LUKAS 5:12-32

LUKAS 5:12-32 NLV

In een van die dorpe het Jesus ’n man met ’n gevorderde velsiekte raakgeloop. Toe die man Jesus sien, het hy diep voor Hom neergebuig en gesmeek om genees te word. “Here,” het hy gesê, “as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het sy hand uitgesteek en die man aangeraak. “Ek wil,” het Hy gesê. “Word gesond!” En net daar het sy velsiekte verdwyn. Toe het Jesus hom beveel om niemand te vertel wat gebeur het nie. “Gaan reguit na die priester toe en laat hy jou ondersoek. Vat die offer saam wat deur die wet van Moses vereis word vir iemand wat van so ’n velsiekte gereinig is sodat almal die bewys van jou genesing kan sien.” Tog, ten spyte van Jesus se bevele, het die berig oor sy mag selfs vinniger versprei en groot skares het gekom om Hom te hoor preek en van hulle siektes genees te word. Maar Jesus het Hom gereeld in ’n verlate plek afgesonder om te bid. Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk. ’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.” “Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?” Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself? Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’? Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.” En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!” Later, toe Jesus die dorp verlaat, het Hy ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhokkie sien sit. “Kom, word my dissipel!” het Jesus vir hom gesê. Levi het opgestaan, alles net so gelos en Jesus gevolg. Kort daarna het Levi ’n feesmaal in sy huis aangebied met Jesus as die eregas. Baie van Levi se medetollenaars en ander gaste was daar. Maar die Fariseërs en skrifkenners wat aan die Fariseërparty behoort, het by Jesus se dissipels gaan kla: “Waarom eet en drink julle saam met sulke immorele karakters?” Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie – siek mense wel. Ek het gekom om sondaars te roep om tot inkeer te kom, nie om my tyd te verwyl met hulle wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.”