Lukas 9:22-36

Lukas 9:22-36 AFR20

“want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.” Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy •Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my •Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie.