeltemal doof gehou vir haar. Sy dissipels kom vra Hom toe: “Stuur haar tog weg. Sy hou nie op met tekere gaan al agter ons aan nie.” Hy antwoord hulle: “Ek is net gestuur na die afgedwaalde skape van die volk van Israel.” Sy kom val toe voor Hom neer en sê: “Here, help my tog, asseblief!” Maar Hy antwoord haar: “Dis glad nie reg om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.” Sy het daarop gereageer: “Dit is so, Here, maar selfs die huishondjies eet tog darem van die krummels wat van hulle base se tafel afval.” Daarop antwoord Jesus haar: “Vrou, jou geloof is baie sterk. Jou versoek word toegestaan.” En haar dogter het dadelik gesond geword.