LUKAS 9:22-36
LUKAS 9:22-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
“want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.” Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie geweet wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.” Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is. Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.
LUKAS 9:22-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.” Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy •Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my •Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie.
LUKAS 9:22-36 Die Boodskap (DB)
“Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.” Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe. “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd. “Moenie maak asof julle My nie ken wanneer julle tussen ander mense is nie. Moenie dan skielik anders praat en anders optree nie. Dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen wanneer Ek eendag na die aarde toe terugkeer. Wanneer Ek as die Seun van die mens in heerlikheid terugkom en omring is met my Vader se heerlikheid en met al die heilige engele, sal Ek ook maak of Ek julle nie ken nie. Weet julle, party van julle wat hier staan, sal nie doodgaan voordat julle God se nuwe wêreld self gesien het nie.” Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid. Terwyl Hy gebid het, het sy voorkoms skielik verander. Jesus se klere het ook helderblink begin skitter. Twee mans het skielik aan Hom verskyn. Dit was Moses en Elia. Hulle was self met glans omring. Hulle het met Jesus gepraat oor alles wat op Hom in Jerusalem wag. Intussen was Petrus en die ander twee dissipels vas aan die slaap. Toe hulle wakker word, sien hulle dat Jesus omring is met ’n hemelse heerlikheid en ook hoe Moses en Elia met Hom praat. Terwyl die dissipels nog oorbluf na die toneel voor hulle staan en kyk, het Moses en Elia gereedgemaak om te vertrek. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis goed dat ons ook hier is. Nou kan ons gou drie tente maak, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Die arme Petrus het natuurlik nie ’n benul gehad wat hy sê nie. Petrus se woorde was skaars koud, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle almal. Die dissipels het baie bang geword toe hulle sien hoe die twee mans in die wolk instap. Skielik praat ’n stem uit die wolk. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek uitgekies het om my werk hier op die aarde te kom doen. Luister na Hom.” Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie.
LUKAS 9:22-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Want Ek, die Seun van die Mens, moet baie dinge ly,” het Hy gesê. “Ek sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Ek sal doodgemaak word, maar drie dae later sal Ek uit die dood opgewek word.” Toe het Hy vir die skare gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, elke dag julle kruis opneem en My volg. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle dit juis bewaar. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar in die proses jouself vernietig of skade aandoen? As iemand skaam is vir My of my boodskap, sal Ek, die Seun van die Mens, My vir hom skaam wanneer Ek terugkeer in my heerlikheid, en die heerlikheid van my Vader en die heilige engele. En Ek verseker julle dat sommige wat nou hier staan, nie sal sterf voor julle die koningsheerskappy van God gesien het nie.” Omtrent agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n berg toe saamgeneem om te gaan bid. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het skitterend wit geword. Toe het twee mans, Moses en Elia, verskyn en met Jesus begin praat. Hulle was glansryk in voorkoms. Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf. Petrus en die ander was baie vaak en het aan die slaap geraak. Hulle het wakker geskrik en Jesus se hemelse glans gesien en die twee mans wat by Hom staan. Terwyl Moses en Elia aanstaltes begin maak om te vertrek, sê Petrus, sonder om te besef wat hy sê: “Here, dis wonderlik! Ons sal drie hutte bou – een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Maar terwyl hy nog praat, kom daar ’n wolk en omvou hulle, en vrees het hulle beetgepak toe Moses en Elia in die wolk ingaan. ’n Stem kom toe uit die wolk en sê: “Dit is my Seun, my Uitverkore Een. Luister na Hom.” Toe die stem weggesterf het, was Jesus alleen daar. Hulle het vir niemand vertel wat hulle gesien het voor lank daarna nie.
LUKAS 9:22-36 Bybel vir almal (ABA)
Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks. As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.” Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen 'n berg opgegaan om daar te bid. Jesus se gesig het anders begin lyk terwyl Hy besig was om te bid. Sy klere het baie wit geword en dit het geblink. Skielik was daar twee mans wat met Jesus gepraat het. Dit was Moses en Elia, en hulle het soos konings gelyk. Hulle het gepraat oor Jesus wat 'n paar dae later in Jerusalem sou sterf. Petrus, Johannes en Jakobus het aan die slaap geraak. Hulle het later wakker geskrik en hulle het vir Jesus en die twee mans by Hom gesien. Jesus het ook soos 'n koning gelyk. Moses en Elia het gereedgemaak om weg te gaan van Jesus, en Petrus het vir Jesus gesê: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus het nie besef wat hy sê nie. Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar 'n wolk wat vir hulle almal toegemaak het. Die drie dissipels het bang geword toe die wolk oor hulle kom. Die dissipels het gehoor God praat uit die wolk. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek gekies het. Julle moet doen wat Hy sê.” Toe God klaar gepraat het, het die drie dissipels net vir Jesus daar gesien. Die dissipels het stilgebly, en terwyl Jesus by hulle op die aarde was, het hulle vir niemand vertel van die dinge wat hulle gesien het nie.
LUKAS 9:22-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy sê: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan. EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. Ek sê vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie. EN omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit. En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía. Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring. En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir Elía — hy het nie geweet wat hy sê nie. Maar toe hy dit sê, kom daar 'n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan. En daar kom 'n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom! En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie.
LUKAS 9:22-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
en gesê: Die Seun van die mens moet baie ly en deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes verwerp word en gedood word en op die derde dag opgewek word. En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe ter wille van My verloor, hy sal dit red. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en homself verloor of verwerp word? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom skaam wanneer Hy kom in sy eie heerlikheid en in dié van sy Vader en van die heilige engele. Maar Ek sê vir julle voorwaar, daar staan sommige hier wat die dood nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God sien nie. En omtrent agt dae ná hierdie woorde het hy Petrus en Johannes en Jakobus geneem en op die berg geklim om te bid. En terwyl hy gebid het, het die mode van sy gelaat verander, en sy klere was wit en glinsterend. En kyk, daar het twee manne met hom gespreek, dit was Moses en Elia. Wat in heerlikheid verskyn het en van sy dood gespreek het wat hy in Jerusalem sou volbring. Maar Petrus en die wat by hom was, was swaar van die slaap; en toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by hom gestaan het. En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is, en laat ons drie hutte maak; een vir jou en een vir Moses en een vir Elía, sonder om te weet wat hy gesê het. Terwyl Hy so spreek, het daar 'n wolk gekom en hulle oorskadu; en hulle was bang toe hulle in die wolk ingaan. En daar het 'n stem uit die wolk gekom wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na hom. En toe die stem verby was, is Jesus alleen gevind. En hulle het dit naby gehou en aan niemand vertel in daardie dae van die dinge wat hulle gesien het nie.