MATTEUS 12:22-50

MATTEUS 12:22-50 NLV

Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n bose gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat. Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?” Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat hy bose geeste kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.” Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie. As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly? En as Ek met die krag van Beëlsebul die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees. “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die bose geeste uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is. Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar. “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie. Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie. “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie. “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn. Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê. Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.” Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van u sien om te bewys dat u van God af kom.” Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona. “Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie. Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister! “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie. Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant. Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. “Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.” Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat. Iemand sê toe vir Jesus: “U ma en broers staan hier buite en hulle wil met U praat.” Hy antwoord die een wat met Hom praat: “Weet julle wie is my ma en wie is my broers?” Daarop wys Hy na sy dissipels en sê: “Daar is my ma en my broers. Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid