Lukas 6:27-42

Lukas 6:27-42 AFR20

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet. En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde. En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle 'n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. ” Hy het ook 'n gelykenis vir hulle vertel: “Een blinde kan tog nie 'n ander blinde rondlei nie? Sal hulle dan nie albei in 'n sloot val nie? 'n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees. “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Broer, laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ terwyl jy die balk in jou eie oog nie raaksien nie? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 6:27-42

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid