Lukas 20:20-40

Lukas 20:20-40 AFR20

Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly. Sommige van die •Sadduseërs, wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer 'n nageslag verwek.’ So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het 'n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. Ten laaste het ook die vrou gesterf. Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ” Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het 'n goeie antwoord gegee.” Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.