LUKAS 15:25-32
LUKAS 15:25-32 Bybel vir almal (ABA)
Die oudste seun was in die veld. Toe hy later naby die huis kom, hoor hy die mense maak musiek en hulle dans. Hy roep toe een van die slawe en vra vir hom wat by die huis gebeur. Die slaaf het gesê: ‘Jou broer is hier, en jou pa is bly hy het jou broer gesond teruggekry. Daarom het hy die kalf geslag wat hy vetgemaak het.’ Toe word die oudste seun baie kwaad en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa het uitgekom en hy het vir die seun gesoebat om in te gaan. Hy het vir sy pa gesê: ‘Luister, Pa, ek werk al so baie jare vir jou en ek was nog altyd gehoorsaam, maar jy het nooit vir my 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar hierdie seun van jou het al jou goed by prostitute uitgemors, en toe hy hier aankom, toe slag jy vir hóm die kalf wat jy vetgemaak het!’ Die pa sê toe vir die oudste seun: ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is joune. Ons móét vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en hy lewe weer, hy was weg en ons het hom weer gekry.’ ”
LUKAS 15:25-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag. Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.
LUKAS 15:25-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’ “Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’ “Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”
LUKAS 15:25-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die oudste seun was in die veld, en toe hy terugkeer en naby die huis kom, hoor hy musiek en 'n gedans. Hy roep toe een van die dienaars en verneem by hom wat aan die gang is. ‘Jou broer het teruggekom,’ het hy hom geantwoord, ‘en jou pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’ Hy het briesend kwaad geword en wou nie ingaan nie, maar sy vader het uitgekom en mooi met hom gepraat. Maar hy het vir sy vader gesê, ‘Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit 'n opdrag van u verontagsaam nie, en vir my het u nooit eers 'n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende kon feesvier nie. Maar toe hierdie seun van u terugkom, wat u besittings op prostitute uitgemors het, slag u vir hom die vetgemaakte kalf!’ Toe sê hy vir hom, ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. Ons moet feesvier en bly wees, want jou broer was dood, en hy het lewendig geword. Hy was verlore, en is weer gevind!’ ”
LUKAS 15:25-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En sy oudste seun was in die veld, en toe hy kom en naby die huis kom, hoor hy musiek en dans. En hy het een van die dienaars geroep en gevra wat hierdie dinge beteken. En hy sê vir hom: Jou broer het gekom; en jou vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom veilig ontvang het. En hy was kwaad en wou nie ingaan nie; daarom het sy vader uitgegaan en hom gesmeek. En hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, hierdie baie jare dien ek jou, en ek het nooit u gebod oortree nie; en tog het jy my nooit 'n bokkie gegee om vrolik te wees met my vriende nie. Maar sodra hierdie seun van u gekom het, wat u lewensmiddele saam met hoere opgeëet het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag. En Hy sê vir hom: Seun, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is joune. Dit was gepas dat ons vrolik en bly sou wees, want hierdie jou broer was dood en het weer lewendig geword; en was verlore, en is gevind.
LUKAS 15:25-32 Die Boodskap (DB)
“Die ouer broer het nie geweet sy broer is terug nie, want hy was buite in die veld. Toe hy naby die huis kom, sien hy dat daar ’n groot partytjie op die plaas aan die gang is. Van ver af kon hy die musiek hoor en al die mense wat feesvier en dans. Hy roep toe een van die werkers en vra: ‘Wat is aan die gang?’ “‘Jou broer is terug!’ antwoord hy. ‘Jou pa is so bly dat hy daardie vetgemaakte kalf geslag het om dit te vier dat jou broer lewend terug is.’ “Maar die oudste broer was so kwaad hieroor dat hy nie eens sy broer wou gaan groet nie. Toe sy pa daarvan hoor, was hy hartseer. Hy het na sy oudste seun toe gestap en vir hom gaan vra om saam met hulle te kom feesvier. “‘Vir wat?’ vra hy. ‘My lewe lank doen ek alles wat Pa wil hê. Nog nie een dag het ek geweier om te doen wat Pa sê nie. Tog het Pa nog nooit vir my ’n partytjie gehou nie. Pa het nog nie eens vir my gesê om ’n paar van my vriende oor te nooi om by my te kom kuier nie. Maar toe daardie ander seun van Pa uit die bloute hier opdaag na hy al Pa se besittings uitgemors het op ’n spul straatvroue en op dronkpartytjies, word die heel beste kalf op die plaas vir hom geslag. Ek kan dit nie glo nie!’ “Toe antwoord die pa: ‘My kind, wat praat jy alles? Jy is dan my eie vlees en bloed. Alles wat ek het, is joune. Maar vandag vier ons fees oor jou broer, want hy was dood en nou lewe hy weer. Jou broer was weg, maar nou is hy terug in ons huis waar hy hoort.’”
LUKAS 15:25-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis, en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan. ‘Jou broer is terug!’ is vir hom gesê. ‘En jou pa het die vetgemaakte kalf geslag. Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.’ “Die ouer broer het hom liederlik vererg en wou nie ingaan nie. Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat, maar hy het geantwoord: ‘Ek het al die jare hard gewerk vir Pa en nooit geweier om enigiets te doen wat Pa my gesê het om te doen nie. En in al die tyd het Pa my nie eers ’n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie. Maar toe hierdie seun van Pa terugkom nadat hy Pa se geld op prostitute gemors het, vier Pa fees en slag die beste kalf wat ons het.’ “Sy pa het vir hom gesê: ‘Kyk, Seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune. Ons moet hierdie gelukkige dag vier. Want jou broer was dood en het teruggekom na die lewe! Hy was verlore, maar nou is hy gevind!’”