Lukas 15:25-32

Lukas 15:25-32 AFR20

“Die oudste seun was in die veld, en toe hy terugkeer en naby die huis kom, hoor hy musiek en 'n gedans. Hy roep toe een van die dienaars en verneem by hom wat aan die gang is. ‘Jou broer het teruggekom,’ het hy hom geantwoord, ‘en jou pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’ Hy het briesend kwaad geword en wou nie ingaan nie, maar sy vader het uitgekom en mooi met hom gepraat. Maar hy het vir sy vader gesê, ‘Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit 'n opdrag van u verontagsaam nie, en vir my het u nooit eers 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende kon feesvier nie. Maar toe hierdie seun van u terugkom, wat u besittings op prostitute uitgemors het, slag u vir hom die vetgemaakte kalf!’ Toe sê hy vir hom, ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Ons moet feesvier en bly wees, want jou broer was dood, en hy het lewendig geword. Hy was verlore, en is weer gevind!’ ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid