LUKAS 7:1-35

LUKAS 7:1-35 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus klaar gepraat het met die mense, het Hy na die stad Kapernaum gegaan. Daar het 'n Romeinse offisier gewoon. Hy het 'n baie goeie slaaf gehad. Die slaaf was ernstig siek, hy was amper dood. Die offisier het gehoor van Jesus. Hy het party van die Joodse leiers na Jesus toe gestuur. Hulle moes vir Jesus sê die offisier vra Jesus moet asseblief die slaaf kom gesond maak. Die leiers kom toe by Jesus en soebat en sê vir Hom: “Hierdie offisier is 'n baie goeie man. U moet asseblief sy slaaf gesond maak. Die offisier is lief vir die Joodse volk en hy het ook ons sinagoge gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Toe Hy naby die offisier se huis kom, kom 'n paar van die offisier se vriende na Jesus toe. Hulle het vir Jesus 'n boodskap van die offisier gebring. Hulle het gesê die offisier sê: “Here, dit is nie nodig dat U kom nie. Ek is nie 'n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kom nie. Dit is hoekom ek nie self na U toe gegaan het nie. Ek is nie goed genoeg nie. U kan net sê dat my slaaf gesond moet word, dan sal hy gesond word. Ek is self 'n man wat moet doen wat 'n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir 'n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.” Toe Jesus dit hoor, was Hy verbaas. Hy draai toe om na die mense wat saam met Hom geloop het en Hy sê vir hulle: “Ek sê vir julle, Ek het nog nooit 'n Israeliet gesien wat so sterk glo nie.” Toe die offisier se vriende weer by sy huis kom, het hulle gesien die slaaf is heeltemal gesond. Nie lank daarna nie het Jesus na die stad Nain gegaan. Sy dissipels en baie ander mense het saam met Hom gegaan. Toe Jesus naby die poort van die stad kom, sien Hy mense wat na 'n graf toe loop om iemand te begrawe. Dit was 'n weduwee se enigste seun wat gesterf het. Baie van die stad se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, was Hy baie jammer vir haar en Hy het vir haar gesê: “Jy moenie huil nie.” Jesus gaan toe nader en raak aan die kis waarin hulle die lyk van die jongman gedra het. Die manne wat die lyk gedra het, het gaan staan. Toe sê Jesus: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op.” Die jongman wat dood was, het regop gesit en hy het begin praat. So het Jesus die jongman teruggegee vir sy ma. Al die mense was verbaas en bang oor wat gebeur het. Hulle het God geprys en gesê: “'n Belangrike profeet het by ons gekom.” Hulle het ook gesê: “God het sy volk kom help.” Die mense in die hele provinsie Judea en die plekke daar naby het gehoor wat Jesus hier gedoen het. Die dissipels van Johannes die Doper het vir hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes roep toe twee van sy dissipels en stuur hulle na die Here toe om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?” Johannes se dissipels het by Jesus gekom en gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om vir U te vra of U die Christus is wat moes kom, en of ons vir 'n ander Een moet wag.” Jesus was besig om baie mense gesond te maak wat siek was. Hy het ook bose geeste uit mense gejaag en Hy het baie blinde mense weer laat sien. Jesus sê toe vir Johannes se dissipels: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is weer gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. En God sal mense seën wat aanhou om in My te glo.” Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets oor Johannes vertel. Jesus het gevra: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee, die mense wat mooi klere aantrek en blink goed het, woon in konings se paleise. Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het: “ Kyk, Ek stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en hy sal die pad gereedmaak vir jou. “Ek sê vir julle, niemand is belangriker as Johannes nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar wanneer God Koning is, dan is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes.” Al die mense, ook die tollenaars, het gedink God oordeel reg oor hulle, en daarom het hulle gevra dat Johannes hulle moet doop. Maar die Fariseërs en die skrifgeleerdes wou nie vir Johannes vra om hulle te doop nie, want hulle wou nie God se plan aanvaar nie, God se plan om hulle te red. Jesus het ook gesê: “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe? Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. Party kinders sê: ‘Ons het vir julle trou-musiek op die fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie.’ En die ander kinders sê: ‘Ons het vir julle 'n begrafnis-lied gesing, maar julle wou nie huil nie.’ So doen die mense ook met Johannes die Doper en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie saam feesgevier nie. Toe sê julle: ‘Daar is 'n duiwel in hom.’ Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê julle: ‘Hy is 'n vraat en 'n dronklap. En Hy is ook 'n vriend van die tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’ Die mense wat regtig weet wat die wysheid van God is, is die mense wat in My en Johannes geglo het.”

LUKAS 7:1-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde beëindig het, het Hy in Kapérnaüm ingegaan. En die dienskneg van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê. Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak. En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen; want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou. En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie. En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond. EN die dag daarna was Hy op weg na 'n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en 'n groot menigte het saam met Hom gegaan. En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee. En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek. EN die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring. En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as 'n profeet! Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy. En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie. Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk? Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie. Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.

LUKAS 7:1-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan. 'n Offisier daar het 'n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe 'n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.” Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier 'n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond. Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.” En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan, en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei. Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.” Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.” Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop. Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie. Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep: “Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! “Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

LUKAS 7:1-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 'n Slaaf van 'n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. Toe hy van Jesus hoor, het hy 'n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die •sinagoge vir ons gebou.” Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net 'n woord, en laat my slaaf gesond word. Want ook ek is 'n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir 'n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so 'n groot geloof gevind nie.” En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei. Johannes se dissipels het hom van al hierdie dinge vertel. Johannes het twee van sy dissipels laat roep en hulle na die Here gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Toe die manne by Hom aankom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U gestuur om te vra, ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?’ ” Op daardie oomblik was Jesus besig om baie mense van hulle siektes en kwale en bose geeste te genees en om baie blindes weer te laat sien. Hy het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: “Blindes sien weer, verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie.” Nadat Johannes se gesante vertrek het, het Hy met die skare oor Johannes begin praat: “Toe julle na die woestyn uitgegaan het, wat wou julle gaan sien? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met swierige klere, wat in weelde leef, woon in koninklike paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan, “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie , en tog is die geringste in die •koninkryk van God groter as hy.” Die hele volk wat na Hom geluister het, ook die •tollenaars, het saamgestem dat God reg gehandel het, en hulle met die doop van Johannes laat doop. Maar die •Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, en hulle nie deur Johannes laat doop nie. “Met wie kan ek dan hierdie geslag mense vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is soos kindertjies wat op die markplein sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie huil nie!’ “Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, “en julle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “En die •Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink, “en julle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van tollenaars en sondaars. ’ “Maar die wysheid word deur al haar kinders reg bewys.”

LUKAS 7:1-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat Hy al sy woorde voor die gehoor van die volk beëindig het, het Hy in Kapernaum ingegaan. En die dienaar van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom dierbaar was, was siek en gereed om te sterf. En toe hy van Jesus hoor, het hy die oudstes van die Jode na hom gestuur en hom gesmeek om te kom en sy dienaar gesond te maak. En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dadelik gesmeek en gesê: Dat Hy waardig is vir wie Hy dit sou doen. Want Hy het ons nasie lief, en Hy het vir ons 'n sinagoge gebou. Toe het Jesus saam met hulle gegaan. En toe hy nie ver van die huis af was nie, het die hoofman oor honderd vriende na hom gestuur om vir hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak ingaan nie. Daarom het ek ook nie self waardig geag om na jou toe te kom nie, maar sê in 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man wat onder gesag gestel is, met soldate onder my, en ek sê vir een: Gaan, en hy gaan; en vir 'n ander: Kom, en hy kom; en aan my dienaar: Doen dit, en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonder en draai hom om en sê vir die mense wat Hom gevolg het: Ek sê vir julle, so groot geloof het ek nie gevind nie, ook nie in Israel nie. En die wat gestuur was, het na die huis teruggekeer en die slaaf gevind wat siek was. En die dag daarna het hy in 'n stad gegaan met die naam van Nain; en baie van sy dissipels het saam met Hom gegaan, en baie mense. En toe hy naby die poort van die stad kom, word daar 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee, en baie mense van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer gevoel oor haar en vir haar gesê: Moenie huil nie. En hy het gekom en die baar aangeraak, en die wat hom gedra het, het stilgestaan. En hy sê: Jongman, ek sê vir jou: Staan op! En hy wat dood was, het regop gesit en begin praat. En hy het hom aan sy moeder oorgegee. En daar het 'n vrees oor almal gekom, en hulle het God verheerlik en gesê: Daar het 'n groot profeet onder ons opgestaan; en: Dat God sy volk besoek het. En hierdie gerug van hom het deur die hele Judéa en in die hele omtrek uitgegaan. En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge te kenne gegee. En Johannes het twee van sy dissipels na Hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom? of soek ons 'n ander? Toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes Doper het ons na U gestuur om te sê: Is U die Een wat sou kom? of soek ons 'n ander? En in daardie selfde uur het Hy baie van hulle siektes en plae en van bose geeste genees; en aan baie wat blind was, het Hy sig gegee. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Gaan heen en vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het; hoe blindes sien, kreupeles loop, melaatses gereinig word, dowes hoor, dooies opgewek word, aan armes die evangelie verkondig word. En geseënd is hy elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie. En toe die boodskappers van Johannes vertrek het, het hy met die volk oor Johannes begin praat: Wat het julle in die woestyn uitgegaan om te sien? 'n Riet geskud deur die wind? Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Man geklee in sagte klere? Kyk, die wat pragtig geklee is en deftig lewe, is in die voorhowe van die konings. Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, en veel meer as 'n profeet. Dit is hy van wie geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou aangesig, wat jou weg voor jou sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen groter profeet as Johannes die Doper nie; maar die minste in die koninkryk van God is groter as hy. En die hele volk wat hom gehoor het, en die tollenaars, het God geregverdig deurdat hulle met die doop van Johannes gedoop is. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God teen hulleself verwerp, omdat hulle nie deur Hom gedoop is nie. En die Here het gesê: Waarmee sal Ek dan die manne van hierdie geslag vergelyk? en hoe is hulle? Hulle is soos kinders wat op die mark sit en die een na die ander roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het oor julle getreur, en julle het nie geween nie. Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie; en julle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en eet en drink; en julle sê: Daar is 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars! Maar wysheid is geregverdig deur al haar kinders.

LUKAS 7:1-35 Die Boodskap (DB)

Toe Jesus die mense klaar geleer het, het Hy weer na Kapernaum toe gegaan. Daar was ’n belangrike offisier in die Romeinse leër. Sy werker was baie siek. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou doodgaan. Toe die offisier hoor dat Jesus in die dorp is, het hy gou ’n paar van die Joodse leiers in Kapernaum gevra om na Jesus toe te gaan. “Vra Hom om na my huis toe te kom en my werker gesond te maak,” het die offisier gesê. Toe die mans by Jesus kom, het hulle Hom vertel wat aan die gang was en Hom gesmeek om na die Romeinse offisier se huis toe te gaan. “Weet U, hy is ’n wonderlike man. As daar nou een persoon is wat ’n wonderwerk verdien, is dit daardie Romeinse offisier. Hy beteken so baie vir ons mense. Hy het selfs ons sinagoge hier in Kapernaum vir ons gebou,” het hulle vir Jesus gesê. Jesus het ingestem en saam met hulle gegaan. Toe hulle so ’n entjie van die offisier se huis af was, het hy van sy vriende na Jesus toe gestuur om vir Hom te sê: “Here, moet asseblief nie die moeite doen om verder te loop nie. Ek is nie belangrik genoeg dat U na my huis toe moet kom nie. Daarom het ek dit nie gewaag om na U toe te gaan nie. U kan maar net ’n woord sê, dan is my werker gesond. “U sien, ek is ’n offisier in die leër. Ek weet presies hoe gesag werk. Ek moet heeltyd na my bevelvoerders luister. En my soldate moet weer heeltyd na my luister. As ek vir een sê: ‘Staan op aandag!’ doen hy dit, daar op die plek. En as ek vir ’n ander soldaat sê: ‘Hardloop!’ doen hy dit ook. Dieselfde geld vir my werker. Ek kan maar net vir hom sê: ‘Maak die huis skoon!’ dan doen hy dit. So, sê net een woord. Dit is heeltemal genoeg. U is die Here. As U praat, sal die siekte moet luister!” Jesus was verbaas oor hierdie woorde. “Ongelooflik! Nog nêrens in die hele Israel het Ek iemand met so ’n groot geloof raakgeloop nie,” het Hy vir die skare mense gesê wat saam met Hom gestap het. Terwyl Jesus nog met die mense gestaan en praat het, het die werker skielik gesond geword. Toe die vriende van die offisier by sy huis aankom, was hy al weer vol lewe. Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by. Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood. Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.” Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!” Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle hartseer het dadelik plek gemaak vir blydskap. Met groot ontsag het hulle God se Naam begin loof en prys. “God het ’n baie belangrike boodskapper na ons toe gestuur!” het hulle uitgeroep. Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea. Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late. Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien. Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is. “Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.” Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie! Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer. Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’ “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.” Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop. Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is. Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles. “Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’ “Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’ “Ja, al wat hierdie mense doen, is om fout te vind. Maar gelukkig sal diegene wat doen wat God vra, weet wat die waarheid is.”

LUKAS 7:1-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus al die dinge klaar gesê het, het Hy na Kapernaum toe teruggegaan. ’n Romeinse offisier oor honderd het ’n slaaf gehad wat siek en sterwend was. Die slaaf was vir hom baie werd. Die offisier het van Jesus te hore gekom en ’n paar gerespekteerde Joodse leiers na Hom gestuur om te vra dat Hy die slaaf gesond sal kom maak. Hulle het ernstig by Jesus aangedring om saam met hulle te kom en die man te help. “As enigiemand u hulp verdien, dan is dit hý,” het hulle gesê, “want hy het die Jode lief en het selfs ’n sinagoge vir ons gebou.” Jesus het dus saam met hulle gegaan. Maar net voordat hulle by die huis aangekom het, het die offisier ’n paar vriende gestuur om te sê: “Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie. Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan, of: ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit.” Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!” En toe die offisier se vriende by die huis terugkom, was die slaaf heeltemal gesond. Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg. Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê. Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!” Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!” Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei. Johannes die Doper se dissipels het hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes het dus twee van sy dissipels geroep en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?” Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’” Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel. Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig. En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’” Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat. “Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word? Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie. Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet. Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit, en hy sal die pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!” Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word. “Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk? Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het ’n begrafnislied gesing, maar julle het geweier om te huil.’ “Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van ’n bose gees besete.’ “En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’ Maar die wysheid kom tot sy reg in die lewe van hulle wat dit navolg.”