Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. •Petrus het op 'n afstand gevolg. Hulle het 'n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. Toe 'n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 'n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” Ná ongeveer 'n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook 'n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat 'n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil. Die manne wat Hom gevange gehou het, was besig om die spot met Hom te dryf en Hom te slaan. Hulle het Hom geblinddoek en vir Hom gesê: “Toe, profeteer! Wie is dit wat u geslaan het?” En hulle het aangehou om Hom nog baie ander beledigende dinge toe te voeg. Teen dagbreek het die Raad van Familiehoofde byeengekom, die leierpriesters en skrifkenners, en hulle het Hom na hulle Sanhedrin weggelei. Hulle het gesê: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy sê vir hulle: “As Ek dit vir julle sê, sal julle My beslis nie glo nie. En as Ek 'n vraag vra, sal julle beslis nie antwoord nie. Maar van nou af sal ‘die •Seun van die Mens sit aan die regterhand van God, die Magtige. ’ ” Toe vra hulle almal: “Is jy dus die •Seun van God?” En Hy antwoord hulle: “Dit is julle wat sê dat Ek is.” Daarop sê hulle: “Waarom het ons enige verdere getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy mond gehoor!”
Lees Lukas 22
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 22:54-71
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's