Matteus 12:22-50

Matteus 12:22-50 AFR20

Toe is iemand wat deur 'n demoon besete, en blind en stom was, na Jesus gebring, en Hy het hom gesond gemaak, sodat die stomme kon praat en sien. Al die mense was uit die veld geslaan en het gesê: “Is hierdie man nie dalk die •Seun van Dawid nie?” Toe die •Fariseërs hiervan te hore kom, het hulle gesê: “Dit is slegs deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hierdie man demone uitdryf.” Omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal staande bly nie. As Satan Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly? En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel as hy nie eers die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis beroof. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. En wie iets teen die •Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling, nóg in die een wat kom.” “ Óf julle beskou die boom as goed en sy vrugte as goed, óf julle beskou die boom as sleg en sy vrugte as sleg. Aan sy vrugte word die boom immers geken. Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore. Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. Want op grond van jou woorde sal jy geregverdig word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word.” Toe het sommige van die skrifkenners en •Fariseërs gereageer en gesê: “Meester, ons wil graag 'n teken van u sien.” Hy het hulle geantwoord: “'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die •Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het; en waarlik, wat hier is, is meer as Jona. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor; en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. ” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, maar kry dit nie. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer kry hy dit onbewoon, uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag.” Terwyl Jesus nog met die skare praat, het sy moeder en broers onverwags buite gestaan en wou met Hom praat. Iemand het vir Hom gesê: “Kyk, u moeder en broers staan buite en wil met U praat.” Maar Hy het die een wat dit vir Hom gesê het, geantwoord: “Wie is my moeder en wie is my broers?” Toe het Hy sy hand na sy dissipels uitgesteek met die woorde: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader in die •hemele, dié is my broer en suster en moeder.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid