Matteus 15:21-28

Matteus 15:21-28 ABA

Jesus het weggegaan na plekke naby die stede Tirus en Sidon. 'n Kanaänitiese vrou van daardie stede het gekom en sy het aangehou skree. Sy het gesê: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help! Daar is 'n duiwel in my dogter en dit gaan baie sleg met haar.” Maar Jesus het nie die vrou geantwoord nie. Sy dissipels kom toe na Hom toe en hulle het aangehou om vir Hom te vra: “Sê vir die vrou sy moet weggaan, want sy loop saam met ons en sy hou aan skree.” Toe sê Jesus: “God het My gestuur net na die mense van Israel. Hulle is soos verlore skape.” Maar die vrou het na Jesus toe gekom en sy het voor Hom gekniel en gesê: “Here, help my asseblief!” Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Dit is waar, Here, maar ook die hondjies eet van die krummels wat afval van die tafels van hulle eienaars.” Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jou geloof is groot. Wat jy wil hê, sal gebeur.” En God het die vrou se dogter op daardie oomblik gesond gemaak.