MATTEUS 12:9-21

MATTEUS 12:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het daarvandaan vertrek en in een van hulle sinagoges ingegaan. Daar sien Hy ’n man met ’n misvormde hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat gesond maak?” (Hulle het natuurlik gehoop Hy sou ja antwoord sodat hulle ’n klag teen Hom kon lê.) Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie! Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.” Daarna sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en dit het gesond geword. Dit was normaal net soos die ander een. Daarop het die Fariseërs uitgegaan en gaan beplan hoe hulle Jesus uit die weg sou ruim. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom. Hy het al die siekes onder hulle gesond gemaak. Hy het hulle ernstig verbied om oral uit te basuin wie Hy is. So het die uitspraak van die profeet in vervulling gegaan: “Hier is my Dienskneg wat Ek uitgekies het. Hom het Ek lief. Hy maak my hart baie bly. Ek sal my Gees op Hom laat rus en Hy sal my besluit aan die nasies bekendmaak. Hy sal nie met mense stry of ’n groot lawaai maak nie. Hy sal nie sy stem in die openbaar verhef nie. Hy sal dié wat reeds geknak is, nie nog verder verbrysel nie en die vonkie hoop wat nog oorgebly het, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy my besluit laat seëvier. Ja, op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

MATTEUS 12:9-21 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het verder gegaan en Hy het in 'n sinagoge van die Jode ingegaan. In die sinagoge was daar 'n man met 'n gebreklike hand. Party van die Jode wou Jesus beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. Toe vra hulle vir Hom: “Mag 'n mens iemand gesond maak op die Sabbatdag?” Jesus het vir hulle gesê: “As een van julle een skaap het, en die skaap val op die Sabbatdag in 'n watersloot, wat sal julle doen? Julle sal dadelik die skaap gryp en uit die sloot uithaal. En 'n mens is vir God baie belangriker as 'n skaap. Daarom mag 'n mens op die Sabbatdag goeie dinge aan mense doen.” Jesus sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond, dit was soos die ander hand. Die Fariseërs het uitgegaan en hulle het planne gemaak om Jesus dood te maak. Jesus het geweet wat die Fariseërs wil doen, en Hy het weggegaan van daardie stad. Daar was baie mense wat saam met Jesus gegaan het. Hy het al die siek mense gesond gemaak. Maar Jesus het vir die mense gesê hulle mag nie vir ander mense vertel van Hom nie. Jesus het dit gesê sodat die woorde waar kan word wat die profeet Jesaja geskryf het: “God sê: Hier is my Dienaar. Ek het Hom gekies om vir My te werk. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly. Ek sal my Heilige Gees vir Hom gee en Hy sal vir al die volke vertel wat Ek wil hê. Hy sal nie met mense stry nie en Hy sal nie skree nie. Die mense in die strate sal Hom nie hoor praat nie. Die Dienaar sal nie 'n stukkende riet afbreek nie. Hy sal nie 'n lamp wat dof brand, doodblaas nie. Ja, Hy sal jammer wees vir die mense wat swaarkry en wat swak is. Hy sal dit doen totdat Ek gedoen het wat Ek wil doen. Al die volke sal seker weet dat die Dienaar hulle sal red.”

MATTEUS 12:9-21 Die Boodskap (DB)

Jesus is van daar af na die bymekaarkomplek van die Jode. In die sinagoge was daar ’n gebreklike man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Die Jode het geweet dat Jesus graag sulke mense help en het hier ’n kans gesien om Hom in die moeilikheid te bring. As Hy hierdie man op die sabbat sou help, sou hulle Hom mos daarvan kon aankla dat Hy God se wet breek. Om Hom uit te lok vra hulle toe: “Sou jy sê dat ’n mens op die sabbat so ’n persoon gesond mag maak?” Maar Jesus het dwarsdeur hulle plannetjies gesien. “Sê nou ’n man het net een skaap. Op die sabbat val daardie skaap in ’n diep gat en bly daar lê, hulpeloos. Wie sal nie sy skaap probeer beetkry en uit die gat help nie? Natuurlik sal julle almal dit doen, nie waar nie? Nou het Ek vir julle nog ’n vraag: Is ’n skaap naastenby soveel werd as ’n mens? Eintlik is dit tog ’n belaglike vraag. Daarom, as jy ’n skaap op die sabbat sal help, mag jy sekerlik ’n mens ook help. Dus, gebruik die sabbat om goed te wees vir ander mense.” Die Jode was stil. Hulle kon nie aan ’n enkele teenargument dink nie. Jesus sê toe vir die gebreklike man: “Maak jou hand oop en hou dit na My toe uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en dit was honderd persent reg. Die Fariseërs is daar weg, omgekrap omdat Jesus hulle hokgeslaan het. Daarom het hulle allerhande planne uitgewerk om van Hom ontslae te raak. Jesus het daarvan gehoor. Dit het Hom laat besluit om maar liewer ’n rukkie daar weg te bly. ’n Hele klomp mense het egter saam met Jesus gegaan. Die siekes onder hulle het Hy gesond gemaak. Hy het hulle egter baie mooi gevra om dit maar stil te hou en nie te veel oor Hom te praat nie. Dit het hulle herinner aan die woorde van die profeet Jesaja: “Dit is my Seun dié wat Ek uitgekies het, Ek het Hom baie lief. Hy maak My so bly. Hy sal die krag hê wat my Gees gee, met die finale oordeel sal Hy die regter oor alle mense wees. Hy sal nie raas en baklei nie. Hy sal nie op mense in die hoofstraat skel nie. Iemand wat seergekry het, sal Hy nie seerder maak nie. Hy sal ook nie iemand wat in die moeilikheid is, verder in die moeilikheid bring nie; inteendeel! Hy help mense om die geestelike wenpaal te haal. Hulle sal dan nie meer oor God se oordeel bekommerd hoef te wees nie. Mense van oral af sal al hulle hoop op Hom rig!”