LUKAS 20:20-40

LUKAS 20:20-40 Bybel vir almal (ABA)

Die leiers van die Jode het baie goed gekyk wat Jesus doen. Hulle het spioene na Jesus toe gestuur. Die spioene het gemaak of hulle graag meer van Jesus wou leer. Die leiers wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, sodat Hy probleme kan kry. Dan kan hulle Hom vang en vir die Romeinse regering gee, sodat hulle Hom kan straf. Die spioene het toe vir Jesus gevra: “Meneer, ons weet die dinge waaroor jy praat en wat jy leer, is reg. Jy is nie bang vir wat mense van jou sê nie. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en die dinge wat jy vir hulle leer, is waar. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Jesus het geweet hulle wil hê Hy moet iets verkeerd sê waaroor hulle Hom kan vang, en Hy sê toe vir hulle: “Wys vir My 'n silwer geldstuk.” Toe hulle dit doen, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Dit is reg. Dan moet julle vir die keiser gee wat aan hom behoort, maar julle moet ook vir God gee wat aan Hóm behoort.” Die spioene kon Hom nie vang nie, want niemand het gehoor dat Hy iets verkeerd gesê het nie. Hulle was baie verbaas oor wat Jesus geantwoord het en hulle het stilgebly. 'n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se kinders wees.’ Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf maar hy het nie kinders gehad nie. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, en ná hom het die derde broer met haar getrou, en so het al sewe broers met die vrou getrou. Hulle het almal gesterf, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal hierdie vrou wees wanneer al die mense wat gesterf het, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “In hierdie lewe trou mense met mekaar. Maar wanneer God Koning is, dan sal Hy die mense wat in Hom glo en wat gesterf het, weer laat lewe. Dan sal mense nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Want hulle sal wees soos die engele wat nie sterf nie en wat by God in die hemel woon. Maar dit kan net gebeur as God hulle weer laat lewe. Moses het ook vir ons gesê mense wat gesterf het, sal weer lewe. Hy het geskryf oor die bos wat gebrand het. Daar sê Moses die Here is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe. Want vir God is almal wat in Hom glo, mense wat lewe.” Party van die skrifgeleerdes het vir Jesus gesê: “Meneer, jy het goed geantwoord.” Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie.

LUKAS 20:20-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur. En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer — is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg. EN sommige van die Sadduseërs het gekom — hulle wat ontken dat daar 'n opstanding is — en Hom gevra en gesê: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek. Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos gesterwe. En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe. En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders nagelaat nie en het gesterwe. En ten laaste het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? — want al sewe het haar as vrou gehad. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom. En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed gespreek. En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.

LUKAS 20:20-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?” Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly. 'n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. Ook die tweede en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. Daarna het die vrou ook gesterwe. Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ . Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.” Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.” Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.

LUKAS 20:20-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly. Sommige van die •Sadduseërs, wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: “Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer 'n nageslag verwek.’ So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het 'n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. Ten laaste het ook die vrou gesterf. Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ” Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het 'n goeie antwoord gegee.” Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.

LUKAS 20:20-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hulle het hom dopgehou en spioene uitgestuur wat hulleself as regverdiges sou voorgee, sodat hulle sy woorde kon aangryp, sodat hulle hom kon oorlewer aan die mag en gesag van die goewerneur. En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reg sê en leer, en dat U niemand aanneem nie, maar waarlik die weg van God leer. Is dit vir ons geoorloof om belasting aan die keiser te gee, of nie? Maar hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys vir my 'n sent. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. En hy sê vir hulle: Gee dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle kon sy woorde nie vashou voor die volk nie, en hulle was verwonderd oor sy antwoord en het geswyg. Toe het sommige van die Sadduseërs na Hom gekom wat ontken dat daar enige opstanding is; en hulle het hom gevra: Moses het gesê: Meester, Moses het aan ons geskryf: As iemand se broer sterf met 'n vrou, en hy sterf sonder kinders, moet sy broer sy vrou neem en vir sy broer nageslag verwek. Daar was dus sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en sonder kinders gesterf. En die tweede het haar as vrou geneem, en hy het kinderloos gesterf. En die derde het haar geneem; en net so ook die sewe, en hulle het geen kinders nagelaat nie en gesterf. Laastens het die vrou ook gesterf. Daarom, wie se vrou van hulle is sy in die opstanding? want sewe het haar as vrou gehad. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die kinders van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee. Maar hulle wat waardig geag sal word om daardie wêreld en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie; Hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is gelyk aan die engele; en is die kinders van God, synde die kinders van die opstanding. Noudat die dooies opgewek is, het selfs Moses dit by die bos laat sien toe hy die Here die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob noem. Want Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal lewe vir Hom. Toe antwoord sommige van die skrifgeleerdes en sê: Meester, jy het goed gesê. En daarna het hulle Hom glad nie gedurf om iets te vra nie.

LUKAS 20:20-40 Die Boodskap (DB)

Hulle besluit toe om ’n paar mense na Hom toe te stuur wat maak asof hulle verskriklik vroom is. Hierdie mans moes vir Jesus ’n lokval stel sodat hulle Hom kon vang en aan die owerhede uitlewer as Hy iets verkeerds sê. Toe hierdie mense by Jesus aankom, sê hulle: “Leermeester, ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien ook jy probeer nie gewild wees nie. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie. Sê net gou vir ons, dink jy dis reg dat ons so baie belasting aan die Romeinse keiser betaal?” Jesus sê toe: “Het iemand ’n geldstuk hier naby?” Vinnig het iemand vir Hom ’n muntstuk gegee. Toe sê Jesus vir hulle: “Kyk mooi na dié geld. Wie se beeld is daarop en wie se naam is daarop geskryf?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle. “Nou ja, as hierdie geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Gee hom wat hy vra. Maar onthou: julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom. Daarom moet julle julleself aan God gee. Die keiser is geregtig op julle geld, maar God is geregtig op julle hele lewe.” Hierdie antwoord het die wind heeltemal uit die mense se seile gehaal. Hulle plan om Jesus daar voor die skare uit te vang het heeltemal misluk. Jesus se antwoord was so goed dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Stil-stil is hulle toe maar daar weg terwyl die skare Jesus geëer het. Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede broer trou. Maar hy gaan ook dood sonder dat daar ’n kind is. Dan trou die derde een met haar. Maar presies dieselfde gebeur met hom. Hy sterf voordat sy vrou ’n kind het. So gaan dit uiteindelik met al sewe broers. Nie een van hulle laat ’n kind agter nie. Uiteindelik gaan die vrou dan sonder ’n kind dood. Nou, as daar ’n opstanding van die dooies is, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.” ’n Paar van die skrifkenners wat ook na Jesus geluister het, was baie beïndruk met wat Hy gesê het: “Mooi so, Leermeester. U het goed geantwoord. Kyk, daardie klomp Sadduseërs is skoon stil.”

LUKAS 20:20-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hulle het hulle geleentheid afgewag en toe spioene wat voorgegee het dat hulle dit opreg bedoel, gestuur om Jesus op sy woord vas te trek. So sou hulle Hom aan die owerheid en die gesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle het Hom toe gevra: “Leermeester, ons weet dat u reg praat en onderrig, en dat u nie mense op die uiterlike beoordeel nie: U onderrig mense volgens die waarheid om op die pad van God te loop. Is dit korrek dat ons aan die keiser belasting betaal of is dit nie?” Jesus het dwarsdeur hulle skelmstreek gesien en sê toe vir hulle: “Wys vir My ’n Romeinse muntstuk. Wie se beeld en opskrif is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.” Hulle kon duidelik nie daarin slaag om Jesus op grond van sy boodskap voor die volk vas te trek nie. Verwonderd oor sy antwoord het hulle liewer stilgebly. Sommige uit die geledere van die Sadduseërs, dié mense wat die opstanding uit die dood ontken het, staan toe nader en vra vir Jesus: “Leermeester, Moses het aan ons voorgeskryf: ‘As iemand se getroude broer kinderloos doodgaan, moet só iemand met sy broer se weduwee trou en vir hom ’n nageslag verwek.’ Daar was eenmaal sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met die weduwee getrou, maar ook kinderloos gesterf. Net só het ook die res van die sewe kinderloos gesterf. Laastens het ook die vrou gesterf. Wie se vrou word sy dan by die opstanding? Het al sewe die broers haar dan nie as vrou gehad nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee, maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is. Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.” Sommige uit die geledere van die skrifkenners het gereageer: “Leermeester, u het dit mooi gestel.” Hulle het dit daarna nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.