Matteus 12:9-21

Matteus 12:9-21 AFR20

Toe het Jesus daarvandaan vertrek en hulle •sinagoge binnegegaan. En kyk, daar was 'n man met 'n verdorde hand. Om Hom te kon aankla, vra hulle Hom toe: “Is dit toelaatbaar om iemand op die Sabbat gesond te maak?” Hy het egter vir hulle gesê: “Watter mens onder julle wat net een skaap het, sal dit nie gryp en uithaal as dit op die Sabbat in 'n sloot val nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen. ” Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit uitgesteek en dit het gesond geword, gesond soos die ander een. Die •Fariseërs het toe uitgegaan en planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring. Toe Jesus dit agterkom, het Hy daarvandaan weggegaan. Groot skares het Hom gevolg. Hy het hulle almal gesond gemaak en gewaarsku om Hom nie bekend te laat word nie. So sou vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Kyk, my Dienskneg wat Ek gekies het, my Geliefde oor wie Ek My verbly! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal die reg aan die nasies verkondig. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie; sy stem sal 'n mens nie in die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, en 'n rokende lamppit sal Hy nie uitdoof nie, totdat Hy die reg laat seëvier. En op sy Naam sal die nasies hulle hoop vestig.”