En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het.
Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons boonop ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf, en toe hulle sy liggaam nie vind nie, het hulle kom vertel dat hulle 'n visioen gesien het van engele wat sê dat Hy leef. 'n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? ” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.
Toe hulle nader kom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. Maar hulle het sterk by Hom aangedring: “Bly by ons, want dit is amper aand, en die dag is reeds verby.” Hy het toe ingedraai om by hulle oor te bly.
Terwyl Hy saam met hulle vir ete aangeleun het, het Hy brood geneem, die seëngebed uitgespreek, dit gebreek en vir hulle gegee. Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken. Hy het egter uit hulle sig verdwyn. En hulle het vir mekaar gesê: “Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?”
Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het.
Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle 'n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – 'n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” En hulle het Hom 'n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.
Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die •Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word. ” Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, en getuies van hierdie dinge wees. En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.”
Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid, en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. En hulle het God voortdurend in die tempelterrein bly prys.