Lukas 5:12-32

Lukas 5:12-32 AFR20

En toe Jesus in een van die dorpe kom, staan daar skielik 'n man vol melaatse swere. Toe hy Jesus sien, val hy plat op sy gesig neer en smeek Hom: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil, word rein!” En sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn. Jesus het hom beveel om dit vir niemand te vertel nie en gesê: “Gaan wys jouself vir die priester, en bring die offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskryf het, as bewys vir hulle.” Die nuus oor Jesus het egter nog verder versprei. Groot skares het om Hom saamgedrom om na Hom te luister en van hulle kwale genees te word. Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid. Op 'n dag, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook •Fariseërs en wetgeleerdes gesit, wat uit elke dorpie van Galilea en Judea en van Jerusalem gekom het. Die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees. Net toe kom daar mense aan wat 'n verlamde man op 'n slaapmat dra. Hulle wou hom in die huis indra en voor Jesus neersit, maar as gevolg van die skare, kon hulle geen manier vind om hom in te dra nie, en het toe op die dakstoep geklim en hom en sy slaapmat tussen die dakteëls deur laat afsak, tot tussen die mense, reg voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe. ” Die skrifkenners en die Fariseërs het hulleself begin afvra: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Onmiddellik het hy daar voor hulle opgestaan, die slaapmat waarop hy gelê het, gevat en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal was verwonderd en het God geprys. Hulle is met diep ontsag vervul en het gesê: “Vandag het ons iets ongeloofliks gesien.” Hierna het Jesus buitentoe gegaan en 'n •tollenaar met die naam Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!” En hy het alles net so gelos, opgestaan en Hom gevolg. Levi het 'n groot feesmaal vir Hom in sy huis gehou waar 'n klomp •tollenaars en ook ander mense saam met hulle vir ete aangeleun het. Die •Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”