LUKAS 24:13-53

LUKAS 24:13-53 Bybel vir almal (ABA)

Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?” Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?” Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?” Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was 'n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig. Ons het gehoop Jesus is die Messias wat die volk Israel kon vrymaak. Maar dit het nie gebeur nie, want Jesus het drie dae gelede gesterf. 'n Paar vroue wat by ons is, het vroeg die oggend by die graf gekom en hulle het nie Jesus se liggaam daar gekry nie. Ons was verbaas daaroor. Die vroue sê ook hulle het engele gesien en die engele het gesê Jesus lewe. Party ander mense wat by ons is, het ook na die graf gegaan. Hulle het gesien alles is presies soos die vroue gesê het. Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie.” Toe sê Jesus vir die twee mans: “Hoekom verstaan julle nie wat gebeur het nie? Hoekom wil julle nie glo wat die profete gesê het nie? Die profete het gesê die Christus moet eers swaarkry en dan sal Hy Koning word.” Toe het Jesus begin om vir hulle te verduidelik wat die boeke van Moses en die profete en die ander boeke van die Ou Testament oor Hom sê. Toe hulle naby die dorpie kom waarnatoe hulle geloop het, het Jesus gemaak of Hy verder wil loop. Maar die twee mans het vir Jesus gesê: “Nee, bly by ons, want dit is amper aand, die dag is verby.” Jesus het toe saam met hulle by die huis ingegaan en Hy het by hulle gebly. Toe hulle saam begin eet, het Jesus die brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood gebreek en dit vir die twee mans gegee. Toe het God hulle laat sien dat dit Jesus is. Maar toe het Jesus skielik verdwyn, hulle kon Hom nie meer sien nie. Die mans het vir mekaar gesê: “Nou weet ons hoekom ons so opgewonde was toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons alles uit die Bybel verduidelik het.” Die twee mans het dadelik opgestaan en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle het die elf apostels daar gekry en ook die ander mense by hulle. Die apostels en die ander mense het vir die mans vertel dat die Here regtig weer lewe en dat Hy aan Simon verskyn het. Toe het die twee mans vir die apostels en die ander mense vertel wat alles gebeur het. Hulle het gesê hulle het besef dit is Jesus toe Hy die brood gebreek het. Die apostels was nog besig om oor hierdie dinge te praat, toe het Jesus tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “God sal vir julle vrede gee.” Hulle het groot geskrik, hulle het gedink hulle sien 'n spook. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom skrik julle so? En hoekom glo julle nie wat julle sien nie? Kyk na my hande en my voete. Julle sal sien dit is Ek. Kom raak aan My, julle sal sien Ek het 'n liggaam, 'n spook het nie vleis en been nie.” Jesus het dit gesê, en Hy het sy hande en sy voete vir hulle gewys. Hulle was bly maar hulle kon nie glo wat hulle sien nie en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Toe vra Jesus vir hulle: “Het julle hier iets wat Ek kan eet?” Hulle het vir Hom 'n stuk gaar vis gegee. Jesus het dit geneem en hulle het gekyk terwyl Hy dit eet. Daarna het Jesus vir hulle gesê: “Onthou julle wat Ek gesê het voor Ek gesterf het en weer begin lewe het? Ek het toe vir julle gesê dat alles waar moet word wat in die boeke van Moses geskryf is oor My, en ook in die boeke van die profete en in die boek Psalms.” Toe het Jesus vir hulle gesê hoe hulle die Bybel moet verstaan. Hy het vir hulle gesê: “Daar is in die Ou Testament geskryf dat die Christus sal swaarkry en dat Hy op die derde dag weer sal begin lewe. Daar is geskryf dat die mense wat in God glo, vir al die volke moet vertel dat God mense se sondes vergewe as hulle in Christus glo en as hulle verander en lewe soos God wil hê. Julle moet in Jerusalem begin en vir die mense vertel wat julle van My gesien en gehoor het. En onthou, Ek sal vir julle die Heilige Gees stuur wat my Vader belowe het. Maar julle moet in Jerusalem bly totdat God vir julle krag gegee het.” Toe het Jesus gesê die apostels moet saam met Hom gaan. Hy het hulle geneem tot by die stad Betanië. Jesus het sy hande uitgesteek en Hy het hulle geseën. Hy het hulle geseën terwyl Hy weggegaan het van hulle. God het Hom na die hemel geneem. Die apostels het Jesus aanbid en daarna het hulle teruggegaan na Jerusalem. Hulle was baie bly. Hulle het elke dag na die tempel gegaan en hulle het God geprys.

LUKAS 24:13-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe. En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. En Hy sê vir hulle: O Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan; maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly. En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle. Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn. En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was, wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn. Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood. EN terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet. En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte. EN Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.

LUKAS 24:13-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan, en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê. Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het. Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?” Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis. Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet. Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ Julle is getuies van hierdie dinge. En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

LUKAS 24:13-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons boonop ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf, en toe hulle sy liggaam nie vind nie, het hulle kom vertel dat hulle 'n visioen gesien het van engele wat sê dat Hy leef. 'n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? ” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. Toe hulle nader kom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. Maar hulle het sterk by Hom aangedring: “Bly by ons, want dit is amper aand, en die dag is reeds verby.” Hy het toe ingedraai om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle vir ete aangeleun het, het Hy brood geneem, die seëngebed uitgespreek, dit gebreek en vir hulle gegee. Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken. Hy het egter uit hulle sig verdwyn. En hulle het vir mekaar gesê: “Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?” Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het. Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle 'n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – 'n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” En hulle het Hom 'n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die •Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word. ” Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, en getuies van hierdie dinge wees. En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.” Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid, en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. En hulle het God voortdurend in die tempelterrein bly prys.

LUKAS 24:13-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En kyk, twee van hulle het dieselfde dag gegaan na 'n dorpie met die naam van Emmaus, wat omtrent sestig myl van Jerusalem af was. En hulle het saam gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. En terwyl hulle met mekaar praat en redeneer, het Jesus self nader gekom en saam met hulle gegaan. Maar hulle oë was vasgehou dat hulle Hom nie sou ken nie. En Hy sê vir hulle: Watter soort woorde is dit wat julle onder mekaar het terwyl julle wandel en bedroef is? En die een van hulle, wie se naam Kleopas was, antwoord en sê vir hom: Is jy net 'n vreemdeling in Jerusalem en weet jy nie die dinge wat in hierdie dae daar gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle sê vir hom: Aangaande Jesus van Nasaret, wat 'n profeet was, magtig in daad en woord voor God en die hele volk. En hoe die owerpriesters en ons owerstes Hom oorgegee het om ter dood veroordeel te word en Hom gekruisig het. Maar ons het vertrou dat dit Hy was wat Israel moes verlos; en buiten dit alles, is dit vandag die derde dag vandat hierdie dinge gebeur het. Ja, en ook sekere vroue van ons geselskap het ons, wat vroeg by die graf was, verstom; En toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig van engele gesien het wat sê dat Hy lewe. En sommige van die wat by ons was, het na die graf gegaan en dit gevind soos die vroue gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. Toe sê Hy vir hulle: O dwase, en traag van hart om alles te glo wat die profete gespreek het! Moes Christus nie hierdie dinge gely het en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het van Moses en al die profete begin en vir hulle uitgelê in al die Skrifte wat op Hom betrekking het. En hulle het nader gekom na die dorp waarheen hulle gegaan het, en hy het gemaak asof hy verder sou gegaan het. Maar hulle het hom gedwing en gesê: Bly by ons, want dit is teen aand en die dag is ver verby. En hy het ingegaan om by hulle te vertoef. En terwyl hy saam met hulle aan tafel was, het hy brood geneem en dit geseën en gebreek en aan hulle gegee. En hulle oë is geopen, en hulle het Hom geken; en hy het uit hulle oë verdwyn. En hulle sê vir mekaar: Het ons hart nie in ons gebrand toe Hy met ons op die pad gepraat het en die Skrif vir ons oopgemaak het nie? En hulle het in dieselfde uur opgestaan en na Jerusalem teruggekeer en die elf bymekaar gevind en die wat by hulle was, en gesê: Die Here het waarlik opgestaan en aan Simon verskyn. En hulle het vertel wat op die pad gebeur het, en hoe Hy van hulle bekend was by die breking van die brood. En terwyl hulle so spreek, het Jesus self in die midde van hulle gestaan en vir hulle gesê: Vrede vir julle! Maar hulle was verskrik en beangs en het gedink dat hulle 'n gees gesien het. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld? en waarom kom gedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dat dit Ek is; hanteer my en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat ek het nie. En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En terwyl hulle uit blydskap nog nie geglo het nie, en hulle verwonderd het, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? En hulle het vir hom 'n stuk gebraaide vis en 'n heuningkoek gegee. En hy het dit geneem en voor hulle geëet. En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles vervul moet word wat geskrywe is in die wet van Moses en in die profete en in die psalms, aangaande ek. Toe het Hy hulle verstand geopen, sodat hulle die Skrifte kon verstaan, En hy sê vir hulle: So is daar geskrywe, en so moes Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan. En dat bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig moet word onder al die nasies, vanaf Jerusalem. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle; maar bly in die stad Jerusalem totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte. En hy het hulle uitgelei tot by Betanië, en hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En dit het gebeur, terwyl Hy hulle seën, is Hy van hulle geskei en na die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. En hulle was voortdurend in die tempel en het God geprys en geseën. Amen.

LUKAS 24:13-53 Die Boodskap (DB)

Twee van Jesus se volgelinge het op daardie Sondag besluit om terug te gaan na die dorp waar hulle gebly het. Hulle dorp se naam was Emmaus, so twaalf kilometer buite Jerusalem. Hulle twee was ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek. Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap. Maar hulle het Hom nie herken nie. “Wat loop julle so ernstig en praat? En hoekom lyk julle so hartseer?” vra Jesus hulle. Kleopas, een van die twee, sê toe vir Hom: “Wat? Ek kan nie glo jy vra so iets nie. Jy kom dan nou uit Jerusalem uit. Het jy nie gehoor wat die afgelope naweek daar gebeur het nie?” “Wat?” vra Jesus toe. “Wel, Jesus van Nasaret, daardie groot Boodskapper van God, is Vrydag daar doodgemaak. Hy het groot wonderwerke gedoen en met gesag oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar toe het die spul godsdienstige leiers van ons volk Hom gevang. Daarna is Hy skuldig bevind en gekruisig. Ons het so gehoop dat Jesus regtig die groot Verlosser van Israel sou wees. Hy het dan vir almal gesê dat Hy ons kom verlos. Maar Hy was verkeerd, want Hy is nou dood en begrawe. Ja, vandag is Hy al drie dae dood. “O ja, ons het ook nog ander nuus gehoor wat ons baie omgekrap het. ’n Klompie vroue wat saam met ons vir Jesus gevolg het, was vanoggend vroeg daar by sy graf. Maar sy liggaam was skoonveld. Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer. ’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie? Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?” Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het. Later het hulle by Emmaus aangekom. Toe Jesus sê dat Hy nog verder moet stap, het die twee dadelik gesê: “Nee, wag! Kom bly asseblief vanaand by ons oor. Dis netnou donker.” Jesus het ingestem en saam met hulle na hulle huis toe geloop. ’n Rukkie later, toe die aandete klaar was, het hulle by die tafel gaan aansit. Jesus vat toe die brood, sê vir God daarvoor dankie en deel dit aan hulle uit. Toe gaan die twee se oë skielik oop. Hulle het Jesus herken. Maar voordat hulle nog iets kon sê, het Hy verdwyn. “Dis waar!” het hulle bly vir mekaar gesê. “Ons moes dit eintlik al besef het toe Hy netnou so oortuigend uit die Bybel met ons gepraat het. Toe Hy vir ons gewys het wat regtig daar staan, het ons harte omtrent opgewonde geklop!” Dadelik het die twee opgestaan en vinnig in die donker teruggestap Jerusalem toe. Toe hulle daar aankom, is hulle direk na die plek toe waar die elf apostels en die ander volgelinge van Jesus was. Maar voordat die twee ’n woord kon uitkry, sê die apostels en die ander vir hulle: “Ons het goeie nuus vir julle. Jesus leef! Hy het aan Simon Petrus verskyn!” “Ons het net sulke goeie nuus vir julle,” sê die twee. Hulle vertel toe hoe Jesus saam met hulle kom stap het en hoe hulle Hom herken het toe Hy die brood daar in hulle huis gebreek het. Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê. Maar die arme klomp het hulle boeglam geskrik. Hulle het gedink dis ’n spook. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Vir wat is julle geloof so klein? Kom staan ’n bietjie nader. Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.” Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het. Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?” “Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit. Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet. Daarna sê Jesus vir die apostels: “Onthou julle dat Ek vroeër vir julle gesê het dat alles wat die Bybel oor My sê binnekort waar sou word? Wel, elke uitspraak oor My in die wet van Moses, en ook in die profete en die psalms, het nou waar geword.” Toe het Jesus gesorg dat hulle meteens verstaan wat die Bybel sê. “Sien julle nou dat die Bybel sê dat die Messias moes kom ly en dat Hy op die derde dag weer uit die dood sou opstaan? Wel, van nou af gaan julle hierdie goeie nuus wêreldwyd oorvertel; van hier in Jerusalem af tot aan die uithoeke van die wêreld. Julle moet vir ander mense sê om hulle sondes te laat staan en dat hulle hulle tot God moet bekeer. Sê vir hulle dat al hulle sondes vergewe word wanneer hulle in My glo. Julle het alles wat met My gebeur het self aanskou. Gaan vertel dit aan ander mense. “My Vader het ook nog ’n baie groot Geskenk vir julle. Ek gaan hierdie Geskenk binnekort na julle toe stuur. Wag nog net so ’n klein rukkie hier in Jerusalem. Een van die dae gaan julle met baie groot krag direk uit die hemel toegerus word.” ’n Rukkie later het Jesus sy apostels na Betanië toe gevat. Daar het Hy sy hande oor hulle uitgestrek en God se seën oor hulle afgebid. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy na die hemel toe vertrek. Die apostels het op hulle knieë neergeval en Jesus aanbid terwyl Hy van hulle af weggegaan het. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggestap. Hulle was baie opgewonde oor alles wat hulle gesien en beleef het. In Jerusalem het hulle elke dag na die tempel toe gegaan om God te dien en te eer.

LUKAS 24:13-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem. Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?” Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan. Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe: “U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.” Jesus reageer en vra hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk. Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar dit is ook al vandag die derde dag vandat al hierdie dinge gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons nog boonop heeltemal verwar. Hulle was vanoggend baie vroeg by die graf, maar kon nie sy liggaam daar kry nie. Hulle het kom berig dat hulle ’n visioen van engele gesien het wat gesê het dat Hy lewe. Sommige van ons het na die graf toe gegaan en dit net so aangetref soos die vroue vertel het. Maar vir Hóm het hulle nie gesien nie.” Toe sê Jesus vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo! Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?” Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer. Toe hulle naderkom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. Maar hulle het by Hom aangedring: “Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.” Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken. Daarop het Hy voor hulle oë verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?” Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, wat die nuus vertel: “Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood. Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?” Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis. Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet. Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan. Daarop het Hy gesê: “Só staan dit opgeteken: ‘Die Messias moet ly en op die derde dag opstaan uit die dood.’ En op grond van sy Naam moet bekering tot vergifnis van sondes aan al die nasies verkondig word. Julle moet by Jerusalem begin en van hierdie dinge getuig. “En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.” Daarna het Jesus hulle uitgelei tot by Betanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het toe neergeval en Hom aanbid. Daarna het hulle met groot vreugde teruggegaan na Jerusalem toe. Daar het hulle al hulle tyd in die tempel deurgebring en God geloof.