Lukas 7:1-35

Lukas 7:1-35 AFR20

Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei. Johannes se dissipels het hom van al hierdie dinge vertel. Johannes het twee van sy dissipels laat roep en hulle na die Here gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Toe die manne by Hom aankom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U gestuur om te vra, ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?’ ” Op daardie oomblik was Jesus besig om baie mense van hulle siektes en kwale en bose geeste te genees en om baie blindes weer te laat sien. Hy het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: “Blindes sien weer, verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie.” Nadat Johannes se gesante vertrek het, het Hy met die skare oor Johannes begin praat: “Toe julle na die woestyn uitgegaan het, wat wou julle gaan sien? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met swierige klere, wat in weelde leef, woon in koninklike paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan, “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie , en tog is die geringste in die •koninkryk van God groter as hy.” Die hele volk wat na Hom geluister het, ook die •tollenaars, het saamgestem dat God reg gehandel het, en hulle met die doop van Johannes laat doop. Maar die •Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, en hulle nie deur Johannes laat doop nie. “Met wie kan ek dan hierdie geslag mense vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is soos kindertjies wat op die markplein sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie huil nie!’ “Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, “en julle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “En die •Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink, “en julle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van tollenaars en sondaars. ’ “Maar die wysheid word deur al haar kinders reg bewys.”