LUKAS 6:27-42

LUKAS 6:27-42 Bybel vir almal (ABA)

“Ek sê vir julle wat nou na My luister: Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir die mense wat vir julle haat. Julle moet die mense seën wat vir julle vloek. Julle moet bid vir die mense wat vir julle beledig. “As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. As iemand jou bo-kleed vat, dan moet jy ook jou onderkleed vir hom gee. “Jy moet vir elkeen gee wat vir jou iets vra. En as iemand jou goed vat, dan moet jy dit nie terugvra nie. “Julle moet aan ander mense doen soos julle graag wil hê hulle moet aan julle doen. As julle net lief is vir die mense wat lief is vir júlle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Want die sondaars is ook lief net vir die mense wat lief is vir húlle. “As julle goed doen net aan die mense wat goed doen aan julle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars doen dieselfde. “As julle net vir mense iets leen sodat julle later weer iets by hulle kan kry, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars leen ook vir mekaar sodat hulle weer iets kan terugkry. “Nee, julle moet anders wees. Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Dan sal die Here goeie dinge vir julle gee. Julle sal kinders van die Hoogste God wees. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is. Julle moet jammer wees vir ander mense, soos julle Vader jammer is vir almal.” “Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. Ja, julle moenie altyd ander mense wil oordeel nie, dan sal niemand vir julle wil oordeel nie. Julle moet ander mense vergewe, dan sal God julle ook vergewe. “Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.” Jesus het die volgende voorbeelde gebruik om vir hulle nog iets te sê: “'n Blinde mens kan nie 'n ander blinde mens lei nie. Want hulle sal saam in 'n sloot val. “'n Dissipel is nie belangriker as die meneer by wie hy leer nie. Maar as hy alles geleer het, dan sal hy wees soos sy meneer. Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sê vir jou broer: ‘Ek wil daardie stukkie hout uithaal uit jou oog,’ maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie. As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens. Nee, jy moet eers die groot stuk hout uit jou eie oog haal, dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal. “'n Mens ken 'n boom wanneer jy sien watter vrugte die boom dra.

LUKAS 6:27-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig. Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En Hy het vir hulle 'n gelykenis uitgespreek: 'n Blinde kan tog nie 'n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie? 'n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.

LUKAS 6:27-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie? 'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees. “Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.”

LUKAS 6:27-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet. En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde. En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle 'n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. ” Hy het ook 'n gelykenis vir hulle vertel: “Een blinde kan tog nie 'n ander blinde rondlei nie? Sal hulle dan nie albei in 'n sloot val nie? 'n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees. “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Broer, laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ terwyl jy die balk in jou eie oog nie raaksien nie? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.”

LUKAS 6:27-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar Ek sê vir julle wat hoor: Julle moet julle vyande liefhê, doen goed aan die wat julle haat, Seën die wat jou vervloek, en bid vir die wat jou beledig. En aan hom wat jou op die een wang slaan, offer ook die ander; en hy wat jou mantel wegneem, moenie ook jou mantel wegneem nie. Gee aan elkeen wat van jou vra; en van hom wat jou goed wegneem, vra dit nie weer nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. Want as julle die liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? want sondaars het ook hulle lief wat hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? want sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan hulle van wie julle hoop om te ontvang, watter dank het julle? want sondaars leen ook aan sondaars om weer soveel te ontvang. Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen en leen sonder om weer op niks te hoop nie; en julle loon sal groot wees, en julle sal kinders van die Allerhoogste wees, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. Moenie oordeel nie, en julle sal nie geoordeel word nie; veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie; vergewe, en julle sal vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word; goeie maat, ingedruk en saamgeskud en oorstroom, sal die mense in jou boesem gee. Want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En Hy het 'n gelykenis aan hulle vertel: Kan 'n blinde 'n blinde lei? Sal hulle nie altwee in die sloot val nie? Die dissipel is nie bo sy heer nie, maar elkeen wat volmaak is, sal soos sy heer wees. En waarom sien jy die splinter wat in jou broer se oog is, maar die balk wat in jou eie oog is, sien jy nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: Broer, laat ek die splinter wat in jou oog is uitruk, terwyl jy self die balk wat in jou eie oog is nie sien nie? Geveinsde, gooi eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien om die splinter wat in jou broer se oog is, uit te trek.

LUKAS 6:27-42 Die Boodskap (DB)

“Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap. “As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook. Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste. Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om.” “Moenie ander mense oordeel nie. Dan sal God julle ook nie oordeel nie. Moenie ander mense tot in die doderyk verdoem nie. Dan sal God julle ook nie verdoem nie. Vergeef ander mense, dan sal God julle ook vergewe. “Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom. “As jy blind is, kan jy nie ’n ander blinde rondlei nie. Kort voor lank val julle albei in ’n sloot. “’n Leerling is nooit belangriker as sy onderwyser nie. As hy alles weet wat sy onderwyser hom geleer het, weet hulle ewe veel. Ken daarom jou plek voor God en ander. Wees nederig. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir daardie groot houtstomp wat in jou eie oog vassit? En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou-gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.”

LUKAS 6:27-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak. As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan. Gee wat jy het aan enigiemand wat dit van jou vra; en as iets van jou weggeneem word, moenie dit probeer terugkry nie. Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen. “Dink julle julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit! En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook. En as julle geld leen net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry. “Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word. As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.” Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek. ’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. “En waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie? Hoe kan jy dan vir jou vriend sê: ‘Vriend, laat ek jou help om die splinter uit jou oog te kry,’ terwyl jy nie verby die stomp in jou eie oog kan sien nie? Skynheilige! Raak eers ontslae van die stomp in jou eie oog, dan sal jy goed genoeg kan sien om die splinter uit jou vriend se oog te haal.”

LUKAS 6:27-42

LUKAS 6:27-42 AFR83LUKAS 6:27-42 AFR83LUKAS 6:27-42 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid